Wys tans plasings met die etiket geregtigheid; Jesus;Spiritual and Regional; Ewige lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geregtigheid; Jesus;Spiritual and Regional; Ewige lewe. Wys alle plasings

Saterdag 03 Februarie 2018

Ons is die Heiligdom


Image result for 1 Pet 2.5


Is ons ‘n “Geestelike Huis gebou met Lewende boustene?”


“En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis.” 1 Pet 2.5

            Jesus Christus het nie aan die Kruis gesterf sodat ons derduisende kerke moes stig elk met sy eie kamstig suiwer leer nie, die een verskillend van die ander nie.

            Dat daar gemeentes sou wees, ja beslis, maar nie kerkgenootskappe nie... met die gepaardgaande harwar “Hier is die Christus, nee, daar is die Christus” nie.

            Elkeen het sy eie vertolking van wat reg is, netjies gebind in grondwette en ordonnansies en allerlei fatsoenlike name... die grootste verwarring op aarde.

            En daar is haas liefde tussen die spul.

Die liefde is ‘n Koninklike Wet. “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

            Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Matt 5:17

Hoe het Jesus toe die Wet vervul?

Net voor Sy vertrek na die Hemel, vra die dissipels Hom: “Meester, wat is die groot gebod in die wet?

“En Jesus antwoord hom: Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

“Dit is die eerste en groot gebod.

“En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

En dan sê Jesus: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” Matt 22:36-40

Hoe so? Want as jy waarlik liefhet, dan sal jy nooit enige wet oortree nie.

Ons is veronderstel om lewende boustene te wees waarmee God Sy Koninkryk kan bou, ‘n Geestelike Huis, maar sonder sement (Liefde) tussenin sal die spulletjie aanhou intuimel... en steeds nuwe kerke word gestig.

Die Skrif verwys telkemale daana dat ons ander moet liefhê soos onsself.

As jy jou vrou mishandel, hoe lief het jy jouself?As jy die predikant en ander gemeentelede beskinder... hoe lief het jy jouself?

Is dit moontlik om onsself lief te hê?

            Hierdie kan as ‘n meetinstrument beskou word: Hoe lief ek myself het, bepaal hoe lief ek ander het.

            Dit bepaal ook my geestelike stand in Christus.

Liv 19:18 “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.

            Liv 19:34 “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself...”

            Matt 19:19 “Eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

            Matt 22:39 “En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

            Wat ons ook hieruit leer is dat dit belangrik vir ons is om te weet in watter mate ons onsself lief het.

            Jy moet jouself liefhê. Ontlok hierdie woorde ‘n negatiewe reaksie by jou? Klink dit nie selfsugtig en egoïsties nie?

            Om jouself lief te hê beteken nie om selfgesentreerd of opgeblase  te wees nie. Dit beteken om respek vir jouself te hê, om jouself te beskerm, vir jouself om te gee.

            As jy dus nie vir jouself lief is nie, dan sal jy wraakgierig of haatdraend teenoor ander wees. Dit mag nie so wees nie, dan is daar fout met hoe lief jy jouself het. Is jy wraakgierig en haatdraend met jouself? Sommige mense is. Dit is al bewys dat as mens iemand haat, jy, en nie die ander persoon nie, die eintlike lydende party is.

            Mens weerspieël ook jou liefde vir jouself wanneer jy jou vader en moeder eer. Matt 19:19

            Moet mens die ongereddes ook liefhê? Natuurlik! Mark 12:30 “Jy moet die HERE jou God liefhê (Hoe?) uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. Lees dit weer want dis nogal ‘n gewigte saak.

            En strofe 31: “En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.”

            “Hieraan gelyk” beteken “dieselfde”. As ek God moet liefhê met my hele hart, my hele siel, my hele verstand, my hele krag, dan moet ek my naaste ook so liefhê. Die liefde vir God staan gelyk aan die liefde vir myself en my liefde vir ander. Hoekom? Omdat God vir jou en die ander persoon ewe lief is.

            In die lig hiervan, vra weer: Hoe lief het ek myself?

            “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” Kol 3:14. Let op: “Beklee julle met die liefde.” Dis ‘n proses. Hoe lank die proses neem, is hoe lank jy neem om jouself met die liefde te beklee.

            Ongereddes is op pad na die ewige verdoemenis. As iemand nie vir jou en vir my liefgehad het nie, dan was ons ook nog op die verkeerde pad.

            “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die (Koninklike) wet vervul.” Rom 13:8 – Sjibbolet



Maandag 06 November 2017

Die onbreekbare band van die Liefde


Image result for Jes 49:15-16

“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie.” Matt 10:29-30

            Dis byna Kersfees, die tyd van die jaar wanneer ons besonderlik aan God se liefde vir ons herinner word.
Die eerste week van De­sem­ber 1950 het die lid­ma­te van ‘n klein ge­meen­te in Noord-Ierland, tot ak­sie aangespoor. Hulle kerk was in ‘n verwaarloosde toe­stand en Kersfees was net om die draai. Hulle be­sluit om vir Kers­fees hul kerkie skoon te maak en op te knap. Met groot geesdrif spring almal aan die werk.

