Wys tans plasings met die etiket geregtigheid; Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geregtigheid; Jesus. Wys alle plasings

Vrydag 16 Maart 2018

Dis Tyd: Gehoorsaam die Groot Opdrag


Image result for 1 Kor 3:9


Gelowiges, dis Tyd: Neem stelling in voor die hekke van die hel en herlei die skares in die rigting van die Nuwe Jerusalem — die Tyd is min.

“As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe -- en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

“Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.

“En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

“Maar as jy die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered.” Eseg 3:18-21

“Want ons is medewerkers van God;

die akker van God,

die gebou van God is julle.” 1 Kor 3:9


            “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.” Joh 4:2

            “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.

            “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. En julle het die salwing van die Heilige en weet alles.” 1 John 2:18-20

            “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir Ewig.” 1 Joh 2:17

            “Verkondig die Woord; (let op) hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering (hoekom?) want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

“Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van 'n evangelis; vervul jou bediening.” 2 Tim 4:2-5

            “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees (hoekom?), omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” 1 Joh 3:2-3

            Dit is die laaste uur. Meeste mense vrees die laaste oomblikke van hulle lewe. Hulle wil selfs nie daaraan dink nie. Ander pleeg selfmoord en ander besdwyk aan hulle harte van vrees.  Luk 21:26

Die enigste genesing vir daardie dodelike vrees, is die Wedergeboorte en ‘n groeiende verhouding met Jesus Christus.

            “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.” Hebr 2:14-15

            Gelowiges is vry van die vrees vir die dood. “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” 1 Joh 4:18-19

            “Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” 2 Tim 1:7

            Ons is in die laaste dispensasie van Tyd. Niemand kan Tyd terugdraai nie. Wat verby is verby... elke sekond, elke minuut, elke uur.

            Dit is die laaste uur. Wie ongered is moet dit besef, maar ook diegene wat geestelike nie gefokus is nie. Dit is die laaste uur. Ons moet wakker wees.

            “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.”Rom 13:11-12

            En dan die belangrike 14e strofe: “...Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” – Sjibbolet

Woensdag 15 November 2017

Ons kan enige situasie omkeer


Paulus wat as Saulus ‘n terroris was, se storie ken meeste van ons teen hierdie tyd. In 1 Kor 15:1-11 vertel Paulus: ”…Christus het vir ons sondes gesterf…en (ek, Paulus) is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is.”1 Kor 15:1-11
Gedurende die Amerikaanse presidentsverkiesing, toe Willliam McKinley kandidaat vir die presidentskap was, het ’n vyandige koerant sy verslaggewer opdrag gegee, om op McKinley se spoor te bly en elke moontlike stukkie negatiewe nuus vir publikasie aan te stuur.
 

William Mckinley was die 25e President van Amerika en
het in sy 2e termyn in ‘n sluipmoordaanval gesterf. Visie
President Theodore Roosevelt het hom opgevolg.

