Dinsdag 29 Mei 2018

Wees Ligdraers




Bill Anders, Jim Lovell, Frank Borman(Bevelvoerder)

Frank Borman is op 14 Maart 1925, in Gary, Indiana as sy ouers se enigste kind gebore. As kind was hy gepla met sinus, mangel- en oorontsteking. Sy ouers het hierdie enigste en sieklike kind van hulle beskermend grootgemaak.

Hulle het egter seker gemaak hy verkry die belangrikste lewenstoerusting: hulle het hom geleer en gelei om in Christus Jesus as sy Verlosser te vertrou. Op 15-jarige ouderdom het hy vlieglesse begin neem. Na hy sy hoërskoolopleiding voltooi het, het hy by die V.S.A. Militêre Akademie by West Point ingeskryf. Hy het met lof geslaag en is dadelik oorgeplaas na die V.S.A. Lugmag.

In 1951 kwalifiseer hy as vlieënier en maak vinnig opgang totdat hy die rang van kolonel bereik. Hy het sy getuienis as Christen met ‘n gedissiplineerde lewenstyl uitgeleef. Hy is as een van Appolo 8 se bemanning gekies, om die eerste maanlanding uit te voer. Die ruimtetuig is op 21 De­sember 1968 van Cape Kennedy af gelanseer.

Vroeg daardie Desember het ‘n paar Gideonlete (dis sakemanne wat Bybels versprei) vir hul gereelde oggendbiduur in Pasadena, Texas, saamgekom.

“Ek wens darem ons kan drie Nuwe Testamente vir die drie ruimtemanne in Apolo 8 plaas,” sê een van hulle. Een van die ander, hoof van die tegniese tak van die ruimtevaartsentrum, antwoord: “Ek ken kol. Borman. Hy is bevelvoerder van die ruimtebeman­ning en hy is ‘n uitgesproke Christen. Laat ek sien wat ek kan uitrig.”

Die uiteinde was, elkeen van die ruimtemanne het ‘n Nuwe Testament gekry om op hul geskiedkundige vaart saam te neem. Kol. Born­man het ook sy eie Bybel saamgeneem. Kol. Born­man se plan was nou, om op Kersdag, ‘n boodskap uit die ruimteskip aarde toe te stuur. Die skeppings­verhaal in Genesis 1 is in die vlugplan ingevoer. Luister: https://www.nasa.gov/topics/history/features/apollo_8.html

Met die ruimtetuig se laaste omwenteling, in die pikdonker agter die maan, het die drie ruimtereisigers op Kersdag om die beurt die eerste tien verse van Genesis 1 gelees: “In die begin het God die Hemel en die Aarde geskep…dit was donker…toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees. En daar was lig…” Gen 1:1-3. Oral op die aarde is die getuienis oor God se almag en sy gawe van lig gehoor.

            Dit was nie die eerste keer dat God se boodskap oor Sy goedheid, krag en liefde uit die ruimte die aarde bereik het nie. Die eerste Kersoggend op aarde het Engele die boodskap uitgesing: “Skielik was daar …’n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: ‘Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het.” Luk. 2:13,14

Johannes begin sy evangelie so: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was self God…Die ware lig wat elke mense verlig was aan kom na die wêreld toe …die Woord het vlees geword en onder ons kom woon…” Joh.1:1,9,14

Dit is die inhoud van Kersfees: ’n fees van lig. Elkeen wat Christus bely en van hom getuig, soos kol. Borman, die ruimtemanne, die Gideonlede, die herders, die wyse manne, die apostels, predikante, sendelinge, ander Christelike werkers, Christelike uitsendings en –leesstof en elkeen van ons, is soos ‘n gloeilamp wat ingeskakel is by God se se krag en op die donker aarde sy lig versprei. “

Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die Woord van die Lewe uit te dra. Fil. 2:15. ““Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is… en Ek is God.” Jes 43:10,12

Hierdie drie manne is in 1968 met ‘n vuurpyl die onbekende ingeskiet. Toe maak hulle Lig in die duisternis. Ons hoef nie die onbekende in te gaan nie. Ons moet net ons lig laat skyn waar ons is.

Maak dus elke dag ‘n Kersfees, elke dag ‘n Sabbat... wees Ligdraers.