Twee dae voor Kersfees tref ‘n storm die dorpie en maak hulle handewerk feitlik tot niet. In die muur, voor in die kerk, word die nuwe pleis­tering wat ‘n diep kraak in die muur moes bedek, feitlik wegge­stroop. Die volgende dag, die dag voor Kersfees, bring die gemeentelede hul be­sems, borsels en lappe en pro­beer om die kerkie so goed moontlik reg te kry vir die Oukersaand diens, daardie aand.
Juis daar­die oggend, op pad kerk toe, om self hand by te sit met die gereedmaak, stap die predi­kant by ‘n veiling verby. Vir ‘n klein bedraggie koop hy ‘n pragtige geborduurde, vyf me­ter lange, tafelkleed. Dit sou die kraak in die muur voor in die kerkie mooi bedek en was ook ‘n versiering vir die muur.

By die kerk gekom, sien hy ‘n vreemde, eensame vrou wat met hang skou­ers voor die kerk staan. Hy nooi haar saam met hom in die kerk in en laat haar solank op ‘n bank sit, terwyl hy, wankelend op ‘n leer,  gou die kleed wat hy gekoop het, voor die kraak probeer drapeer.

            Toe hy die kleed oop­vou en laat afhang, kom die vrou met ‘n kreet reg­op.
“Dit is myne!” roep sy uit. “Kyk in die hoek staan my drie voorletters. Dit was ‘n geskenk van my man.” Sy vertel vir die pre­di­kant sy en haar man het in Weenen gewoon. Met die oorlog het hy in ‘n kon­sen­trasiekamp beland. Sy het Engeland toe ge­vlug. Haar man is in die kamp dood, het sy verneem.

Sy het daardie dag na die dor­pie toe gekom om ‘n be­trek­king as goewer­nan­te, by ‘n welgestelde gesin te probeer kry. Iemand anders het die werk gekry. Sy is juis nou op pad terug na haar tuis­dorp toe.

Sy wou die tafelkleed nie  terug neem nie. Die predikant het haar gehelp om op die stasie te kom.
            Die opkoms by dié aand se Oukersaand diens was groot. Na die diens kom ‘n man met die predikant praat. Hy wys na die ta­fel­kleed en sê in trane: “Ek het daar­die tafel­kleed in Weenen vir my vrou gegee. In die oor­log is ons van mekaar geskei. Ek het later verneem sy is in ‘n konsentrasiekamp dood. Ek woon nou hier en ek is so bly ek het na die diens in hierdie kerk toe gekom.

            Die predikant het opgewonde na die man geluister en hom van die vrou vertel. Hulle wou dadelik met haar in aanraking kom, maar die predikant besef toe hy het nie haar adres geneem nie. Hy kon ge­luk­kig die welgestelde gesin se naam onthou. Hulle het haar adres dadelik verstrek.
            Die predikant en die man is sommer nog dieselfde nag na die dorp toe waar die vrou woon. Dit was ‘n vreugdevolle herontmoeting en vir hulle twee die beste Kersfees ooit.

Die man en vrou was albei Chris­tene. Hulle het toegewyde lidmate van daardie ge­meente geword. Die kleed het lank teen die muur bly hang.

Dit laat mens dink aan al die aangenome kinders wat so graag hierdie Kersfees vir die eerste keer saam met hul biologiese ouers aan tafel sal wil sit. Een so ‘n biologiese moeder het juis 34 jaar gelede op Kersdag geboorte geskenk en die baba dogtertjie wat nou hoop dat sy en haar mamma hierdie Kersfees saam sal kan wees. Bid hiervoor asseblief. Ook vir die volgende:

·       Ouers soek na hulle dogter gebore op 13/7/1974 in Johannesburg.
·       ‘n Dogter soek haar pa Edward Ruben Brown, gebore 1935.
·       ‘n Dogter soek haar pa Fanie van Zyl – Moeder was Miekie Jacobs.
·       ‘n Dogter soek haar moeder Jocelyn Fourie (nee Van Zyl)
·       ‘n Dogter soek haar pa Tommy O’Niel
·       ‘n Moeder soek haar seun gebore 7/2/1974
·       Drie susters soek na hulle biologiese vader Neville Whitehead, gebore 10 April 1940

            Die HERE is vir ons intens lief, wie ons ook al is. Dit maak nie saak waar ons onsself bevind of in watter omstandighede ons is nie. God wat ons liefhet weet wie ons is en waar ons, ons bevind en hoe ons lewensomstandighede loop.  God wat uit liefde vir ons sy Seun gestuur het om ons lewens reg te maak, en wat selfs weet hoeveel hare op ons hoof is, kan ons uit enige situasie red as dit aan Hom oorgegee word.

