Vrydag 18 Mei 2018

Strek jou uit na wat voor is


Image result for Psalm 65:20



Jy het niks verloor nie, inteendeel...


Kyk wat belewe Eiisa in 2 Konings 6:1-7.

Hier is ‘n groep profete besig om bome, wat gebruik gaan word om nuwe huise te bou, met byle af te kap. Een van die profete het die kop van sy byl in die water verloor en hy is paniekbevange omdat dit geleen was.

Elisa reageer deur ʼn stok te neem en dit op die plek in die water te gooi waar die bylkop geval het. Die kop van die byl dryf onmiddelik terug na die oppervlak.

Hier is baie uit te leer. God gee om vir wat jy verloor het. Geen saak is te klein vir ons God nie, selfs ʼn verlore bylkop is vir Hom belangrik.

Wat het jy verloor? Het jy ʼn seëning, ʼn verhouding, liefde, vrede, geluk, geld, jou reputasie of enige iets anders verloor?

Die goeie nuus is dat God so baie omgee vir wat verloor het, dat Hy jou kan help om dit te herwin.

God kan jou help om te vind wat jy verloor het deur te begin kyk waar dit geval het. Gaan terug na waar jy die spoor byster geraak het en laat God toe om jou terug te help op die spoor.

Die dinge wat was, sal waarskynlik nie weer in plek kom nie, maar sal vervang word met dit wat groter en meer lieflik is.

Dit mag dalk nodig wees vir jou om op te hou met iets en iets anders te begin doen. Jou bylkop is nie weg nie.

Wat ook al, jy het die HERE se goedheid en guns aan jou kant. Sien Sy belofte:

“En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die lering tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.

“Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.

“En Ek sal julle vergoed vir die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het -- my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.

“Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in Ewigheid nie beskaamd staan nie.” Joël 2:23-26

En skielik sal jy sê: “Die  lof  kom  God  toe wat  my  gebed  nie  afgewys  en  Sy  trou  nie  van  my weerhou  het  nie. Ps 65:20

En byvoeg: “Gits, kyk, ek het niks verloor nie, ek het inderdaad veel meer bygekry!”

Die geheim: Vergewe en vergeet en strek jou uit na wat voor is! – Sjibbolet