Die koerantman het sy taak van beswaddering met groot doeltreffendheid gedoen. In ‘n stadium het die koerantman in dieselfde trein as McKinley gereis, juis om nie ‘n beweging of  woord wat hy teen McKinley kan gebruik, te mis nie.
McKinley het van die koerantman se taak geweet en alles wat hy al opgedis het geken.
Een bittere koue middag het die verslaggewer in die trein op sy sitplek aan die slaap geraak. Daar was nie verwarming in die reiswa nie en die man het van koue opgekrul op sy sitplek gelê en slaap.
McKinley het verbygekom en dit gesien. Hy gaan staan en trek sy lekker dik jas uit en gooi dit oor die man. Nadat die verslaggewer ’n ruk lank, lekker onder die dik jas gelê en slaap het, word hy wakker.
Beseffende van wat gebeur het, Hy het sonder versuim ’n telegram aan sy koerant gestuur en sy bedanking ingedien. Dit was vir hom onmoontlik om die man wat aan hom vriendskap bewys het, af te kraak.
Dit is hoe die Here Jesus vir Paulus so ’n onvermoeide volgeling van Hom gemaak het. Die gebeurtenis word in Hand by 9:5, 22,8 en 26:15 vertel.
Vol haat op pad Damaskus toe, om die mense van die Weg, soos Jesus se volgelinge genoem is, manne sowel as vroue, geboeid na Jerusalem te bring, ontmoet Jesus hom.
’n Lig het hom skielik van die hemel af omstraal en Paulus val op die grond. ’n Stem sê vir hom: “Saul, Saul, waar­om vervolg jy My?” en toe hy vra: “Wie is U, HEREe?” kom die wonderlike antwoord: “Ek is Jesus wat jy vervolg.”
“En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: HERE, wat wil U hê moet ek doen? En die HERE antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.”
Jesus antwoord Paulus se haat en venyn met liefde. En die besef hiervan het dit Paulus die onvermoeide dienskneg van die HERE gemaak. Dit is hoe ons almal gered word. Ons het sonde gedoen, maar die HERE het ons nie verwerp nie, maar ook vir ons gesterf en ewige lewe gegee.
In ons alledaagse lewe is dit ook ’n strategie wat selde misluk: om vyandskap met vriendskap te beantwoord. “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen…” Gal.6:9,10
Die groot les is hier om nooit kwaad met kwaad te vergeld nie. Jy kan die lelikste situasie omkeer deur kwaad met goed te vergeld.

Ons is geroep om te Vertrou


Image result for Rom 4:20

Abraham kon in sy hoë ouderdom, sy eie liggaam so goed as dood  beskou het, maar hy was nie daardeur ontmoedig nie, omdat hy nie op homself nie, maar op die Almagtige vertrou het.
Sien, ons is  nie geroep om te verstaan nie, maar om te vertrou. Abraham is ryk, dit gaan goed met hom, vooruitstrewend. Dan God se onverwagse opdrag: Trek met jou alles deur die woestyn na ‘n plek wat Ek jou sal aanwys.
Abraham kon gesê het, maar dit kan nie van die HERE af kom nie... en ek met al my mense, kinders, babas, diere groot en klein, is goed versorg, dis mos ‘n risiko om met almal en alles deur ‘n woestyn te trek en ek weet nie eers waarheen nie.
Maar hy het vertrou. Trek jy op die oomblik deur ‘n woestyn en weet nie eers waarheen nie?
God se groot beloftes aan Abraham het hom nie laat wankel nie, maar het hom onder die geweldige gewig, van die hemelse seëninge, so onwrikbaar laat vasstaan; ook het hy nie in die geloof verswak nie, maar kragtiger geglo, en geestelik sterker geword, namate daar meer moeilikhede oor sy pad gekom het.
Hy het God in sy Algenoegsaamheid altyd meer en meer verheerlik. Die Grieks stel dit: hy was ten volle oortuig dat Hy, wat beloof het, nie bloot net daartoe in staat was nie, maar, soos die letterlike betekenis lui, oorvloedig, , daartoe in staat was, om dit, uit sy eindelose oorskot, alles na te kom.
Hy is die God van grenselose voorrade. Die enigste beperking is by ons. Ons vrae, ons denke, ons gebede, ons glo nie genoeg nie; ons verwagtinge skiet ver te kort.
Daar is geen perk gestel aan wat ons kan vra en kan verwag van onse HERE, JAWEH, die Almagtige nie. En vir sy seëninge word hier ‘n enkel maatstaf genoem, en die maatstaf is: “Volgens die krag wat in ons werk.”  Ef 3:20
Iemand het dit so gestel: Klim op na die skatkamer van seëninge, met die leer wat van Goddelike beloftes gemaak is. Ontsluit met die beloftesleutel, geloof, die deur van die rykdom, die genade en die guns van God.
St. Augustinus het gesê: “Geloof is die aanvaarding van wat ons nie sien nie, en die loon van hier­die geloof is: die aanskouing van wat ons geglo het.”
Staan jou dan ook vandag op en sê: “HERE, vandag wil ek deur U beloftes verder uitkyk oor u Hemelryk se seëninge.”
“Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die beloftes van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.” Rom 4:20-21

Wees ‘n Medewerker


“Ek versoek julle dan dringend…: Stry saam met my deur vir my te bid…” Rom 15: 30
            Moet nooit vir iemand sê jy bid vir hom of haar en jy doen dit nie. Hulle sal jou nie gevra het om vir hulle in te tree, as dit nie noodsaaklik was nie.
            ‘n Skare het op die breekwatermuur by Cornwall, Engeland vergader om magteloos toe te kyk hoe die stormagtige see ‘n seun meesleur.


