Maandag 20 November 2017

“Gee julle dan nie om nie…”


Image result for Joh 3:16

Nie een van ons gaan lewend hier uitkom nie. Niemand kan vir altyd lewe nie, nie op hierdie aarde nie.
            Die volgende ware verhaal word vertel: In die dae van die Goot Depressie was 'n man van Missouri, John Griffith, die kontroleur van die groot ophaalbrug oor die Mississippirivier, skryf D. James Kennedy in, Is It Nothing to You?
Die brug moes keer op keer opgehaal word sodat groot skepe verby kom kom, en dan weer neergelaat word sodat treine daaroor kon beweeg.

Een somerdag in 1937 wou John Griffith sy agjarige seuntjie, Greg, meer oor sy pa se werk leer. Hy neem hom saam werk toe, sodat hy die groot verkeer en die werking van die ophaalbrug kan sien.
Ná die oggendverkeer oor die brug, het John die brug opgehaal, sodat skepe met die rivier op en af kon vaar. Greg het met die middagete vol belangstelling op die waarnemingsdek by sy pa gesit en eet. Die tyd het vinnig verby geglip.
Skielik skrik John vir die gefluit van 'n aankomende trein. Hy kyk op sy horlosie en sien dis werklik al 1.07nm. en dit is die Memphis Express, met 400 passasiers aanboord, wat aangestorm kom en die brug is nog opgehaal. Hy spring van die waarnemingsdek af en hardloop beheertoring toe, om die brug betyds te laat sak.
Hy kyk vinnig af om te sien of daar nie dalk 'n boot in die pad is nie. Hy sien 'n gesig wat sy hart in sy keel laat ruk van skrik.
Greg het van die waarnemingsdek afgegly, en in die massiewe ratte van die brug, bietjie laer af, beland. Sy linkerbeen sit vas tussen die twee groot ratte, wat die brug beheer.
John snak na asem. Hy dink aan 'n plan om sy kind betyds uit die ratte, wat nou in werking gestel moet word, te red. Hy weet daar is geen uitweg nie. Óf die trein met sy 400 passasiers moet in die rivier beland, óf sy seun moet tussen die ratte verguis word.
Die naderende trein fluit weer. Hy hoor die geklik van die treinwiele. Hy laat sak sy kop en druk die hefboom vorentoe. Die massiewe brug sak in sy plek in en die vinnige trein jaag oor die brug verby.
Met traanbedekte gesig kyk John op na die trein. Hy sien die passasiers agter die treinvensters. Kennedy beskryf die vrolike gees op die trein: "Sakemannn het rustig hul koerant sit en lees, deftige geklede vroue het in die eetwa oor koffie sit en kuier, kinders het roomys geniet en gespeel.
“Niemand het na die beheerkamer of die bloedbesmeerde ratkas gekyk nie. In verwronge pyn het John Griffith na die staaltrein uitgeroep: ‘Ek het my seun vir julle geoffer. Gee julle nie om nie. Die trein se wiele het verby geknars en niemand die pa se woorde gehoor nie.’”
God het Sy Seun uit liefde vir die wêreld gegee, om in die wrede ratte van die straf op sonde, verguis te word. Paulus begin sy Galasiërbrief met hierdie herinnering: "...die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het... en so die wil van God ons Vader volbring het." Gal 1:4
Maar, soos die Memphis Express jaag die wêreld vrolik verby en dink nie aan die prys, wat God en Sy Seun, Jesus Christus, betaal het om ons van die verdoemenis te red nie.
Kom ons bedink weer die Evangelie en open ons harte vir die Heilige Gees om die waarheid en betekenis in ons harte wakker te maak, en ons ons weer aan God kan toewy. Wat het dit God gekos om my te red en vir my die Ewige Lewe te gee? Joh 3:16
Soos John Griffith het God ook sy Seun geoffer… Gee julle dan nie om nie…