Kersfees herinner ons aan God se liefde, onmeetbaar groot.
“Kan 'n vrou haar eie baba vergeet,
haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie?
Selfs al sou so iets kon gebeur,
EK sal jou nie vergeet nie.
EK het jou naam in my handpalms gegraveer.” – Jes 49:15-16

Dinsdag 23 Mei 2017

Herberg vir ‘n vreemdeling


Image result for Herberg

In die klein Duitse dorpie is die nag koud en die wind begin stormsterkte waai. In hulle huis sit Conrad Cotta sy fluit en speel. Sy vrou Ursula berei aandete. Skielik hoor hulle bo die wind se dreuning 'n soet, maar swak stemmetjie sing: Die jakkelse het na hul gegaan, elke voëltjie na sy nes, maar ek dwaal alleen hjier rond, vir my is daar geen rus.

Oomblikke later is daar 'n klop aan die deur en hulle maak oop. Hulle sien 'n halfverkluimde en armoedige seun staan. Hy vra asseblief ontferming. "Kom in seun," sê Conrad, "ons gee jou kos en slaapplek vir die nag."

Ursula maak dadelik vir hom kos, maar voor hy kan eet, verloor die seun sy bewussyn van moegheid en honger. Hulle help hom, gee hom kos en 'n bed. Hy het vir die egpaar so opreg  voorgekom dat hulle besluit het om hom aan te neem en as hul eie kind groot te maak.

Hy is klater na ‘n klooster waar hy met die Bybel kennis gemaak het. Deur die Bybel te lees ontdek hy die weg na die Wedergeboorte.

Hy word so beïndruk deur wat hy in die Bybel lees, dat hy dit nie vir homself kon hou nie, maar net waar hy kom praat hy daarvan. Veral Rom 5: "Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan..." (vs.1,2).

Dit verwek spanning in die klooster waar hy moet studeer. Maar, min het Conrad en Ursula besef, hierdie eensame sangertjie wat hulle die nag in die hulle huis ingeneem het en versorg het, was niemand minder as Martin Luther, die groot hervormer nie.

            Die voorkoms van 'n saak, die duur van die geringe saak, bevat soms 'n waarde waaroor ons bly sal wees dat ons aandag gegee het. Ons het ons God en Vader nodig om in Jesus, deur die Heilige Gees, vir ons raad te gee as ons dit vra.

"Ek was 'n vreemdeling en julle het My herberg gegee. " Matt 25:35

Sondag 26 Maart 2017

Wat se Jeremia oor 22 April 2017?


Image result for peaceful person in nature


Jeremia sê: “Ag, was my hoof maar water en my oog 'n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my Volk. (Dis darem ‘n bitterlike groot hartseer)
“Ag, het ek in die woestyn maar 'n herberg (gastehuis) vir reisigers gehad! Dan sou ek my volk verlaat en van hulle af wegtrek; want hulle is almal owerspelers, 'n hoop ontroue mense. (Dan kon hy ontslae wees van die Volk en hulle euwels en sou hy net met verbygaande reisigers hoef te werk)
Wat doen die volk dan wat Jeremia so erg ontstel?
“Hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die HERE.
“Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net 'n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery.
“En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery.
“Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die HERE.
“Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die Dogter van my Volk?
“Hulle tong is 'n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne.
“Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie?” Jer. 9:1-9
Daarom: Op 22 April 2017 sal die Volk die HERE God YAWEH vra om hierdie Suid-Afrika te besoek!

Nuutste oor die BFN beplanning
‘n Groep leiers was gister (Donderdag) bymekaar by n inligtingsessie van Angus Buchan oor die “IT'S TIME – Dis Tyd” nasionale gebed wat op 22 April 2017 op n plaas naby Bloemfontein plaasvind. Dit is duidelik dat die omvang van die hele saamtrek so groot is dat dit net deur ons Almagtige God kan gebeur.
Tot op hede is daar al meer as 18 miljoen reaksies in twee weke op sosiale media oor die saamtrek, wat dit seker die meeste maak wat al ooit vir enigiets in Suid- Afrika was... Party negatief maar meeste positief.
Voorspellings toon dat daar baie meer as ‘n miljoen gelowiges bymekaar gaan kom. Daar gaan meer as 350 000 voertuie wees. Meer as 700 toilette is reeds beskikbaar gestel en daar het vandag n persoon onderneem om nog n klomp te gee. Honey Sucker trokke sal omtrent 600 000 liter afval moet wegneem.
Die area waar almal bymekaar kom om te sit is 2km lank en ‘n half km breed.
Al die busse in en om Durban is reeds vol bespreek om mense aan te ry. Daar is reeds ‘n trein wat van Kaapstad af loop net vir die saamtrek.
Van die boere in die omgewing van die saamtrek gaan hul grond beskikbaar maak vir mense om te kamp. Kaartjies kan bespreek word op i-tickets. God is Groot! Ons eer Sy Naam.
·       Let op: Die tyd vir die saamtrek het verander om 12:00nm te begin en 14:00nm af te sluit. Dus moet ons beplan om baie vroeër daar aan te kom. Oom Angus sê dit is om mense die geleentheid te gee om voor donker in die pad te kom terug huis toe.
Alles dui daarop dat dit die grootste geleentheid in die geskiedenis van SA gaan wees. Plek by die saamtrek is daar meer as genoeg. Mense moet asseblief hul eie stoele, sambrele, kos en water bring.