Stormsee by Cornwall

’n Man het skielik deur die skare gebeur. Hy gee een kyk en gryp ‘n tou wat opgerol daar naby lê. Een punt knoop hy om sy bors onder sy arms vas en terwyl hy uitroep: “Hou die tou vas en trek ons in!” werp hy homself in die stormsee en swem met sterk hale deur die deinings na die seun toe.
Hy bereik die seun en gryp hom in sy sterk arms vas. Hy draai om en waai skreeuend: Trek!” Niks gebeur nie.
Niemand het die tou se punt vasgehou nie en die tou het ook in die water beland en was nou buite bereik van enigeen.
Met skuldgevoelens aanskou die mense hoe die drenkeling en sy redder deur die woeste see meegesleur word, die Ewigheid in.
            Iemand verkondig die Evangelie, ‘n leraar of sendeling, evangelis of vrywillige werker, maar voorbidders vir hom of haar is nodig om die drenkelinge te red. Die persoon wat die verkondiging van die Woord doen, se krag word aangevul deur sy voorbidders. Dis sy gebedsvuur tuis terwyl hy wie weet waar ook al deur die Gees gestuur word.
Deur vir ‘n draer van die Evangelie voorbidding te doen, kry ons deel in sy arbeid. Oorwinninge wat hy behaal, siele wat gered word, die uitbreiding van die HERE se Koninkryk, word werker en voorbidders se voordeel.
            1 Thes 5:25 is ‘n kort strofe. Vyf woorde: “Broers, bid vir ons.”
In sy volgende brief aan die gemeente van Tessalonisense sê Paulus waarvoor hulle moet bid: “Verder, broers, bid vir ons, sodat die Woord van die HERE vinnig mag versprei en oral oorwin soos by julle. Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie” 2 Thes.3:1
En vir die Hebreërs vra die apostel, dalk Paulus, vir voorbidding vir sy persoonlike vrymoedigheid in sy werk vir die HERE: “Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is.” Heb.13:18
Word ‘n medewerker (Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. 1 Kor 3:9) in die HERE se Koninkryk. Bid vir diegene wat die Evangelie verkondig. Gebed is ‘n vrug van die Heilige Gees. Sonder die Heilige Gees se werking in ons hart is ons biddeloos. Herlewing vereis ‘n toename in gelowiges se gebedslewe. – Sjibbolet

Woensdag 25 Oktober 2017

Vrymoedigheid


In die glorieryke dae van die Romeinse Ryk het die keiser 'n triomftog deur die hoofstraat van Rome gelei.
Sterk soldate moes aan weerskante van die straat, die jubelende skare van die keiser af weghou. 'n Platform is langs die straat opgerig, vanwaar die keiserlike gesin sonder ongerief die optog kon dophou.
Net toe die optog regoor die keiserlike platform kom, spring die keiser se sesjarige seuntjie op, storm die platform af en nael tussen die mense deur straat toe.



'n Soldaat kry hom uiteindelik beet. "Waarheen gaan jy? Dis die keiser. Bly weg daar!" skreeu hy vir die seuntjie.
"Dis nie! Dis my pa! Los my!" skreeu die seuntjie vir hom terug, ruk homself los en hardloop verder.
Die soldate en die skare het respek en vrees vir die man op die keiserlike koets gehad.
Die keiser se seuntjie het egter vrymoedigheid en liefde vir sy pa gehad. Hy weet dit is die keiser, maar vir hom is dit sy pa.
            Die Heilige Gees, die Gees van aanneming, wek in die hart van die mens wat in Jesus Christus as sy Verlosser glo, hierdie besondere vrymoedigheid.
“Maar aan almal wat Hom (Christus) aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Joh 1:12
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.” 1 Joh 3:1
“En omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van Sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘'Abba!’ Dit beteken Vader!" Gal 4:6
Vrymoedigheid, ja, let op: “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God....En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra.” 1 Joh 5:1,14
'n Kind vra, en 'n vader gee. “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan die wat dit van Hom vra?” Matt 7:9-11
As enigiemand of enigiets jou wil verhinder om na jou Vader te gaan, dan weet jy wat om te doen... skreeu en ruk los!

