Maandag 05 Februarie 2018

Goeie Samaritane dringend nodig


Image result for barmhartige samaritaan


Samaritane en Jode het mekaar vermy, eintlik vyandelik teenoor mekaar gewees.

            In Lukas 10 vertel Jesus van die Jood wat aangeval en langs die pad gelos is om te sterf.

            Twee Jode, eers ‘n priester en toe ‘n Leviet reis daarlangs. Hulle sien die beseerde en besluit om verby te beweeg,

            ‘n Derde reisiger kom aan, ‘n Samaritaan. Toe hy die beseerde sien, het sy hart dadelik uitgegaan na die man... naak, ernstig beseer en bebloed. Die Samaritaan had dadelik medelye.

            Dit het hom nie gepla dat dit ‘n Jood was nie. Wat saak gemaak het was dat die man sou sterf as hy nie gehelp word nie.

            Die Samaritaan behandel die wonde met wyn en olie en verbind die wonde versigtig. Dan help hy die Jood op sy esel. Die Samaritaan stap langsaan tot by ‘n herberg in ‘n dorpie.

            Hy versorg die Jood deur die nag met deernis. Die volgende oggend gee hy aan die Herbergier 2 Denarii – wat genoeg was om die Jood twee weke lank herberg en behandeling te bied, en voeg by: “Sien om na hom en as daar nog koste is sal ek dit betaal wanneer ek weer hier verbykom.”

            Dan sê Jesus aan die man wat hom gevra het: “Wie is my naaste? Gaan heen en doen net so.

            In die tyd waarin ons leef het ons baie Goeie Samaritane nodig. Daar is baie mense langs die pad op pad na die Ewige dood. Hulle verwag dit nie, maar help, ontsmet en verbind.

            Die Goeie Samaritaan het nie vir die Jood gesê: “Luister, ek sal vir jou bid,” en aangestap nie.

            Jesus se terugkeer is op hande, daar is nie meer tyd vir enigiets op hierdie aarde, as dat die Goeie Samaritane uitreik na die diegene  wat hulp nodig het nie.

            Bring die siele in en maak die Getal vol, bid vir genesing en wonderwerke, verbind en ontsmet die wonde.

            As jy niemand kan sien wat hulp nodig het, dan het jy ‘n probleem, jy leef by jou gemeenskap verby.

Vergeet wat jy het, want eintlik het jy niks. Hierdie dispensasie gaan eindig en jy sal niks kan saamneem nie.

            Luister wat sê Jesus nog (en lees alles want dit raak ons elkeen persoonlik):

“Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die Koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.

“Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.

            “Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?

            “En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?

            “En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?

            “En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.

            “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.

            “Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie.

            “Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.

“Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?

“Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.

“En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die Ewige Lewe.” Matt 25:34-46

            As jy nie ‘n hart vol deernis en liefde en medelye het nie, maak jou saak reg met die HERE. Help uit jou rykdom, help uit jou armoede.

            Op Koffiefontein is uitgereik na hulpbehoewende ellendiges. Byna 40 000 liter water is in bottels van Kimberley af gebring om die gemeenskap te dra.

            Intussen is boorgate gesink en meer as tien watertenks is opgerig. Deur dit heen is meer as 400 mense gered en die Herlewing duur voort.

            Daardie Samaritane het ook gehelp met mielies en lusern aan die boere tot in Calvinia se droogte areas.

            Ook op ander Vrystaatse dorpe  het die Goeie Samaritane begin uitreik en siele word gered, genesings en wonderwerke vind plaas. Ons wag nog inligting in, maar wat ons in foonoproepe en e-pos bereik is om van te jubel.

            Die Oordeelsdag horlosie wat deur wetenskaplikes bestuur word, sê die toestand van die wêreld het so versleg dat die horlosie aangeskuif is na 2 minute voor middernag.

            Uit talle dorpe het hulp ingestroom na Calvinia. En volgende is Kaapstad. Mens moet noodwendig betrokke raak. Hoe ons water aan 4 miljoen mense gaan voorsien, weet ons nie, behalwe soos deur Simson se Roepersfontein toe hy sterwend sonder water was. Rigters 15.

            Matthew Hagee sê 98% van die Bybel se profesieë is geskiedenis. Die 2% wat oorbly handel oor die Koms van Jesus en die Groot Verdrukking.

            Dis jou roeping: Wees ‘n Goeie Samaritaan! – Sjibbolet