Wys tans plasings met die etiket Gebede dra groot krag. Godsdiens. Profetiese beloftes Spiritual and Regional. Afrikaans. Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gebede dra groot krag. Godsdiens. Profetiese beloftes Spiritual and Regional. Afrikaans. Jesus. Wys alle plasings

Saterdag 26 Mei 2018

Kom te alle tye jou beloftes na!


Image result for Prediker 5:3-4

‘n Belofte staan vas


Jesus Christus is die enigste persoon wat ‘n Testament geskryf het en uit die dode opgestaan het om sy Testament in vervulling te laat gaan.

            Jy laat self eendag ‘n testament vol beloftes na. Elke belofte sal uitgevoer word.

            Deur die loop van ons lewe maak ons ook beloftes. As ons woord ons eer is, dan sal ons dit uitvoer.

            Daar was al mense wat geld en hulp vir die uitdra van die Evangelie belowe het, en dit nooit uitgevoer het.

            Sommige het agterna gesê hulle het te gou gepraat, hulle het hulself vergis.

            “As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.” Pred 5:3-4

Strofe 5 sê jy mag nie jou woord breek en sê dat jy jouself vergis het nie. Jy sal God se toorn laat ontvlam.

Tydens berading kom dit ook op die lappe want meeste beraders, veral pastorale beraders, het die gawe van onderskeiding,

Sir William Napier het, soos hy soms gedoen het, weer  een aand in sy Londense buurt gaan stap. Hy kom af op ’n meisietjie wat bitterlik staan en huil. Sy goedige geaardheid reageer dadelik, en hy gaan sit op sy hurke by haar om te hoor wat die moeilikheid is.

Stukkie vir stukkie hoor hy die storie. Haar ouers is baie arm. Sy is gestuur om ‘n emmer melk te gaan koop. Sy het gestruikel en geval en al die melk is op die grond uitgestort.

Daar is nie geld vir ander melk nie. Sir William staan op, streel oor haar koppie en vee haar trane met sy eie spierwit sakdoek af.

“Moenie huil nie, kindjie. Hier gaan koop vir jou ’n ander emmertjie melk.” ’n Blye glimlaggie breek deur. Hy steek sy hand in sy sak om sy beursie uit te haal. Sy gesig vul met pyn. Hy het nie sy beursie by hom nie!

Verleë sê hy: “Ag, kindjie, ek het nie geld by my nie. Maar môreaand, dieselfde tyd, kry ons twee mekaar hier. Ek bring vir jou geld vir genoeg melk. Sê vir jou mamma en pappa.”

Tuis kom sy vrou hom met ’n breë glimlag tegemoet. In haar hand het sy ’n pragtige vergulde uitnodigingskaartjie. Baie lank al wag Sir William vir ’n uitnodiging na só ’n onthaal. Dit sal sy politieke loopbaan sterk bevoordeel.

Opgewonde neem hy die kaartjie en lees dit vinnig deur. Dit is vir die volgende aand en dit is dieselfde tyd wat hy beloof het om die meisietjie te ontmoet.

Tot sy vrou se verbasing skud hy sy kop. “Nee, ek kan nie gaan nie. Ek het reeds ’n afspraak.” Hy vertel haar van die meisietjie.

Sir William het die gulde geleentheid van die hand gewys, om sy belofte aan ’n klein, arm meisietjie na te kom.

Maar sê nou, die meisietjie het by haarself gedink: daardie ryk, belangrike man sal tog nie kom nie, en sy het nie vir die afspraak opgedaag nie?

Hoeveel sou sy nie verloor het nie, en watter teleurstelling sou dit nie vir die belangrike man gewees het nie!

Mens mag nie ‘n belofte maak en dit nie nakom nie, veral nie aan ‘n kind nie.

Omdat God ons liefhet en ons jammer kry, begeer Hy groot gawes vir ons. Hy belowe dit. In Jesus vervul Hy sy beloftes. Beloftes is die kanale waarlangs God sy gawes na ons toe laat vloei.

Paulus skryf, “Jesus Christus …is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God.” 2 Kor.1:18,19,20. Onkunde oor God se beloftes in sy Woord, en traagheid om Hom te glo, beroof ons van seëninge. Verstaan jy nou wat “vertrou” beteken?

Onthou jy nog: “Slegs vertroue, vol vertroue, slegs vertroue op Sy woord...” “En sonder geloof (vertroue) is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” Hebr 11:6

En as twyfel in jou pad kom staan, kan jy niks van die HERE ontvang nie. Jak 1:6. Verwerp twyfel in die naam van Jesus Christus. Kry dit uit jou lewe uit.

