“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie.” Matt 10:29-30
Dis byna Kersfees, die tyd van die jaar wanneer ons besonderlik aan God se liefde vir ons herinner word.
Die eerste week van Desember 1950 het die lidmate van ‘n klein gemeente in Noord-Ierland, tot aksie aangespoor. Hulle kerk was in ‘n verwaarloosde toestand en Kersfees was net om die draai. Hulle besluit om vir Kersfees hul kerkie skoon te maak en op te knap. Met groot geesdrif spring almal aan die werk.
Twee dae voor Kersfees tref ‘n storm die dorpie en maak hulle handewerk feitlik tot niet. In die muur, voor in die kerk, word die nuwe pleistering wat ‘n diep kraak in die muur moes bedek, feitlik weggestroop. Die volgende dag, die dag voor Kersfees, bring die gemeentelede hul besems, borsels en lappe en probeer om die kerkie so goed moontlik reg te kry vir die Oukersaand diens, daardie aand.
Juis daardie oggend, op pad kerk toe, om self hand by te sit met die gereedmaak, stap die predikant by ‘n veiling verby. Vir ‘n klein bedraggie koop hy ‘n pragtige geborduurde, vyf meter lange, tafelkleed. Dit sou die kraak in die muur voor in die kerkie mooi bedek en was ook ‘n versiering vir die muur.
By die kerk gekom, sien hy ‘n vreemde, eensame vrou wat met hang skouers voor die kerk staan. Hy nooi haar saam met hom in die kerk in en laat haar solank op ‘n bank sit, terwyl hy, wankelend op ‘n leer, gou die kleed wat hy gekoop het, voor die kraak probeer drapeer.
Toe hy die kleed oopvou en laat afhang, kom die vrou met ‘n kreet regop.
“Dit is myne!” roep sy uit. “Kyk in die hoek staan my drie voorletters. Dit was ‘n geskenk van my man.” Sy vertel vir die predikant sy en haar man het in Weenen gewoon. Met die oorlog het hy in ‘n konsentrasiekamp beland. Sy het Engeland toe gevlug. Haar man is in die kamp dood, het sy verneem.
Sy het daardie dag na die dorpie toe gekom om ‘n betrekking as goewernante, by ‘n welgestelde gesin te probeer kry. Iemand anders het die werk gekry. Sy is juis nou op pad terug na haar tuisdorp toe.
Sy wou die tafelkleed nie terug neem nie. Die predikant het haar gehelp om op die stasie te kom.
Die opkoms by diĆ© aand se Oukersaand diens was groot. Na die diens kom ‘n man met die predikant praat. Hy wys na die tafelkleed en sĆŖ in trane: “Ek het daardie tafelkleed in Weenen vir my vrou gegee. In die oorlog is ons van mekaar geskei. Ek het later verneem sy is in ‘n konsentrasiekamp dood. Ek woon nou hier en ek is so bly ek het na die diens in hierdie kerk toe gekom.
Die predikant het opgewonde na die man geluister en hom van die vrou vertel. Hulle wou dadelik met haar in aanraking kom, maar die predikant besef toe hy het nie haar adres geneem nie. Hy kon gelukkig die welgestelde gesin se naam onthou. Hulle het haar adres dadelik verstrek.
Die predikant en die man is sommer nog dieselfde nag na die dorp toe waar die vrou woon. Dit was ‘n vreugdevolle herontmoeting en vir hulle twee die beste Kersfees ooit.
Die man en vrou was albei Christene. Hulle het toegewyde lidmate van daardie gemeente geword. Die kleed het lank teen die muur bly hang.
Dit laat mens dink aan al die aangenome kinders wat so graag hierdie Kersfees vir die eerste keer saam met hul biologiese ouers aan tafel sal wil sit. Een so ‘n biologiese moeder het juis 34 jaar gelede op Kersdag geboorte geskenk en die baba dogtertjie wat nou hoop dat sy en haar mamma hierdie Kersfees saam sal kan wees. Bid hiervoor asseblief. Ook vir die volgende:
· Ouers soek na hulle dogter gebore op 13/7/1974 in Johannesburg.
· ‘n Dogter soek haar pa Edward Ruben Brown, gebore 1935.
· ‘n Dogter soek haar pa Fanie van Zyl – Moeder was Miekie Jacobs.
· ‘n Dogter soek haar moeder Jocelyn Fourie (nee Van Zyl)
· ‘n Dogter soek haar pa Tommy O’Niel
· ‘n Moeder soek haar seun gebore 7/2/1974
· Drie susters soek na hulle biologiese vader Neville Whitehead, gebore 10 April 1940
Die HERE is vir ons intens lief, wie ons ook al is. Dit maak nie saak waar ons onsself bevind of in watter omstandighede ons is nie. God wat ons liefhet weet wie ons is en waar ons, ons bevind en hoe ons lewensomstandighede loop. God wat uit liefde vir ons sy Seun gestuur het om ons lewens reg te maak, en wat selfs weet hoeveel hare op ons hoof is, kan ons uit enige situasie red as dit aan Hom oorgegee word.
Kersfees herinner ons aan God se liefde, onmeetbaar groot.
“Kan 'n vrou haar eie baba vergeet,
haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wĆŖreld gebring het nie?
Selfs al sou so iets kon gebeur,
EK sal jou nie vergeet nie.
EK het jou naam in my handpalms gegraveer.” – Jes 49:15-16