Donderdag 19 Oktober 2017

Die Arend se arende


Image result for arend


Die Arend se arende

Aquila non captat muscas – 'n Arend vang nie vlieë nie


Daar is meer as 25 verwysings na arend in die Bybel.  Talle van die Bybelskrywers was gefassineer deur arende. Onder inspirasie van die Gees van God het hulle aspekte uit die lewe van die arend geneem en vir ons geestelike beginsels daarmee geleer. 
Soms word God met 'n arend vergelyk: Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die HERE, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ander god by hom nie (Deut. 32:11-12)  Dawid skryf in Psalm 103:5: (Die HERE) … wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk, of, soos dit in die Afrikaanse vertaling van 1933-53 staan: wat my jeug weer nut maak soos dié van 'n arend.
            Daar is verskillende aspekte uit die lewe van die arend wat ons op die Christen se lewe kan toepas.
Een basiese fout wat mense deur die geskiedenis gemaak het, is om te probeer om aan elke stukke detail in 'n gelykenis 'n bepaalde geestelike toepassing te gee.  Jesus self het dit nooit gedoen nie. 
Christene is nie arende nie, maar daar is verskillende dinge uit die lewe van die arend wat ons kan leer oor die geestelike lewe en die stryd van elke dag.   Die Woord self focus op 'n aantal aspekte en eienskappe van die arend om ons sekere geestelike beginsels te leer.
            Daar is krag by God. God word nie moeg nie. Om op die HERE te wag gee nuwe energie, nuwe krag. God laat nooit die werk van sy hande vaar nie – en jy is die werk van sy hande. Die profeet Jesaja skryf:
            Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: "Die HERE sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby"? 
Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie?  Die HERE is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie. Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.Hy gee die vermoeides krag.
Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die HERE vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (Jes. 40: 27-31).
Wanneer daar in vers 31 staan "nuwe krag", beteken dit letterlik nuwe energie? Die nuwe krag kom vir dié wat op die HERE wag. Hoe dikwels soek ons die krag in nuwe kursusse, nuwe tegnieke, nuwe selfhelptegnieke en probeer dit iewers uit ons binneste opdiep.
Dit is nie daar nie en die bietjie wat daar is, is nie opgewasse vir die uitdagings van die lewe nie.  God voorsien krag. God voorsien krag vir dié wat op Hom wag.   Hy maak hulle so sterk soos die kragtige vlerke wat die arend oplig en laat opstyg tot o die grootste storm.
            Die Christen weet vas en seker: Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit enduit sal voer en dit sal voleindig opdie dag wanneer Christus Jesus kom (Fil. 1:6).
Die HERE maak die werk klaar wat Hy in jou begin het.  Die HERE raak nie moeg en afgemat nie.  Sy krag raak nie op nie. En vir dié wat hulle krag by God soek, vir hulle is daar genoeg om weer te "hardloop".
            God is nie klaar met my as ek moeg is of as die lewe vol probleme is of ek ni emeer weet hoe vorentoe nie. Dawid skryf in Ps 138:8 – Die HERE sal vi rmy alles goed laat afloop. Aan u liefde, HERE, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.
            Arende is in baie opsigte anders as ander voëls. Arende het unieke eienskappe wat ander voëls nie met hulle deel nie. Daar is eienskappe wat hulle met alle ander voëls deel. Arende lyk soos ander voëls, maar by nadere ondersoek sien 'n mens duidelike verskille.
            Net so is die Christen vanuit sy Wedergeboorte anders as die wêreld. Ja Christene is steeds mense, maar Wedergeboorte en bekering maak die Christen anders as ander mense. 