En elke oggend kan jy opstaan en sê: “HERE, dankie vir U belofte wat sê dat U goedheid en guns, my in hierdie dag volg.” – Sjibbolet

Maandag 20 November 2017

“Gee julle dan nie om nie…”


Image result for Joh 3:16

Nie een van ons gaan lewend hier uitkom nie. Niemand kan vir altyd lewe nie, nie op hierdie aarde nie.
            Die volgende ware verhaal word vertel: In die dae van die Goot Depressie was 'n man van Missouri, John Griffith, die kontroleur van die groot ophaalbrug oor die Mississippirivier, skryf D. James Kennedy in, Is It Nothing to You?
Die brug moes keer op keer opgehaal word sodat groot skepe verby kom kom, en dan weer neergelaat word sodat treine daaroor kon beweeg.

Een somerdag in 1937 wou John Griffith sy agjarige seuntjie, Greg, meer oor sy pa se werk leer. Hy neem hom saam werk toe, sodat hy die groot verkeer en die werking van die ophaalbrug kan sien.
Ná die oggendverkeer oor die brug, het John die brug opgehaal, sodat skepe met die rivier op en af kon vaar. Greg het met die middagete vol belangstelling op die waarnemingsdek by sy pa gesit en eet. Die tyd het vinnig verby geglip.
Skielik skrik John vir die gefluit van 'n aankomende trein. Hy kyk op sy horlosie en sien dis werklik al 1.07nm. en dit is die Memphis Express, met 400 passasiers aanboord, wat aangestorm kom en die brug is nog opgehaal. Hy spring van die waarnemingsdek af en hardloop beheertoring toe, om die brug betyds te laat sak.
Hy kyk vinnig af om te sien of daar nie dalk 'n boot in die pad is nie. Hy sien 'n gesig wat sy hart in sy keel laat ruk van skrik.
Greg het van die waarnemingsdek afgegly, en in die massiewe ratte van die brug, bietjie laer af, beland. Sy linkerbeen sit vas tussen die twee groot ratte, wat die brug beheer.
John snak na asem. Hy dink aan 'n plan om sy kind betyds uit die ratte, wat nou in werking gestel moet word, te red. Hy weet daar is geen uitweg nie. Óf die trein met sy 400 passasiers moet in die rivier beland, óf sy seun moet tussen die ratte verguis word.
Die naderende trein fluit weer. Hy hoor die geklik van die treinwiele. Hy laat sak sy kop en druk die hefboom vorentoe. Die massiewe brug sak in sy plek in en die vinnige trein jaag oor die brug verby.
Met traanbedekte gesig kyk John op na die trein. Hy sien die passasiers agter die treinvensters. Kennedy beskryf die vrolike gees op die trein: "Sakemannn het rustig hul koerant sit en lees, deftige geklede vroue het in die eetwa oor koffie sit en kuier, kinders het roomys geniet en gespeel.
“Niemand het na die beheerkamer of die bloedbesmeerde ratkas gekyk nie. In verwronge pyn het John Griffith na die staaltrein uitgeroep: ‘Ek het my seun vir julle geoffer. Gee julle nie om nie. Die trein se wiele het verby geknars en niemand die pa se woorde gehoor nie.’”
God het Sy Seun uit liefde vir die wêreld gegee, om in die wrede ratte van die straf op sonde, verguis te word. Paulus begin sy Galasiërbrief met hierdie herinnering: "...die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het... en so die wil van God ons Vader volbring het." Gal 1:4
Maar, soos die Memphis Express jaag die wêreld vrolik verby en dink nie aan die prys, wat God en Sy Seun, Jesus Christus, betaal het om ons van die verdoemenis te red nie.
Kom ons bedink weer die Evangelie en open ons harte vir die Heilige Gees om die waarheid en betekenis in ons harte wakker te maak, en ons ons weer aan God kan toewy. Wat het dit God gekos om my te red en vir my die Ewige Lewe te gee? Joh 3:16
Soos John Griffith het God ook sy Seun geoffer… Gee julle dan nie om nie…

Donderdag 30 April 2015

Is jy op God se weg?


Image result for jesus images


Bereken ook die Einde...

“Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” Spr 16:25

Die strofe sê eintlik: "Moet niks begin, sonder om ook die einde te oorweeg nie."

Daar is ‘n weg. Dit lyk reg. Hoeveel keer was mens nie al op die langpad of ‘n vreemde stad en die weg lyk vir jou reg, maar eintlik was jy reeds verdwaald.

Die mensdom word dikwels gedryf deur blinde selfbedrog of onkunde. Daar is altyd ‘n onsekerheid tussen reg en verkeerd omdat standaarde bepaal word sonder om dit aan God se standaarde te meet.

