Saterdag 03 Februarie 2018

Daar is altyd hoop


Image result for John 1:9


Daar is hoop. Die Bybelse hoop beteken Toekomsfeit. Hierdie hoop is nie soos in “ek wens” nie, maar ‘n hoop wat bestaan uit begeerte+verwagting.

            Pastoor Bronlow North was een van sy tyd se groot predikers. Voor hy een aand in een van Aberdeen se grootste kerke sou preek word ’n briefie aan hom oorhandig. Dit was geskryf deur een van sy metgeselle uit sy onbekeerde dae.

Die briefie het gelei: “Soos jy weet ken ek jou vroeëre geskiedenis. Ek weet alles wat jy in Parys aangevang het. Ek het ’n rekord van jou lewe in Liverpool. Ek weet van jou dade in Manchester. Ek daag jou uit om vanaand op daardie preekstoel te klim.”

By die briefie was ’n afskrif van die inligting wat die persoon tot sy beskikking gehad het. Bronlow North het die preekstoel kalm bestyg.

  Hy begin die diens deur die brief voor te lees. Hy lees al die gruweldade wat die brief opnoem. Toe sê hy: “Alles wat in hierdie brief staan is waar. Daar is nog baie ander dinge waarvan my vroeëre vriend nie eens weet nie.

Ek wil u egter ook vertel van ’n dag, toe ek met al my sondes na Jesus Christus, my Verlosser, toe gegaan het. Ek het Hom vir my hoor sê: ‘Bronlow North, Ek het die skuld en die straf van al jou sondes op My geneem. Gaan in vrede. Jou sondes wat baie was, is vergewe.’

Nou kan ek vir my vriend en vir almal sê: ‘As daar vir ’n sondaar soos ek vergifnis en ’n nuwe lewe was, is daar vir almal hoop.’”

  ’n Mens wat sy toevlug tot Jesus neem, hoef nie sy vroeëre lewe te verdoesel of te verskoon nie. Paulus self  getuig: “Dit is absoluut waar, en ons kan met ons hele hart daarop reken dat Jesus Christus na die wêreld toe gekom het om sondaars te red, al is jy die grootste sondaar van almal.      Maar God was juis vir my so goed sodat Jesus Christus kon wys hoe geduldig Hy is, selfs teenoor my, die ergste sondaar wat daar is. Dit is ’n voorbeeld vir almal wat nog op Hom sal vertrou en so die Ewige Lewe sal ontvang.” 1 Tim.1:15,16

“Die vrug van die regverdige is 'n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys.” Spr 11:30

“Maar as ons ons, sondes bely – Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons, ons sondes en (let op) reinig ons van alle ongeregtigheid.” ! Joh 1:9

Onthou, ons is nie geroep om te verstaan nie, maar om te vertrou... soos in Slegs vertroue, vol vertroue, slegs vertroue op sy Woord...