Maandag 19 Februarie 2018

Waarom rus jy nie... eenkant?


Image result for person resting under a tree


Die menslike liggaam was nooit geskep om sonder rus te werk nie. Ons durf nie die kers aan beide kante brandsteek nie. Hier word nie verwys na ons gewone nagrus nie.

            “En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na 'n verlate plek en rus 'n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie.

“En hulle het met die skuit vertrek na 'n verlate plek in die eensaamheid.” Mark 6:31-32

            En is dit nie inderdaad so dat ons soms so hard werk, dat ook ons nie tyd kry om te eet nie?

            Daar is predikers en ander wat onverpoosd werk en glo dat hulle die hele Suid-Afrika kan red. Dis ‘n illusie.

            As ons eens gered is, is daar geen manier wat die vyand ons terug in sy koninkryk kan kry nie, maar (en luister mooi) hy kan ons so aan bande lê dat ons sy koninkryk nie verdere skade kan aandoen nie.

            Elke siel vir Jesus verryk die Hemel, maar dit word later vir jou onmoontlik om siele te bereik.

            Een van die vyand se suksesvolste maniere is om ons by die grense van fisiese, verstandelike, geestelike en emosionele vermoëns verby te laat beweeg  totdat ons gesondheid knak of ons verloor ons skakeling met Jesus.

            Ons dierbare en liefdevolle HERE het dit ook ondervind. In Sy bedieningstyd was hy toegepak met mense en nogmaals mense. Die fisiese en emosionele uitputting het Hom nie gespaar gebly nie. En dan was daar nog diegene wat Sy werk wou vernietig.

            Dit was by een so ‘n geleentheid dat hy vir Sy dissipels gesê het: “Kom julle self in die eensaamheid na 'n verlate plek en rus 'n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie.”

            Die tyd is veral in ons dae baie kort en ons moet hard werk om die Getal vol te maak vir Jesus se Koms, maar (luister mooi) nie ten koste van ons gesondheid en ewewig nie.

            Gaan van tyd tot tyd eenkant en rus, vars uit, sodat jy met nuwe vuur die werk kan voortsit waarvoor jy geroep is.