Saterdag 26 Mei 2018

Kom te alle tye jou beloftes na!


Image result for Prediker 5:3-4

‘n Belofte staan vas


Jesus Christus is die enigste persoon wat ‘n Testament geskryf het en uit die dode opgestaan het om sy Testament in vervulling te laat gaan.

            Jy laat self eendag ‘n testament vol beloftes na. Elke belofte sal uitgevoer word.

            Deur die loop van ons lewe maak ons ook beloftes. As ons woord ons eer is, dan sal ons dit uitvoer.

            Daar was al mense wat geld en hulp vir die uitdra van die Evangelie belowe het, en dit nooit uitgevoer het.

            Sommige het agterna gesê hulle het te gou gepraat, hulle het hulself vergis.

            “As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.” Pred 5:3-4

Strofe 5 sê jy mag nie jou woord breek en sê dat jy jouself vergis het nie. Jy sal God se toorn laat ontvlam.

Tydens berading kom dit ook op die lappe want meeste beraders, veral pastorale beraders, het die gawe van onderskeiding,

Sir William Napier het, soos hy soms gedoen het, weer  een aand in sy Londense buurt gaan stap. Hy kom af op ’n meisietjie wat bitterlik staan en huil. Sy goedige geaardheid reageer dadelik, en hy gaan sit op sy hurke by haar om te hoor wat die moeilikheid is.

Stukkie vir stukkie hoor hy die storie. Haar ouers is baie arm. Sy is gestuur om ‘n emmer melk te gaan koop. Sy het gestruikel en geval en al die melk is op die grond uitgestort.

Daar is nie geld vir ander melk nie. Sir William staan op, streel oor haar koppie en vee haar trane met sy eie spierwit sakdoek af.

“Moenie huil nie, kindjie. Hier gaan koop vir jou ’n ander emmertjie melk.” ’n Blye glimlaggie breek deur. Hy steek sy hand in sy sak om sy beursie uit te haal. Sy gesig vul met pyn. Hy het nie sy beursie by hom nie!

Verleë sê hy: “Ag, kindjie, ek het nie geld by my nie. Maar môreaand, dieselfde tyd, kry ons twee mekaar hier. Ek bring vir jou geld vir genoeg melk. Sê vir jou mamma en pappa.”

Tuis kom sy vrou hom met ’n breë glimlag tegemoet. In haar hand het sy ’n pragtige vergulde uitnodigingskaartjie. Baie lank al wag Sir William vir ’n uitnodiging na só ’n onthaal. Dit sal sy politieke loopbaan sterk bevoordeel.

Opgewonde neem hy die kaartjie en lees dit vinnig deur. Dit is vir die volgende aand en dit is dieselfde tyd wat hy beloof het om die meisietjie te ontmoet.

Tot sy vrou se verbasing skud hy sy kop. “Nee, ek kan nie gaan nie. Ek het reeds ’n afspraak.” Hy vertel haar van die meisietjie.

Sir William het die gulde geleentheid van die hand gewys, om sy belofte aan ’n klein, arm meisietjie na te kom.

Maar sê nou, die meisietjie het by haarself gedink: daardie ryk, belangrike man sal tog nie kom nie, en sy het nie vir die afspraak opgedaag nie?

Hoeveel sou sy nie verloor het nie, en watter teleurstelling sou dit nie vir die belangrike man gewees het nie!

Mens mag nie ‘n belofte maak en dit nie nakom nie, veral nie aan ‘n kind nie.

Omdat God ons liefhet en ons jammer kry, begeer Hy groot gawes vir ons. Hy belowe dit. In Jesus vervul Hy sy beloftes. Beloftes is die kanale waarlangs God sy gawes na ons toe laat vloei.

Paulus skryf, “Jesus Christus …is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God.” 2 Kor.1:18,19,20. Onkunde oor God se beloftes in sy Woord, en traagheid om Hom te glo, beroof ons van seëninge. Verstaan jy nou wat “vertrou” beteken?

Onthou jy nog: “Slegs vertroue, vol vertroue, slegs vertroue op Sy woord...” “En sonder geloof (vertroue) is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” Hebr 11:6

En as twyfel in jou pad kom staan, kan jy niks van die HERE ontvang nie. Jak 1:6. Verwerp twyfel in die naam van Jesus Christus. Kry dit uit jou lewe uit.

En elke oggend kan jy opstaan en sê: “HERE, dankie vir U belofte wat sê dat U goedheid en guns, my in hierdie dag volg.” – Sjibbolet