Christene ontvang 'n goddelike natuur, want die Heilige Gees woon in hulle. Hierdie nuwe natuur maak dat hulle anders begin dink en optree as wêreld. As Christen moet jy dit weet, diep in jou gees moet jy dit weet en vanuit daardie wete leef:  God het my nuutgemaak, ek is nie meer dieselfde nie, ek is anders as die wêreld: Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom
(2 Kor. 5:17).
            Arende hou van storms.   Hulle gebruik dit om hoër te vlieg.  Hulle vlieg fisies hoër as ander voëls, en dit is veral in storms dat hulle die windstrome gebruik om baie hoog op te gaan.  Ander voëls soek skuiling wanneer die storms kom; arende soek die hoër hoogtes.  Arende kan tot hoogtes van drie tot vyf kilometre bo die grond vlieg.   Hulle het 'n besonder dik verebedekking wat maak dat hulle hoër hoogtes waar dit kouer is, makliker kan hanteer.  Daar is arendspesies wat tot 1 250 vere op elke vlerk het.  Die vlerke van die arend is aërodinamies beter ontwikkel as dié van ander voëls.  Dit stel hulle in staat om hoër te vlieg.
            So is die lewe van die Christen.   Die Christen leef in die hoogtes saam met God.  Dit is op die bergtop waar Moses en Elia God ontmoet het.   Dit was opdie bergtop waar Jesus van gedagte verander het en Moses en Elia ontmoet het, en waar God die Vader met Hom gepraat het. 
As Christene sit ons saam met Christus in die hemele (Ef. 2:6).  Daar, vanuit ons troonposisie in die hoogte, reageer ons saam met Christus.   Die Christen se lewe is 'n lewe in die hoogtes saam met God.   God he tons vir die hoogtes gemaak.   Ons het geestelike vlerke wat ons tot op die hoogste hoogtes kan laat opstyg.
            Christene word nie deur storms geìntimideer nie.   Al wat die Christen doen, is wat die arend doen.   Hy gebruik die groter krag van die lugstrome in die storms om hoër te vlieg, bo die storm uit te vlieg.
Arende vrees nie storms nie, hulle geniet die storms.  Hulle is gemaak vir storms, toegerus daarvoor.   So is Christene:  toegerus met die krag van God, gevul met die volheid van God en met die Heilige Gees wat in on swoon.  So het God Christene toegerus vir die storms wat dikwels op ons toesak. Wanneer die krisisse kom, moenie vlug en wegkruip nie, vlieg hoër, nader aan God self.
            Arende klap nie hulle vlerke om hoër te vlieg nie.  Hulle gebruik net die krag van die windstrome en sweef daarop.  Indien hulle aanhoudend hulle vlerke sou klap om te probeer hoër vlieg om uit die geweld van die storm te kom, sal hulle in die moeilikheid beland.
So moet Christene leer om in die Gees te leef en te wandel.   Om te gaan waar die Gees van God ons lei.   Ons moet in die windstorme van God se krag inkom en leer om in Hom te rus en saam met Hom te beweeg.  Die lewe in God is nie 'n gefladder en gespook nie, dit is rus in die HERE.
            Arende vlieg alleen.  Hoe hoër jy vlieg, hoe minder ander voëls is daar.   Arende is daarom dikwels alleen in die hoogtes. Aasvoëls kom gewoonlik in trope voor, kalkoene en hoenders ook.   Toegewyde Christene staan dikwels alleen.
            Christene wat in die hoogtes saam met God leef, vind dat hulle dikwels alleen is.   Ons sal alleen wees in ons stryd teen sonde, onreg, armoede, ensovoorts.   Ons sal alleen wees in ons passie vir God en 'n heilige lewe.
            Hoogte gee 'n strategiese uitsig.  Hoe hoër ons kan opgaan, hoe groter en beter is ons uitsig, oorsig en insig.   Hoogte is 'n belangrike element in oorlogvoering.   Die persoon wat die hoogste posisie besit, het 'n strategiese voordeel in die geveg.  So het Christene wat in die hoogte met God beweeg, 'n strategiese voordeel in die geestelike tyd van elke dag.
