Woensdag 23 Mei 2018

Wanneer God neerdaal


Image result for wederkoms


Die Droom...


Dis vroeg oggend toe ek op die spookdorpie aankom. Die dorp lyk yl bewoon, baie leë erwe waar eens huise was, ongebruikte gegrendelde geboue, onkruid oral... erg vervalle.  – Dis die is toestand van die kerke, daar was eens op ‘n tyd lewe, nou is alles vervalle. Daar was nie lewe op die dorpie nie, nie eers voëltjies nie... behalwe die netjies geklede man wat uit ‘n vervalle ou huis uitgekom het.

            Die netjiese jong man van so 28, ‘n argitek met sy eie praktyk – Hy is in staat om vir homself ‘n pragtige huis te ontwerp, maar hy woon in hierdie vervalle plek in ‘n bynase skedonk. Ek sê vir hom ek verkoop hout. Mens kan baie positiewe dinge met hout maak... Die drie kruise was van hout, mens kan huise bou met hout mens kan jou warm maak by ‘n kaggelvuur of jou kos by ‘n vleisbraaivuur gaar maak.

            Ek vra hom waar die poskantoor is. Hy het my nooit geantwoord nie. – Van die bloed (poskantoorrooi) van Jesus wis hy dus niks. Van Evangelisasie (via die poskantoor) weet hy nog minder. Daar was geen teken van ‘n kerkgebou nie.

            Hy vra of ek by die hotelletjie tuis is, ek sê nee, ek het pas arriveer. Daar is dus ‘n kuierplek vir die drinkebroers. Dis vroeg oggend so hulle slaap seker nog.

            Ek bearbei hom: Eers sê ek: “Jy het twee dinge nodig om ‘n sukses van jou lewe te maak: Gesondheid en wysheid, Goddelike wysheid.” Hy reageer glad nie. Lyk of hy met homself worstel. Ek herhaal: “Askies, jy het eintlik drie dinge nodig om ‘n sukses van jou lewe te maak: Gesondheid (pas jou gesondheid op), Wysheid en ‘n daaglikse wandeling met die HERE. Hy het net doodstil bly staan... toe word ek wakker terwyl ek die sin herhaal. Ek praat eintlik myself wakker.

            Die goedgeklede man van so 28, was die enigste wat ek lewend daar opgemerk het. Dis weer die kerk, soms netjiese Christenskap, mooi gekleed, maar sonder lewe, ‘n vervalle huis.

·       Twee dae later kom die volgende hier aan:

Wanneer God Neerdaal


David Wilkerson skryf: Ek is daarvan oortuig dat die HERE probeer om deur te breek na sy mense soos nog nooit tevore nie.

Soos die Skrif voorspel, het die duiwel met groot woede teen ons gekom met die wete dat sy tyd min is. En op die oomblik benodig God se mense ‘n groot uitstorting van die Heilige Gees, ‘n bonatuurlike aanraking wat selfs groter is as die een by Pinkster.

Dink daaraan: Jesus se volgelinge by Pinkster het nie nodig gehad om kernwapens te vrees nie. Hulle het nie gebewe toe die hele wêreld ekonomie op die rand van ‘n ineenstorting gewankel het nie. Dit is duidelik dat ons ‘n Heilige Gees krag nodig het om hierdie laaste paar tree te trotseer — dit is so eenvoudig.

Inderdaad, die uitroep wat vandag nodig is, was in Jesaja se tyd gehoor: “Ag as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor U aangesig... om U Naam aan U teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor U aangesig kan bewe...Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ‘n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U.” Jes 64:1, 2–4

Waar het hierdie uitroep vandaan gekom? Dit was uitgespreek deur ‘n profeet wat bedroef was oor die traagheid van God se mense, ‘n man wat duidelik geweet het wat nodig was: ‘n bonatuurlike besoek van die HERE.

Jesaja het bedoel, “HERE, ons kan nie aangaan soos tevore met dieselfde dooie godsdienstige roetine nie. Ons het ‘n aanraking van U nodig wat ons nog nie voorheen beleef het nie.”

Jesaja se profetiese boodskappe is deur die nasie gehoor. Dit was ‘n tyd van groot godsdienstige byeenkomste met kore en orkeste en mense wat die sinagoges vol gesit het. Die mense was goed geskool in die Skrifte en het al die verordeninge van die kerk onderhou.

Tog, ten spyte van al hierdie aktiwiteite — al die onderwysing, vertoon en goeie werke — was die atmosfeer in die sinagoge dood. Om God se werk te doen, het sleurwerk vir die mense geword om een rede: Daar was niks van Sy teenwoordigheid in hulle rituele nie.

