Maandag 27 November 2017

Verbly jou....


Image result for Hebr 10:14


Dis binnekort Kersfees, ‘n tyd waarin reg oor die wêreld die Geboorte van Jesus Christus

herdenk word. Die rede waarom Hy gebore is, is reeds in ons Wedergeboorte vervul. Jubel

voor Sy aangesig. Hy is binnekort weer hier om ons te kom haal!




‘Dit is volbring’


‘n Bejaarde vrou stap huiwerig ‘n versekeringsmaatskappy se kantore binne.

By ontvangs haal sy ‘n ou polis uit haar verslete handsak. Sy kom net sê sy kan nie meer die premies bekostig nie.

Die versekeringsman het gou vasgestel die polis is waardevol en baie jare in stand gehou.

Hy vra: "Wat sê u man oor die saak? Dit is tog sy polis. U is net die begunstigde."

"My man? Ag nee meneer, hy is al drie jaar gelede oorlede. Dit is hoekom ek so bitter swaar kry."

Sy het aangehou premies betaal vir 'n polis wat reeds aan haar uitbetaal moes gewees het!

Die polis het nog dieselfde dag uitbetaal en die vrou had genoeg om vir baie lank gerieflik te lewe.

Is ons ook so onkundig? Probeer ons ook nog premies vir ons saligheid betaal? Christus se versoeningsdood het die Ewige Lewe ten volle ons eiendom gemaak.

Ons word nie gered deur wat ons doen nie, maar deur wat Christus klaar vir ons gedoen het. “Dit is volbring.”

Daardie Polis lees: "Deur die een wat offer het Hy die wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak." Hebr 10:14

Hou dus op premies betaal en verbly jou oor jou Hemelse erfenis wat Jesus Christus volkome vir jou verwerf het. Alle premies is ten volle opbetaal en ek en jy as Gelowiges is die Erfgename.