Woensdag 15 November 2017

Ons kan enige situasie omkeer


Paulus wat as Saulus ‘n terroris was, se storie ken meeste van ons teen hierdie tyd. In 1 Kor 15:1-11 vertel Paulus: ”…Christus het vir ons sondes gesterf…en (ek, Paulus) is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is.”1 Kor 15:1-11
Gedurende die Amerikaanse presidentsverkiesing, toe Willliam McKinley kandidaat vir die presidentskap was, het ’n vyandige koerant sy verslaggewer opdrag gegee, om op McKinley se spoor te bly en elke moontlike stukkie negatiewe nuus vir publikasie aan te stuur.
 

William Mckinley was die 25e President van Amerika en
het in sy 2e termyn in ‘n sluipmoordaanval gesterf. Visie
President Theodore Roosevelt het hom opgevolg.

Die koerantman het sy taak van beswaddering met groot doeltreffendheid gedoen. In ‘n stadium het die koerantman in dieselfde trein as McKinley gereis, juis om nie ‘n beweging of  woord wat hy teen McKinley kan gebruik, te mis nie.
McKinley het van die koerantman se taak geweet en alles wat hy al opgedis het geken.
Een bittere koue middag het die verslaggewer in die trein op sy sitplek aan die slaap geraak. Daar was nie verwarming in die reiswa nie en die man het van koue opgekrul op sy sitplek gelê en slaap.
McKinley het verbygekom en dit gesien. Hy gaan staan en trek sy lekker dik jas uit en gooi dit oor die man. Nadat die verslaggewer ’n ruk lank, lekker onder die dik jas gelê en slaap het, word hy wakker.
Beseffende van wat gebeur het, Hy het sonder versuim ’n telegram aan sy koerant gestuur en sy bedanking ingedien. Dit was vir hom onmoontlik om die man wat aan hom vriendskap bewys het, af te kraak.
Dit is hoe die Here Jesus vir Paulus so ’n onvermoeide volgeling van Hom gemaak het. Die gebeurtenis word in Hand by 9:5, 22,8 en 26:15 vertel.
Vol haat op pad Damaskus toe, om die mense van die Weg, soos Jesus se volgelinge genoem is, manne sowel as vroue, geboeid na Jerusalem te bring, ontmoet Jesus hom.
’n Lig het hom skielik van die hemel af omstraal en Paulus val op die grond. ’n Stem sê vir hom: “Saul, Saul, waar­om vervolg jy My?” en toe hy vra: “Wie is U, HEREe?” kom die wonderlike antwoord: “Ek is Jesus wat jy vervolg.”
“En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: HERE, wat wil U hê moet ek doen? En die HERE antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.”
Jesus antwoord Paulus se haat en venyn met liefde. En die besef hiervan het dit Paulus die onvermoeide dienskneg van die HERE gemaak. Dit is hoe ons almal gered word. Ons het sonde gedoen, maar die HERE het ons nie verwerp nie, maar ook vir ons gesterf en ewige lewe gegee.
In ons alledaagse lewe is dit ook ’n strategie wat selde misluk: om vyandskap met vriendskap te beantwoord. “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen…” Gal.6:9,10
Die groot les is hier om nooit kwaad met kwaad te vergeld nie. Jy kan die lelikste situasie omkeer deur kwaad met goed te vergeld.