Woensdag 29 November 2017

Hemelse missiele


Image result for dawid en goliat



En jy, wat tel jy op?   

Dawid het Goliat met sy vyf klippies aangedurf? 1 Sam 17
Die Filistyne en die Israeliete was in oorlog.  Goliat, was op die toneel. Hy het die Israeliete uitgedaag om hulle beste vegter te stuur om teen hom te veg. Maar hulle was te bang. Toe die jong Dawid daar aankom om vir sy vegtende broers kos te bring, was hy geskok oor die Israeliete se vrees. Hy het sommer dadelik Goliat se uitdaging tot 'n tweegeveg aanvaar.
Dawid is die beste wapenrusting aangebied om Goliat aan te durf. Maar hy het nee gesê. Sy slingervel en vyf klippies was genoeg. Nee, dit was eintlik veels te min! Hoe durf mens 'n reus aan met 'n handvol klippies? Jy't mos nie 'n kans nie.
Dawid het egter geweet God is by hom. Hy was daardie dag 'n kryger vir God! Sy God se eer was op die spel. As die res van Israel dan te slap was om vir God op te staan – nie hy nie! Daarom het Dawid dit gewaag om sy vyf klippies in God se magtige hand te sit.
God sou egter daardie dag die geveg moes veg. Hyself moes die oorwinning oor daardie reus gee. En Hy het ook! Dis hoe God werk.
Nee, Hy neem nie elke keer al die krisisse uit die weg nie. Hy kyk dikwels of sy kinders bereid is om Hom midde in hulle krisisse te vertrou. Dan eer God hulle geloof deur hulle op fantastiese maniere te help... al het hulle net vyf klein klippies wanneer hulle reuse moet aandurf.

God openbaar Homself in die Bybel as die Een wat deur dik en dun by sy kinders staan. Die een psalm na die ander getuig van God se hulp aan ons in pikdonker ure. Wanneer die nood dreig, is Hy die enigste Een wie se hulp jy moet opsoek. Wanneer die stormwinde waai, is net Hy jou anker. Ook wanneer jy aanmeld vir die geveg teen die reuse rondom jou, is God jou enigste Aanvoerder.
Word 'n moderne geloofsvegter!
Staan asseblief 'n slag op vir God! Sy Naam word vandag goedkoop en bespotlik gemaak. Ook daar in jou eie omgewing daag mense sy gesag openlik uit terwyl kerklikes rondstaan met monde vol verleë tande.
Wie sal God se Naam eer in 'n tyd soos hierdie as die reuse rondom die kerk begin stelling inneem? Wie sal in die voorste loopgrawe diens doen vir die Allerhoogste? Dalk jy?
En as jou gemeente bedreig word, of jou huis, of jy, of jou kinders, juis soos wat nou die geval is?
Miskien dink jy nou by jouself: "Wat kan ek vir God doen? Ek is veels te swak." Sê wie? Hoor mooi, God sê dit hoegenaamd nie oor jou nie! Al het jy net vyf spreekwoordelike klippies tot jou beskikking, dan is dit dodelike hemelse missiele as jy dit gelowig in God se hand plaas.
Jy kan 'n verskil maak. Nee, jy is die lewende verskil! Jy staan in die pad van die reuse met jou geloofsklippies. As 'n jong Dawid 'n ganse volk se geskiedenis kon verander met net vyf klippies en 'n hart vol geloof, dan kan jy minstens ook 'n paar sentimeter dapper volstaan en 'n meter of twee se nuwe grondgebied in God se Naam verower!
Toe tel Dawid vyf klippies op... En jy, wat tel jy op?