Woensdag 09 Mei 2018

Versoening, is ons Roeping


Image result for 2  Korintiers 5:18

Daar is die indrukwekkende getuienis van twee broers wat op buurplase geboer het. Hulle het mekaar getrou bygestaan, oor en weer implimente geleen, gekuier, saam aanbid, ens. Dit was ‘n ware broederskap.

Toe kom daar groot onmin tussen hulle, so groot dat daar ‘n hartseer verwydering tussen hulle gekom het.

Die verwydering het in koue oorlog ontaard. Van liefde en hul getroue broederskap het niks oorgebly nie. Alles was flenters.

Een dag daag daar ‘n by die oudste broer se plaas ‘n vreemde man op. Hy stel hom voor as ‘n skrynwerker wat ook houtgeboue kan oprig. Die man het werk gesoek.

Die broer gee die man toe opdrag: “Saag al daardie bome daar anderkant af en bou vir my ‘n houtmuur tussen my plaas en plaas langsaan. Dit moet hoog genoeg wees sodat daar niks van die opstal daar oorkant sigbaar is nie. Ek wil hulle nie sien nie.

Die man sou daardie dag en die volgende werk. Die oudste broer is daar weg op sake en sou die volgende middag eers terug wees.

            Toe die oudste broer die volgende middag laterig terugkom, kon hy nie verstaan wat aangaan nie. Die skrynwerker het nie ‘n muur gebou nie, maar ‘n brug oor die heining.                 

Die oudste broer gaan staan verbysterd op die deeglik geboude brug. Sy jonger broer sien hom en kom aangehardloop. Hulle kry mekaar op die brug.

            Die jonger een val sy broer om die hals en sê: “My liewe broer na alles wat tussen ons gebeur het, bou jy sowaar ‘n brug na my huis toe! Ek waardeer jou en vergewe alles wat tussen ons verkeerd gegaan het!”

            Die oudste broer had geen ander keuse teen die jonger een se oorweldigende blydskap nie, en  vergewe en maak iefdevol vrede.

Die oudste broer sê toe vir die skrynwerker. “Bly ‘n ruk op die plaas, hier is nog baie werk vir jou.”

Die skrynwerker antwoord: “Ek moet gaan, want ek het nog baie om te  bou.”

Yeshua is die Groot Brugbouer! Hy het met sy kruis die brug tussen Hemel en Aarde gebou – tussen God Yaweh en mens.

Dit word nou van ons verwag om ook  brûe te bou.

Let op: “En dit alles is uit God wat ons met Homself  versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het.”2 Kor 5:18. Versoeninbg is ons bedieing.

            Mark Zuckerberg, die eienaar van FaceBook, sê FB is geskep om brûe mee te bou, nie mure nie.

            Hy het byevoeg: “Soos wat ek na die wêreld om my kyk beweeg mense en lande na binne, pleks van na buite.”

            “Mense doen dit oor vrees, maar dis kos moed om hoop bo vrees te kies.”

            In Suid-Afrika is daar nou oral mure, duiwelsvurk- en elektriese heinings. Dis nou so erg dat baie nie eers weet wie hulle bure is nie.

            “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart; want julle is Wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” 1 Pet 1:22-23

            Agter baie van hierdie heinings, is hartseer. Op plekke groot hartseer. verskeurde mense. Almal het hulp en liefde nodig maar skuil uit vrees agter die hoë mure.

            Het jy jou bure met ongeveinsde liefde lief? En ander in die volgende straat, in die gemeenskap? Sien ook 1 Pet 3:8. – Sjibbolet