Woensdag 15 November 2017

Wees ‘n Medewerker


“Ek versoek julle dan dringend…: Stry saam met my deur vir my te bid…” Rom 15: 30
            Moet nooit vir iemand sê jy bid vir hom of haar en jy doen dit nie. Hulle sal jou nie gevra het om vir hulle in te tree, as dit nie noodsaaklik was nie.
            ‘n Skare het op die breekwatermuur by Cornwall, Engeland vergader om magteloos toe te kyk hoe die stormagtige see ‘n seun meesleur.


Stormsee by Cornwall

’n Man het skielik deur die skare gebeur. Hy gee een kyk en gryp ‘n tou wat opgerol daar naby lê. Een punt knoop hy om sy bors onder sy arms vas en terwyl hy uitroep: “Hou die tou vas en trek ons in!” werp hy homself in die stormsee en swem met sterk hale deur die deinings na die seun toe.
Hy bereik die seun en gryp hom in sy sterk arms vas. Hy draai om en waai skreeuend: Trek!” Niks gebeur nie.
Niemand het die tou se punt vasgehou nie en die tou het ook in die water beland en was nou buite bereik van enigeen.
Met skuldgevoelens aanskou die mense hoe die drenkeling en sy redder deur die woeste see meegesleur word, die Ewigheid in.
            Iemand verkondig die Evangelie, ‘n leraar of sendeling, evangelis of vrywillige werker, maar voorbidders vir hom of haar is nodig om die drenkelinge te red. Die persoon wat die verkondiging van die Woord doen, se krag word aangevul deur sy voorbidders. Dis sy gebedsvuur tuis terwyl hy wie weet waar ook al deur die Gees gestuur word.
Deur vir ‘n draer van die Evangelie voorbidding te doen, kry ons deel in sy arbeid. Oorwinninge wat hy behaal, siele wat gered word, die uitbreiding van die HERE se Koninkryk, word werker en voorbidders se voordeel.
            1 Thes 5:25 is ‘n kort strofe. Vyf woorde: “Broers, bid vir ons.”
In sy volgende brief aan die gemeente van Tessalonisense sê Paulus waarvoor hulle moet bid: “Verder, broers, bid vir ons, sodat die Woord van die HERE vinnig mag versprei en oral oorwin soos by julle. Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie” 2 Thes.3:1
En vir die Hebreërs vra die apostel, dalk Paulus, vir voorbidding vir sy persoonlike vrymoedigheid in sy werk vir die HERE: “Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is.” Heb.13:18
Word ‘n medewerker (Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. 1 Kor 3:9) in die HERE se Koninkryk. Bid vir diegene wat die Evangelie verkondig. Gebed is ‘n vrug van die Heilige Gees. Sonder die Heilige Gees se werking in ons hart is ons biddeloos. Herlewing vereis ‘n toename in gelowiges se gebedslewe. – Sjibbolet