En die Wedergeborene, is hy op die regte pad? Die Gelowige het die geleentheid om ‘n redelike bepaling tussen reg en verkeerd te maak. Die weg lyk vir jou reg, maar het jy al bepaal of dit God se weg vir jou is?

Die Skrif lees dat as mens nie op die regte weg is nie, kan dit na jou dood toe lei. Daar is mense wat verslaaf is aan filosofie, ook bekend as sogenaamde wysbegeerte, en ‘n sterk saak uit te maak het dat dit die regte weg is. Is dit?

Ander dink dat ‘n stelsel van moraliteit, kodes en waardes, die weg is en lei selfs hulle kinders daarop. Omdat sulke beginsels waarheid bevat, klink hierdie weg dalk uitnemend, net soos die weg van gereelde kerkbywoning, tiendes gee, die armes help en ‘n string ander goeie dade. Is dit die Goddelike weg?

Hierdie menslike weë en ook ander, klink en lyk goed... maar die einde daarvan lewer bittere ongelukkigheid op soos aanhoudende kompetisie, botsings, konflik, selfs oorlog, egskeidings en die uiteindelike dood.

Min Shaw het die lied Wasted Years altyd so pragtig gesin. Die refrein lei:
                     
Wasted years wasted years oh how foolish,
As you walk all in darkness and fears,
Turn around, turn around God is calling,
He's calling you from a life of wasted years.

Jesus sê: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.

“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

“Maar die huurling en hy wat nie 'n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar.

“En die huurling vlug, omdat hy 'n huurling is en niks vir die skape omgee nie.

“Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.

“Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.” Joh 10:9-15

Bid vir asseblief ‘n omvangryke Herlewing en ‘n magtige uitstorting van die Heilige Gees in Suid-Afrika. —  Sjibbolet 

Sondag 25 Januarie 2015

Jy en ek is Erfgename ...





1 Kor. 1:17-24: "Jesus Christus, die Seun van God ...is die 'ja' van God, die 'ja' op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop 'Amen' sê" (vs. 19,20).

Die Nuwe Testament is presies wat dit genoem word, ‘n Testament… Jesus se Testament. “Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.” Gal 4:7

Soos enige ander Testament, is die Nuwe Testament ook vol beloftes van wat ek en jy geërf het. Let op, daar is ook voorwaardes wat nagekom moet word voordat mens kan erf.

Dit is tot ons skade as ons nie God se beloftes in sy Woord ken nie. As ons die Bybel nie genoeg lees vir God om vir ons beloftes vir ons situasie te gee nie. Dis soos wanneer ‘n prokureur jou laat weet dat jy ‘n plaas geërf het, maar jy gaan nooit om die plaas op te eis nie. So kan dit dus nooit jou plaas word nie.

In die Ou testament is daar profetiese beloftes waarvan sommige steeds besig is om in vervulling te gaan. Dr. Everel Storms van Ontario skryf in Contact Magazine:  Die Bybel bevat 8 810 beloftes. Hy het dit geklassifiseer: 7 487 beloftes is deur God aan mense gemaak, 991 is beloftes van mens tot mens. 290 beloftes is deur 'n mens aan God gemaak. Engele het beloftes gemaak, meesal in Lukas.

Die duiwel het 9 beloftes aan mense gemaak. Bv. een aan Eva in die Tuin: "...die dag as julle van daardie boom eet... sal julle soos God wees..." (Gen.3:4). Tot haar bittere skade het sy uitgevind 'n mens kan nie Satan glo nie. Een van Satan se ander beloftes was aan Jesus: "...die duiwel...wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld...'Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee...as U maar net voor my buig en my aanbid'" (Mat.4:6). Gelukkig vir ons het Jesus die duiwel goed geken en eerder God se Woord gehoorsaam. Jesus antwoord: "Daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien" (Mat.4:8).

Gehoorsaamheid aan God het vir Jesus uitgeloop op die kruisdood, maar dit het God verheerlik, ons verlos en vir Jesus na die opstanding ewige heerlikheid en eer in die Hemel gebring. Dr. Storms skryf verder dat 2 beloftes deur 'n bose gees gemaak is en 2 beloftes het God die Vader aan God die Seun gemaak. In die boek Titus is geen belofte nie. Aan die ander kant bevat Jesaja, Jeremia en Esegiël meer as 1 000 beloftes elk.

Lees Ps 37 en waardeer al die beloftes daarin.

Ons maak ook beloftes en daaroor sê die HERE:  “As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie. Laat jou mond nie toe om op jou liggaam 'n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was 'n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?” Pred 5:3-5

Mens staan by jou woord, al gebeur wat ook al, want jy mag nie jou woord breek of sê dit was ‘n vergissing nie.

Die HERE is ‘n waarmaker van sy Woord. Hy hou by sy Woord. En ons: Het ons ‘n woord van eer!