Die profeet Miga het namens God gespreek: “My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My!” Miga 6:3

Die HERE het by sy kerk aangedring, “Sê vir My, wat het Ek gedoen om jou moeg te maak? Ek daag jou uit om te getuig wat Ek gedoen het om jou traagheid te veroorsaak.”

Terwyl Jesaja die lewelose kerk beskou het, was hy gedring om te sê, “En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie... U heilige stede het ‘n woestyn geword.” Jes 64:7,10

In wese, het Jesaja gesê, “HERE, U het ons geseën met goeie leermeesters, musiek en programme. Maar ons het U teenwoordigheid, U vuur, U Heilige Gees krag nodig. Ek sien niemand wat na U uitroep nie. HERE, skeur die hemele, daal neer en raak ons aan.”

Geliefde, ek stel dit aan jou voor: Wat ‘n toonbeeld van Christus se kerk vandag. Ons is geseënd met meer werktuie vir evangelisasie as enige ander geslag. Ons het meer media uitgange vir die Evangelie — meer boeke, webwerwe, TV en radioprogramme — as ooit tevore. En nou is leraars en gemeentes meer geleerd as ooit. Ons het meer kennis oor die Bybel, die mensdom en onsself as enige ander tyd in die geskiedenis.

Tog, in een nasie na die ander, kan ‘n Christen in ‘n kerk wat in die Bybel glo, inloop en daar uitkom sonder om die teenwoordigheid van Jesus te beleef. Dit is ook raar om uit die diens uit te kom en te sê, “Ek was vernuwe en weer lewend gemaak deur God se huis te besoek.” Eenvoudig gestel, daar is baie min Heilige Gees krag in werking in baie van die kerke. Volgens my, mis ons Jesaja se roepstem: “HERE, openbaar Uself. Raak U mense weer ‘n keer aan.”

Eeue later, is dieselfde roepstem gehoor onder ‘n ander oorblyfsel.

Dieselfde roepstem het gekom van 120 gelowiges wat in ‘n gehuurde kamer in Jerusalem bymekaargekom het. Dit was ‘n tyd baie soos Jesaja s’n — ‘n tydperk van groot godsdienstige waarneming met talle wat van oral oor Israel na die tempel gestroom het. Daar was groot vertoon en die sinagoges het van godsdienstige mense gewemel. Tog was hierdie byeenkomste leweloos. Die mense het belangeloos net die rituele nagevolg.

Jy mag wonder, “Hoe kan dit wees? Dit was die geslag wat onder die vurige prediking van Johannes die Doper gesit het. Dit was die geslag wat God in die vlees gesien het — Jesus — wat tussen hulle gewandel het en wonderwerke gedoen het.” Tog was hulle leweloos, droog en leeg.

Jesus self het oor hierdie hoogs godsdienstige mense geween. Hy het uitgeroep: “Julle het die gedaante van godsaligheid en julle gaan rond en doen liefdadigheidswerk. Maar van binne is julle dood. Julle is toegewyd in julle rituele, maar in julle harte is daar geensins enige lewe nie.”

Hulle was nie aangeraak deur die tekens en wonders wat Jesus gedoen het nie. Hulle was nie in beroering gebring toe Hy duiwels uitgedryf het en mense, wat vir jare demoniese binding gely het, verlos het nie. Op die ou einde, het hulle Hom verwerp en weggedraai van God se genade.

Die HERE verloor egter nooit moed met sy mense nie. Jesus het vir sy 120 dissipels geprofeteer: “Ek gaan my Gees op alle vlees uitstort.” Om hulle hiervoor voor te berei, het Hy hulle beveel, “Gaan na Jerusalem en wag daar totdat Ek kom.”

Christus se boodskap aan sy volgelinge was in wese die volgende: “Wanneer julle saam is, sal vuur uit die Hemel op die hele vergadering val en julle harte sal sag word. My bonatuurlike vuur sal alle berge verwyder — in julle naaste, julle mede-Jode en in alle nasies. Berge van hardheid en ongeloof sal verdwyn en duisende sal in een uur gered word. Die noem van my Naam sal menigtes oortuig en onder sondebesef laat kom.”

Toe daardie 120 dissipels getrou in die Bovertrek bymekaar gekom het, het hulle nie gewag vir ‘n datum op die kalender nie. Die Bybel sê, “En toe... was hulle almal (let op) eendragtig bymekaar.” Hand 2:1. Ons het vandag Eendragtigheid nodig, bo-oor die kerkgrense heen,

Dit beteken dat hulle as een liggaam vir een doel saamgekom het: met die hoop om Jesus se belofte vervul te sien. Hulle uitroep was dieselfde as in Jesaja se tyd: “Here, skeur die Hemele en daal neer. Laat alle berge van menslike en demoniese teenstand voor U teenwoordigheid verdwyn, sodat die verlorenes gered kan word.”