            Arende het skerper visie as ander voëls.   Arende vlieg dikwels op hoogtes van 3 000 tot 5 000 meter bo die grond.  Van daardie hoogte af kan hy byvoorbeeld maklik 'n haas of ander prooi op die grond raaksien.   Omdat die arend so hoog vlieg, het hy skerper sig en fokus as ander voëls nodig.   In sy duikvlug kan die arend teen tot 300 km per uur op sy prooi afpyl.   Op daardie hoogte het die arend groter utsig, kan hy verder sien.
            Hoewel arende besonder goed kan sien in die dag, is hulle nagsig besonder swak, selfs swakker as dié van 'n mens.  Laat ons daaruit leer dat Christene vir die dag gemaak is, om in die lig – God se lig – te lewe en dat ons uit die duisternis en donker plekke moet wegbly.   Dit is een ding om God se lig in donker plekke te dra, maar iets total anders om ons ontspanning en lewe in die donker plekke te probeer vind.
            Arende eet vars kos.  Arende is roofvoëls, maar hulle eet nooit ou aas nie, hoewel daar enkele spesies is wat dit tog doen.  Arende vlieg daagliks uit en soek vars kos in die vorm van lewendige diere.
            Daar is vir ons as Christene 'n les hierin.  God het vir die volk Israel elke oggend vars manna gegee, genoeg vir die spesifieke dag.   Hyself is ons daaglikse manna en gee vir ons verborge manna om te eet (Op. 2:17).  As Christene moet ons oor ons diet waak.  Moenie enige ding "eet" wat voorkom nie.   Voed jouself met God se manna.   Lees jou Bybel meer as die koerant en lees dit voor jy die koerant lees.
            Arende baken vir hulle 'n grondgebied af.  Arende baken vir hulle 'n geografiese gebied af, gewoonlik ongeveer 35 vierkante kilometer.  Hierdie gebied verdedig hulle teen indringers.  Dit is die gebied waaroor hulle uit die lugruim heers en waaruit hulle leef.
            Vir die Christen gee God ook 'n leefterrein, 'n geestelike grondgebied: die huwelik, die gesin, ons werksomgewing, 'n plek binne die gemeente en die gemeenskap, 'n geestelike werksterrein.  God maak ons daarvoor verantwoordelik.   Dit is ons verantwoordelikheid om dit te verdedig, daaroor te heers.  Dit is ook die terrein waaruit ons ons daaglikse brood sal verdien en verkry.   Daar is nie iemand anders wat dit vir ons sal doen nie.
Daar is te veel Christene wat nie verantwoordelikheid neem vir die geestelike grondgebied wat God aan hulle toevertrou het nie.   God gee vir niemand 'n onbeperkte gebied om te verdedig of in besit te neem nie.  God meet vir ons elkeen 'n eie deel uit.
            Moenie gierig wees en wat aan ander behoort, in besit neem nie.   Jy kan dit nie beheer nie en dit sal tot jou nadeel wees.  God gee jou nie die reg daaroor nie en ook nie die krag daarvoor nie.
            Arende bestee baie tyd aan hulle vlerke.  Hulle gebruik baie tyd om hulle vlerke skoon te maak en uit te stryk, en die hakies van die vere uit te stryk en te belyn.   Enige stukkie vullis of aanpaksel op die vlerk maak 'n groot verskil op hoë hoogtes.  So moet die Christen leer om baie tyd daaraan te bestee om seker maak hy staan in 'n skoon en rein verhouding met God.  Daar moet geen bewuste onbelyde sonde in ons wees nie. 
Ons moet tyd maak om ons lewe in lyn met God se wil te bring en dan binne sy wil leef.   Die tyd wat die arend op die grond deurbring, maak hom gereed om sy tyd in die hoogtes daarbo met groot veiligheid aan te pak.  Vir die Christen is dit net so.
