Wys tans plasings met die etiket beloftes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket beloftes. Wys alle plasings

Saterdag 16 Junie 2018

Vaders. Julle moet hierdie hartseer stil


Image result for Father and kid hugging



Vadersdag is sommer net nog ‘n dag, maar dit plaas die fokus op vaders. Vir baie aangenome kinders is dit ‘n treurige dag. Hulle soek hulle vaders. In SA, maar ook oral oor die wêreld kom die weeklaag: “Waar is my Pa?” Dis soms hartverskeurend.

            Terselfdertyd soek halfbroers en halfsusters na mekaar. Inderdaad, bloed is dikker as water. Daar is ook ouers wat tans na hulle kinders soek. Die HERE maak die getal vol voor sy Wederkoms. Help waar jy kan, werk saam.

            Die “gees en die krag van Elía, beweeg oor die aarde heen om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders...” voordat die dag van die HERE kom, die groot, verskriklike dag.”  Mal 4:5-6

Carin vertel: Ek het in 1992 na my biologiese moeder begin soek. Jare later laat weet CMR my, my moeder is reeds in 1999 nie meer hier nie. Na drie weke se trane, het die HERE my een oggend gewys dat daar ‘n ouma is. Ek besef toe, dat die hele familie nie uitgesterf kan wees nie.

          Ek het ‘n lys gemaak van al die mense in Port Elizabeth met my ma se van en begin bel. Met die sewende oproep toe praat ek met my ouma. Sy was verheug om van my te hoor. Sy’t verduidelik daar was nie destyds geld om my groot te maak nie.

          Ek en my man en een seun het dadelik gaan kuier en daar het ek my pa se naam gehoor.

Dit het 44 jaar geduur, maar uiteindelik is ek en my pa verenig – nadat ek destyds as pasgeborene aangeneem is. My pa het vaderskap ontken, tot vier jaar later in Februarie 1970, toe red die HERE sy siel.

Die volgende oggend in sy kantoor was daar ‘n hoorbare stem: ‘Ek hou jou verantwoordelik vir jou verlore dogter se sieleheil, nie die aanneemouers nie, want mens mag nie jou verpligtinge op ander afskuif nie.”

My pa het met my ma en haar ouers gaan vrede maak en aan my oupa al sy koste betaal wat hy aan my ma se swangerskap en die geboorte bestee het. Hy het met my ook gaan regmaak en sy het hom ook vergewe. Toe het hy saam met my ma na my begin soek.

Ek het my mamma nooit gesien nie. Sy wag vir my in die Hemel.

Ek het gedurigdeur op plekke op die plaas denkbeeldige gesprekke met my biologiese ouers gevoer. Ek het selfs as kind hulle nooit verwyt vir wat ook al gebeur het nie. Ek wou net weet, waarom kan ek nie by hulle wees nie? Waarom was ek weggegee?

Ek het gereeld saam met huiswerkers op die plaas om die pappotte en vure gesit en my lot betreur dat ek nie by my eie ouers is nie.

Ek baie goed grootgeword. My aanneemouers was baie lief vir my, maar iets het geskort.

Na ek die familie ontmoet het, het die soeke na my pa begin.

Ek het my sat gebel, later nie meer geweet hoe nie, want ek het net ‘n naam gehad, en so baie mense het dieselfde naam.

Een keer toe ons met vakansie in Hartenbos was, het ek die HERE gevra: Hoe lank nog voordat ek my pa sal kry... en drie seevoëls het by my verby gevlieg en ek het geweet, nog drie jaar.

Die volgende jaar op Hartenbos het twee seevoëls verby gevlieg.

Desember 2010 het ek ‘n diep geestelike ou oom op ons dorp gevra: “Oom, wat kan ek nog doen om my pa op te spoor? Ek het sy naam, maar kry geen spoor van hom nie.”

Die oom het geantwoord: “Hou op met soek, die HERE gaan jou pa op die regte tyd na jou toe stuur.”

Ek het niks van profesieë en sulke goed af geweet nie, maar wat die oom gesê het, het oneindig sin gemaak.

Dit was eintlik eenvoudige woorde, maar my geloof in God, het my laat besef, dat hierdie wyse woorde was.

Sy woorde: “Hou op met soek, die HERE gaan jou pa op die regte tyd na jou toe stuur, ” het sterk impak op my gemaak. Ek het dit net so aanvaar as ‘n boodskap van die HERE af.

Net daarna het ek gaan bid: “HERE, ek is moeg gesoek, ek gee oor. Ek weet nie meer hoe nie. Kan my pa nie maar net na my toe aangestap kom nie?”