Ons weet wat gebeur het: Die Heilige Gees het neergedaal met sigbare vuur wat op die dissipels se hoofde verskyn het. Hierdie Heilige uitstorting het hulle na die strate van Jerusalem geneem, waar duisende lewelose godsdienstige mense gesien en gehoor het wat gebeur.

Onmiddellik het die Gees op daardie skare geval en elke berg van teenstand het verdwyn. Petrus het opgestaan om te preek en skielik het diegene wat Jesus verwerp het — massas wat hulle harte verhard het — sag geword met die noem van Christus se naam. En 3 000 mense het uitgeroep om gered te word.

Dink aan wat God besig was om te doen in daardie oomblik. Oral oor die wêreld van daardie tyd, was daar oorloë, opstande, koninkryke wat nasies binnegeval het, ‘n tyd van groot duisternis. Veelvoudige miljoene was besig met handel, terwyl vragskepe en handelskaravane die wêreld deurkruis het. Tog was God se aandag en fokus op die 120 nederige, biddende Heiliges wat in ‘n klein, gehuurde kamer bymekaar gekom het. Wat vertel dit vir ons? Eenvoudig gestel, wanneer God ‘n vuurhoutjie trek, moet daar fynhout wees voordat dit kan vlam vat. Terwyl sy Gees op diegene by Pinkster geblaas het, het die flikkerende vlam ‘n vuur geword wat gou die hele aarde sou vul.

Weereens verrys dieselfde Roepstem oral oor die wêreld vandag.

Ons HERE God Jaweh het ‘n Heilige oorblyfsel in elke nasie. En huidig is Hy besig om mense voor te berei wat hulleself opgewek het om Hom vas te gryp. In klein gemeenetjies, dorpies, en byeenkomste reg oor die aarde — in China, Indië, Europa, Afrika, selfs in Suid-Afrika, Noord en Suid Amerika — is daar ‘n Roepstem wat verrys en meer intens word: “O God, skeur die Hemele oop en daal neer. Stuur U Heilige Gees vuur. Raak alle vlees aan en manifesteer U teenwoordigheid.”

Hulle weet dat Jesus se woorde aan sy dissipels ook op hulle van toepassing is: “My Gees sal alles verander binne ‘n oomblik. Alle berge van hardheid en ongeloof sal verdwyn en elkeen wat teen jou gestaan het, sal nou saamkom.”

Wanneer dit gebeur, sal daar geen advertensies van die byeenkoms wees nie — geen TV kameras, geen prominente Evangelis, geen organiseerders wat ‘n “herlewing” opvoer nie. Pleks daarvan, sal daar net desperate, honger mense wees wat wag dat Hy Homself openbaar in sy heerlikheid en reddende krag.

God se mense weet dat Hy die enigste onderhoudende bron in hierdie moeilike tyd is en binnekort gaan die wêreld dit weet. Soos die ekonomie wêreldwyd dieper sink — soos Iran en Rusland meer dreigend word en globale rampe plaasvind — sal mense nie ‘n boodskap van selfvervulling duld nie. Hulle sal eis om die realiteit van God te ken in ‘n wêreld wat buite beheer raak.

En die belofte wat God vir Jesaja gegee het, is ook vandag van toepassing: “Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ‘n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U." Jes 64:4, kursief myne.

“God gaan ‘n nuwe en vars ding doen, dinge waarvan nog nie tevore gehoor is nie, dinge wat Sy mense nie self kon uitdink nie. En Paulus sê ons gaan hierdie wonderlike dinge beleef: “Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar.” 1 Kor 2:10.

Wie sal hierdie beloofde uitstorting ontvang? “Wie op Hom wag.” Die woord vir “wag” hier beteken “saambind,” “saamkom.” In hierdie geval, het God se mense saamgekom en saamgebind vir een doel, om aan een belofte vas te hou: dat Hy sal neerdaal met sy teenwoordigheid en harte sal aangeraak en sag word.

Daar is reeds bewyse dat God die Hemele skeur en deur sy Gees neerdaal.

Bykomstig tot die groeiende honger wat ek in Christus se liggaam sien, is daar ander bewyse:

1.Daar is ‘n uitbreek van blydskap selfs al word dinge donkerder. Dit is een van die sekerste bewyse dat die Heilige Gees bonatuurlik begin werk het. ‘n Gees van blydskap breek uit oor God se mense en hulle prys Hom triomfantlik te midde van donker tye, “U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen." Jes 64:5

Hierdie blydskap gaan die bron van ons krag word in dae wat kom. Ons bediening ontvang berigte van oral oor die wêreld wat beskryf hoe die kerk bonatuurlike blydskap in die moeilikste toestande beleef. En dit gebeur onder gewone Christene wat tot die Here gebid het om hulle aan te raak. Hulle berge van vrees smelt weg soos was en hulle roep nou van blydskap.

