Abraham kon in sy hoë ouderdom, sy eie liggaam so goed as dood beskou het, maar hy was nie daardeur ontmoedig nie, omdat hy nie op homself nie, maar op die Almagtige vertrou het.
Sien, ons is nie geroep om te verstaan nie, maar om te vertrou. Abraham is ryk, dit gaan goed met hom, vooruitstrewend. Dan God se onverwagse opdrag: Trek met jou alles deur die woestyn na ‘n plek wat Ek jou sal aanwys.
Abraham kon gesê het, maar dit kan nie van die HERE af kom nie... en ek met al my mense, kinders, babas, diere groot en klein, is goed versorg, dis mos ‘n risiko om met almal en alles deur ‘n woestyn te trek en ek weet nie eers waarheen nie.
Maar hy het vertrou. Trek jy op die oomblik deur ‘n woestyn en weet nie eers waarheen nie?
God se groot beloftes aan Abraham het hom nie laat wankel nie, maar het hom onder die geweldige gewig, van die hemelse seëninge, so onwrikbaar laat vasstaan; ook het hy nie in die geloof verswak nie, maar kragtiger geglo, en geestelik sterker geword, namate daar meer moeilikhede oor sy pad gekom het.
Hy het God in sy Algenoegsaamheid altyd meer en meer verheerlik. Die Grieks stel dit: hy was ten volle oortuig dat Hy, wat beloof het, nie bloot net daartoe in staat was nie, maar, soos die letterlike betekenis lui, oorvloedig, , daartoe in staat was, om dit, uit sy eindelose oorskot, alles na te kom.
Hy is die God van grenselose voorrade. Die enigste beperking is by ons. Ons vrae, ons denke, ons gebede, ons glo nie genoeg nie; ons verwagtinge skiet ver te kort.
Daar is geen perk gestel aan wat ons kan vra en kan verwag van onse HERE, JAWEH, die Almagtige nie. En vir sy seëninge word hier ‘n enkel maatstaf genoem, en die maatstaf is: “Volgens die krag wat in ons werk.” Ef 3:20
Iemand het dit so gestel: Klim op na die skatkamer van seëninge, met die leer wat van Goddelike beloftes gemaak is. Ontsluit met die beloftesleutel, geloof, die deur van die rykdom, die genade en die guns van God.
St. Augustinus het gesê: “Geloof is die aanvaarding van wat ons nie sien nie, en die loon van hierdie geloof is: die aanskouing van wat ons geglo het.”
Staan jou dan ook vandag op en sê: “HERE, vandag wil ek deur U beloftes verder uitkyk oor u Hemelryk se seëninge.”
“Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die beloftes van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.” Rom 4:20-21