Die gebed was egter die spreekwoordelike laaste strooi – om my volle vertroue op God te plaas.

Van my kindsbeen af het ek na my biologiese ouers verlang. By tye was ek baie hartseer. Ek het my hartseer nooit met iemand gedeel nie.

 Drie weke na hierdie gebed, sien ek ‘n ou oom na my toe aangestap kom terwyl ek in my kantoor sit.

Toe die ou oom by my kom en ek sy trane en hartseer sien en hy af buk na my en deur sy trane vra: “Is jou naam Carin”, toe het my hele wese hier binne my uitgeroep: “HERE, hier is hy nou! Dis my pa! My pa het gekom!”

Ek het doodstil agter my lessenaar bly sit byna versteen. Ek kon nie praat nie, ek het net geknik.

Toe sê hy die mooiste woorde wat ek ooit in my hele lewe gehoor het: “Ek is jou pa.”

Die volgende oomblik was ek in sy arms.

So deur die snikke heen het ek aan hom gesê: “Pa, ek het julle nooit verwyt vir wat ook al gebeur het nie.”

Ek het gevoel hoe my pa se rou snikke deur sy liggaam skeur, ‘n groot man, baie groter as ek, wat huil soos ‘n kind. Ek hoor hy snik: “Ag HERE Jesus, hoe lank het ek nie na haar gesoek nie.”

My blydskap was oorweldigend toe ek hoor my pa het ook na my gesoek. Deur die jare het ek by kere gewonder of hy my sou aanvaar as ek skielik eendag voor hom sou staan en vir hom sou sê: “Pa, ek is jou kind.”

Ons is nou volwaardig pa en kind en kind en pa, lief vir mekaar en onafskeidbaar, soos dit hoort. Ons seën mekaar, besiel mekaar. Glorie Halleluja.

Vier-en-veertig jaar was ‘n baie lang tyd, maar dit was God se tyd. Ek bly die HERE ewig dankbaar.

Ek het nooit besef dat beide my biologiese ouers na my ook gesoek het nie. Na my ma in 1999 Huis toe is, het my pa alleen die soeke voortgesit.

Hy het op ‘n dag die familie gebel en hulle het hom van my besoek aan hulle vertel en gesê waar ek woon... net 160km uitmekaar, al vir jare.

Die volgende oggend het hy die pad gevat na my toe en my in my kantoor verras.

Patricia King, die bekende Amerikaanse Evangelis, het geen kennis van my pa se probleme en my bestaan gedra nie. Hy het haar bloot gevra om vir hom in gebed in te tree. Hy was ook al radeloos van al die gesoek na my.

Kort voor my pa my gevind het, het hy ‘n skrywe van Patricia King ontvang:


“Dear Johann,

“Last night at our Tuesday Night House Fellowship, the Lord gave me an exciting prophetic vision. This morning He told me to deliver it to you!

“I saw a vision of butterflies being released out of Heaven. Thousands of them. They were so beautiful - so free! The Lord says that it is a time of new beginnings for you. Even as a butterfly comes forth from a cocoon into a new state of being, into new freedom, new beauty, new presentation, so also will you!

“The Lord says, "Do not call to mind the former things or ponder the things of the past. Behold, I will do something new, now it will spring forth; will you be aware of it.

“The wind of the Spirit will delicately blow upon you and new fragrances of His grace will be released in and through your life.

“This is a season of new beginnings for you. A season of reward for those who have diligently sought the Lord. The things that held you back in the past will not hold you back in the days ahead.

“Any cloak of shame, humiliation, or bondage is being cast off. A robe of honor is being prepared for you because you have humbled yourself.

“Walk through the door into this new realm of blessing. It is prepared for you. All things are being made new.

“Have a great day and remember that you are a great treasure to His heart.... ours too!

Patricia King

Hierdie boodskap is mos vir jou ook!

Enkele dae nadat ek en my pa ontmoet het, is ek een oggend deur ‘n allemintige swerm skoenlappers omsingel. Skoenlappers is ‘n rare verskynsel op ons dorp. Ek het doodstil bly staan te midde van die gefladder en met trane van dankbaarheid gedink aan Patricia se profetiese woorde. Ek het God inderdaad beleef!

Kort hierna was die kerk een Sondag stampvol en te midde van baie trane van blydskap oral, het my pa my gedoop!

My storie het soveel Goddelike detail, dat dit net God self is wat dit kon bewerk en op Sy tyd.

"Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys het en Sy trou nie van my weerhou het nie." –  Ps 66:20


Moet nooit ophou soek nie. Soek in volle vertroue op God!