2.Wanneer die Heilige Gees soos ‘n stortreën kom, sal Hy die bruid van Christus opwek met ‘n roepstem. Wat sal die Gees se roepstem wees? “Daar kom die bruidegom; gaan uit Hom tegemoet” (Matthéüs 25:6).

Dit is tragies dat die boodskap van Christus se Tweede Koms byna vandag van die preekstoele verdwyn het. Die huidige geslag van pastore, evangeliste en skrywers noem selde Jesus se spoedige terugkeer. Selfs op die Internet, waar talle boodskapborde vol gesprekke oor die kerk is, is daar nie ‘n geluid oor Christus se koms nie. Tog sê Johannes dat die roepstem van die kerk in die laaste dae die volgende sal wees: “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; En laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” Openb 22:17

Sê vir my, waar is die stemme wat roep, “Kom, HERE Jesus?”

Christus waarsku sy kerk, “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle HERE kom nie.” Matthéüs 24:42). “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matthéüs 24:44). “Sy vrou het haar gereed gemaak” (Openbaring 19:7). Waar is die kerk wat waak, wag en hunker na Jesus?

Jesus het sterk woorde gehad vir hulle wat oor sy spoedige terugkeer sou spot: “Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom — en hy...saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie.” Mat 24:48–50

Ek vra jou, was daar al ooit ‘n tyd waarin die mensdom so vasgevang was in geldgierigheid? Die partytjie is oor — die ekonomie van die hele wêreld bewe — menigtes, wat baie in die kerk insluit, is egter in ontkenning daaroor.

Tans word die Heilige Gees uitgestort om ‘n sluimerende kerk op te wek om vir Sy koms voor te berei: “Hierdie wêreld is nie jou woning nie. Wek nou jouself op. Maak gereed om jou Bruidegom te ontmoet!”

Geen mag in die hel of op die aarde kan die Heilige Gees se werking keer wanneer Hy kom nie.

Ek weet dat die Bybel sê dat Satan in die laaste dae met groot woede kom. Maar ek kan nie verstaan waarom God toelaat dat Satan en sy magte die kerk vrylik kan aanval sonder dat die Heilige Gees in groter krag en manifestasie kom nie.

Ek weet die Bybel sê dat goddelose mense meer en meer goddeloos sal word en dat daar ‘n groot afval sal plaasvind. Ek weet dit sê dat die liefde van baie sal verkoel en dat die geloof van baie skipbreuk sal ly. Ek weet dit sê dat vals predikers sal kom en baie mislei en dat mense plesier meer sal liefhê as vir God. Ek weet dit sê dat selfs God se uitverkorenes meer versoek sal word. En ek weet dat baie kerke louwarm sal word soos die koms van Christus nader kom.

Maar geliefde, nie een van hierdie dinge kan die werk van die Heilige Gees verhinder nie. Niks kan die Roepstem van oorwinning wat Hy bring, uitdoof nie. Niks kan die groot, stygende gety van triomfantlike lofprysing wat kom, terughou nie. Niks kan sy vuur blus of sy stortreën keer nie.

Liewe Heilige, ek dring by jou aan: wees gereed vir diegene in jou werkplek wat kom vra, “Ek weet dat jy ‘n Christen is. Ek is so bekommerd oor wat in die wêreld aangaan. Vertel asseblief vir my wat jy glo.” Aan elke nederige pastoor van ‘n klein gemeente en aan elke leier van ‘n ongesiene bidgroep, ek dring by jou aan: Waar jy ook al geroep is, wil die Heilige Gees in jou midde inkom, jou aanraak en jou laat herleef. Sal jy dit glo?

Die enigste ding wat daardie 120 dissipels in die Bovertrek gehad het om aan vas te hou, was ‘n belofte van Jesus dat Hy sou kom. En Hy het gekom met ‘n krag, wat nog nie in die hele geskiedenis gesien is nie. Net so, het ons vandag ook net die belofte van ons Here om aan vas te hou. Hy het aan almal, wat Hom sou volg, belowe, “En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het.” Luk 22:29

Huidig hoor die HERE sy mense se roepstem dwarsoor die wêreld. En Hy stort sy Heilige Gees uit met sy eie roepstem: “Amen, ja kom, HERE Jesus.” Openb 22:20

Soos die Gees neerdaal en ons harte aanraak, laat dit ook ons Roepstem wees: “Kyk, Jesus kom. Laat ons uitgaan om Hom te ontmoet!”