            Arende kan direk in die son in vlieg.  Arende het 'n tweede oogvlies, iets wat ander voëls nie het nie.   Hierdie vlies beskerm hulle oë as die prooi sou spartel en krap.   Maar dit werk ook amper soos 'n "donkerbril".  Wanneer die arend vir 'n aanvaller moet vlug, kan hy direk in die son in vlieg.   Die tweede vlies wat hy dan oor sy oë kan trek, maak dat hy direk in die son kan kyk sonder dat dit hom verblind.  Indien 'n groep aasvoëls hom aanval, vlieg hy direk in die son in, want dan verblind die son sy aanvallers en kan hulle nie sien waar hy is nie.   Arende veg nie, hulle vlieg in die son in.
            Watter les vir die Christen.  Wanneer daar aanvalle op ons gemaak word, moet ons in die son in vlieg.  Ons moet ons fokus op Christus bou, na Hom toe vlug, ons beskerming by Hom vind.  Daar in sy teenwoordigheid is ons veilig, daar is beskerming, daar kan die viand ons nie bykom nie.  Christen, moenie veg nie, vlieg in die son in, gaan direk na God toe.  Hy is jou skuiling, vesting, 'n sterk toring, 'n hoë rots.
            Soort soek soort.  Arende meng nie met ander voëls nie. Hulle kies hulle maats baie noukeurig.  Arende het 'n interessante paringsproses.  Die wyfie sal 'n takkie neem, hoog in die lug opvlieg en dit los.  Die mannetjie moet dan afduik en die takkie vang.  'n Proses begin daarna  waar die wyfie telkens 'n al swaarder tak optel en elke keer van 'n kleiner hoogte af die tak laat val, en die mannetjie moet dit vang voordat dit op die grond val.  Indien die mannetjie dit nie regkry nie, verloor sy belangstelling in hom. 
Heel laaste sal sy 'n groot tak optel, redelik laag vlieg en die tak weer laat val.  Indien die mannetjie die toets slaag, gee sy haar goedkeuring.  Hulle vlieg dan hoog in die lug op, haak hulle kloue in mekaar en bollemakiesie-tuimel in die lug.  Dit is 'n besondere skouspel.  Na hierdie ritueel skei hulle nooit.  Hulle bly bymekaar tot die dood hulle skei.
            Sal ons as Christene nie weer die basiese lesse oor die huwelik leer nie?  Vroue, moenie sommer die eerste die beste man vat wat verbykom nie.  Soek vir jou 'n lewensmaat, iemand wat vir leeftyd by jou kan bly, iemand wat werklik 'n pa vir jou kinders kan wees en 'n man wat jou kan versorg en jou as vrou tot jou volle reg kan laat kom.  Christene, die huwelik is bedoel vir een man en een vrou, tot die dood ons skei.
            Arende het 'n unieke manier om hulle kuikens te leer vlieg. Arende bou hulle neste op hoë kranse op die hoë berge. Hulle is lief vir die hoogste kranse waar geen ondier hulle of hulle kleintjies kan bedreig nie.
Ons lees in Job 39:27: Is dit op jou bevel dat 'n arend hoog opvlieg en sy nes in die hoogste gaan bou? Arende dra soms tot twee ton hout en takke aan om so 'n nest te bou.  Eers takke, dan doringtakke en daarna voer hulle die nes uit met blare, vere en ander sagte material.   As die kuikens uitbroei, het hulle 'n sagte nes.  Maar na 'n tyd, wanneer die kuikens groot genoeg is om te begin vlieg, word die sagte material uit die nes verwyder totdat net die doringtakke oorbly.
            Omdat die dorings die kuikens steek, dwing dit hulle uit die nes uit. Die mannetjie-arend stoot dan die kuiken van die rotswand af en soos die kuiken val, begin hy sy vlerke klap en fladder. Die mannetjie duik dan onder die kuiken in, vang hom op sy vlerke en neem hom terug na die rotswand toe.
            Die proses word herhaal totdat die kuiken kan vlieg.   Die groot arende doen allerhande akrobatiese toertjies in die lug om hulle vreugde te toon wanneer die kleintjie begin om te vlieg.
            Soos ons as Christene geestelik groei, leer die HERE ons en neem Hy ons deur geestelike prosesse.  Sommige is vir ons moeilik om te verstaan, net so min as wat die arendkuiken aanvanklik kan verstaan hoekom sy pa hom oor die afgrond stoot.   Maar die arendkuiken kan nooit vinniger val as wat die arend-pa kan duik om die kuiken weer op sy vlerke te vang nie.  So is dit met ons Hemelse Vader ook.  Lees Deuteronomium 32:10-12 :