Saterdag 26 Mei 2018

Kom te alle tye jou beloftes na!


Image result for Prediker 5:3-4

‘n Belofte staan vas


Jesus Christus is die enigste persoon wat ‘n Testament geskryf het en uit die dode opgestaan het om sy Testament in vervulling te laat gaan.

            Jy laat self eendag ‘n testament vol beloftes na. Elke belofte sal uitgevoer word.

            Deur die loop van ons lewe maak ons ook beloftes. As ons woord ons eer is, dan sal ons dit uitvoer.

            Daar was al mense wat geld en hulp vir die uitdra van die Evangelie belowe het, en dit nooit uitgevoer het.

            Sommige het agterna gesê hulle het te gou gepraat, hulle het hulself vergis.

            “As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.” Pred 5:3-4

Strofe 5 sê jy mag nie jou woord breek en sê dat jy jouself vergis het nie. Jy sal God se toorn laat ontvlam.

Tydens berading kom dit ook op die lappe want meeste beraders, veral pastorale beraders, het die gawe van onderskeiding,

Sir William Napier het, soos hy soms gedoen het, weer  een aand in sy Londense buurt gaan stap. Hy kom af op ’n meisietjie wat bitterlik staan en huil. Sy goedige geaardheid reageer dadelik, en hy gaan sit op sy hurke by haar om te hoor wat die moeilikheid is.

Stukkie vir stukkie hoor hy die storie. Haar ouers is baie arm. Sy is gestuur om ‘n emmer melk te gaan koop. Sy het gestruikel en geval en al die melk is op die grond uitgestort.

Daar is nie geld vir ander melk nie. Sir William staan op, streel oor haar koppie en vee haar trane met sy eie spierwit sakdoek af.

“Moenie huil nie, kindjie. Hier gaan koop vir jou ’n ander emmertjie melk.” ’n Blye glimlaggie breek deur. Hy steek sy hand in sy sak om sy beursie uit te haal. Sy gesig vul met pyn. Hy het nie sy beursie by hom nie!

Verleë sê hy: “Ag, kindjie, ek het nie geld by my nie. Maar môreaand, dieselfde tyd, kry ons twee mekaar hier. Ek bring vir jou geld vir genoeg melk. Sê vir jou mamma en pappa.”

Tuis kom sy vrou hom met ’n breë glimlag tegemoet. In haar hand het sy ’n pragtige vergulde uitnodigingskaartjie. Baie lank al wag Sir William vir ’n uitnodiging na só ’n onthaal. Dit sal sy politieke loopbaan sterk bevoordeel.

Opgewonde neem hy die kaartjie en lees dit vinnig deur. Dit is vir die volgende aand en dit is dieselfde tyd wat hy beloof het om die meisietjie te ontmoet.

Tot sy vrou se verbasing skud hy sy kop. “Nee, ek kan nie gaan nie. Ek het reeds ’n afspraak.” Hy vertel haar van die meisietjie.

Sir William het die gulde geleentheid van die hand gewys, om sy belofte aan ’n klein, arm meisietjie na te kom.

Maar sê nou, die meisietjie het by haarself gedink: daardie ryk, belangrike man sal tog nie kom nie, en sy het nie vir die afspraak opgedaag nie?

Hoeveel sou sy nie verloor het nie, en watter teleurstelling sou dit nie vir die belangrike man gewees het nie!

Mens mag nie ‘n belofte maak en dit nie nakom nie, veral nie aan ‘n kind nie.

Omdat God ons liefhet en ons jammer kry, begeer Hy groot gawes vir ons. Hy belowe dit. In Jesus vervul Hy sy beloftes. Beloftes is die kanale waarlangs God sy gawes na ons toe laat vloei.

Paulus skryf, “Jesus Christus …is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God.” 2 Kor.1:18,19,20. Onkunde oor God se beloftes in sy Woord, en traagheid om Hom te glo, beroof ons van seëninge. Verstaan jy nou wat “vertrou” beteken?

Onthou jy nog: “Slegs vertroue, vol vertroue, slegs vertroue op Sy woord...” “En sonder geloof (vertroue) is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” Hebr 11:6

En as twyfel in jou pad kom staan, kan jy niks van die HERE ontvang nie. Jak 1:6. Verwerp twyfel in die naam van Jesus Christus. Kry dit uit jou lewe uit.

En elke oggend kan jy opstaan en sê: “HERE, dankie vir U belofte wat sê dat U goedheid en guns, my in hierdie dag volg.” – Sjibbolet