Hy het sy volk in die woestyn gevind, in 'n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu.  Die HERE het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog.  Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke at hy oopsprei, soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die HERE, net Hy alleen, sy volk gelei, daar was nie 'n ander god by Hom nie.
            Ons moet God vertrou wanneer daar tye kom dat ons nie verstaan wat Hy doen en hoekom Hy dit nie doen nie. God is altyd groter as ons omstandighede en is altyd besig om ons te leer, toe te rus en sterker te maak vir die werk en die pad wat voorlê.
            Net so min as wat die mannetjie-arend hom steur aan die geskreeu van die kuiken wanneer hy oor die afgrond afval, net so min steur God Hom aan ons geskreeu en selfbejammering wanneer ons nie verstaan waarmee Hy besig is nie. God weet wat Hy doen en waarom Hy dit doen.  Ons kan hom daarmee vertrou.
            Arende het 'n "tweede" lewe. Arende kan tot 120 jaar oud word.  Wanneer arende ongeveer sestig tot sewentig jaar oud is, word hulle vere te dik en te swaar, die naels van hulle kloue en hulle snawels word te lank, en daarom kan hulle nie meer so hoog vlieg nie, en nie meer hulle prooi so maklik vang en eet nie.
Op daardie punt gaan die arend na 'n waterstroom op 'n afgesonderde plek hoog in die berge.  Hy begin al sy vere uitpluk tot niks oorbly nie.  Hy trek al sy kloue of naels uit en kap sy snawel teen 'n rots totdat dit ook afbreek.  Vir baie dae sit die arend daar by die stroom.
            Ander arende sal soms hoog in die lug verbyvlieg en stukkies kos vir hom afgooi. Maar die arend bly in die water sit.  Soos hy in die water sit, kyk hy vir lang tye na die son, totdat daar trane uit sy oë kom en die oliesakkies by sy oë weer begin om olie te produseer.
Stadig begin nuwe vere, nuwe kloue en 'n nuwe snawel uitgroei. Na 'n maand tot veertig dae is die arend weer gereed om te vlieg. Hy duik van die rots af en met nuwe energie, nuwe vere, nuwe kloue, gaan hy weer die hoë hoogtes in.  Dit is 'n vernuwingsproses.
            Daar kom 'n tyd dat ons moeg raak, dat die lewe in ons net op is, dat ons nie meer krag oorhet nie en nie kans sien vir die pad vorentoe nie.
            Dit is die tyd dat ons eenkant, in afsondering, moet gaan sit, ons program moet stop, ons moet losmaak van alles wat verby is en na die "son" moet kyk.  Dit is die tyd dat ons voor God ons Vader moet gaan sit en wag.   Rus en wag en luister.  Totdat Hy ons kom ontmoet en ons met nuwe krag vul, ons lewe weer nuut maak soos dié van 'n arend (Ps. 103:5).
            Evangelis Pat Robinson vertel hoe die HERE hom op 80 aangeraak en nuut gemaak het. Hy was die stigter van TBN (Trinity Broadcasting Network) wat die Evangelie dag en wêreldwyd uitsaai.
            Mag ons uit die lewe van die arend leer hoe om in die hoogtes saam met God te leef. Dit is die ander pad.

Woensdag 01 April 2015

Hoekom kerk toe gaan?


 Image result for church


Ons moet met verwagting en blydskap uitsien na geestelike byeenkomste.

Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die HERE die seën, die Lewe tot in Ewigheid! Ps 133:1-3

Ons ontvang geestelike voeding (1 Pet 2:1-3) en bemoediging (Hebr 10:25-26), ons bou ons geloof (Rom 10:17), ons betoon Liefde aan God (Joh 14:23), ons word gereinig (Joh 6:63; Rom 12:1-3)

So woon ons ook huisdienste en bidure by, elke keer met verwagting. Daar stig ons mekaar, leer ons van mekaar, bid ons vir mekaar, dra ons mekaar se laste. So word ons Dissipels (1 Kor 12:14-27; 1 Kor 14:26; Hand 2:38-47; Efes 4:12)