Woensdag 09 Mei 2018

Begin Weer…


Image result for Matt 6:33


Jesus breek die reëls, die wette, die tradisies want ons moet by al daardie goed verby kom sodat Jesus sentraal in ons lewens is.

            Jesus bring in die plek daarvan die “begin weer” konsep. Nie “probeer weer” nie, “begin weer”.

            Die dissipels wat  groot vissermanne was, vang ‘n hele nag geen vis nie. Vroeg die volgende oggend sê Jesus begin weer, “gooi die net (nie aan dieselfde kant nie) aan die anderkant van die skuit uit.” Toe was daar meer as genoeg vis.

            Die vissers kon gesê het maar hulle is moeg van heel nag probeer, ook dat hulle geharde vissermanne is en die see ken, as hulle gedink het mens kon vanoggend weer probeer dan sou hulle. Hulle het egter positief reageer toe Jesus die reëls breek en sê: Probeer weer... maar die keer aan die “anderkant” van die skuit.

            Die egbreekster word na Jesus gebring.  Volgens die wet moet die vrou met klippe doodgegooi word. Jesus breek die reëls: “Laat enigeen van julle wat sonder sonde is, die eerste klip gooi.”

            Almal het weggeloop en Jesus sê aan die vrou: “Ek veroordeel jou nie, gaan heen en sondig nie meer nie.” Begin weer.

            Die geskeide vrou sê ek trou nooit weer nie, geen man sal ooit weer die voorreg hê om my te mishandel nie.

            Die HERE se onmeetbare genade sê: Begin weer. Trou weer en maak seker jy herhaal nie jou foute van die verlede nie.

            Jesus het gesê dat niemand mag skei nie, behalwe oor owerspel. Definieer owerspel. By ‘n ander vrou ingegaan of die vrou het ‘n ander toegelaat om by haar in te gaan. Is dit al?

            God het dan aan die volk Israel ‘n skeibrief uitgereik oor hulle geestelike owerspel, hulle gelollery met ander gode. Dit was owerspel.

            Jou man bv. lol nie met ander vroue nie, maar hy toon geen respek vir sy vrou nie, nie soos wat die HERE uitdruklik in sy Woord voorskryf hoe die man se optrede teenoor sy vrou en sy huis moet wees nie.            Jou man lewe net vir homself.  Sy selftrots distansieer hom van jou. Dan is dit mos ook owerspel.

            Wanneer ‘n man aan pornografie verslaaf is, dan is dit mos ook owerspel. As hy net begeer om by ‘n ander vrou te slaap, pleeg hy al egbreuk. Matt 5:28

            Die man is byna nooit by die huis waar hy na sy vrou en kinders moet omsien nie, met hulle ‘n band, ‘n verhouding moet bou nie. Sy vrou raak kil en die kinders raak verward en spat uiteindelik in alle rigtings. Die man wat die hoë priester van sy huis moet wees, is afwesig. Is dit nie owerspel nie?

            As ander dinge buite die huwelik vir die man of vrou belangriker as hulle huwelik en gesin word, dan is dit owerspel.

            Die pa wat in die kroeë tussen sy drinkebroers rondhang en sy huislike en ouerpligte versaak, is dit nie owerspel nie?

            Die verklaring van owerspel is: Dat ‘n man ontrou is aan sy vrou, en omgekeerd. Een party kan op talryke wyse ontrou wees aan die ander, deur nie hul volwaardige rol te vertolk nie.

            Is dit hoekom ‘n man en ‘n vrou in die huwelik tree? Om nie trou aan mekaar, hul huwelik en hul gesin te wees nie? Beslis nie. Hulle is tog een, of veronderstel om een te wees.

Op skool word geslagsonderrig gegee. Dit gaan meesal oor hoe om swangerskappe te keer. Waar is die ouerlike drukgroep wat dit verander moet kry na GESINSonderrig. Mense trou en weet nie eers wat die huwelik behels nie.

            Daar is mense wat sê hulle trou nooit want hulle wil nie ‘n egskeiding beleef nie. Jy sal geen egskeiding beleef as jy en jou vrou jul;e self verseker van waaroor die huwelik werklik gaan nie en hoe mens jou kinders moet grootmaak in die Sy weë nie, nie wanneer jy en jou vrou saambid nie.

            ‘n Ondersoek in Amerika het bewys dat paartjies wat hul lewe lank saam bid, skei nie.

            Daar is die man wat vir predikant gestudeer het, maar niks het uitgewerk nie. By sy eerste gemeente het niks reg geloop nie. Hy belowe homself hy wil nooit weer ‘n predikant  wees nie. Die HERE sê na ‘n tyd: “Doen dit weer.”

            Alles wat met Josef gebeur het verlore voorgekom, maar dit was intussen alles deel van God se plan… die uiteinde: Josef begin weer.

            Waar sit jy vandag? In sak en as, moedverlore, sonder visie, sonder roeping, steeds treurend oor jou mislukking. Dis alles waar wat jy sê, maar die tyd loop uit en die HERE verwag dat jy weer begin. Kry ‘n nuwe werk, leef jou droom uit, trou weer...

            Begin hierdie keer reg… Bid soos Salomo, die HERE om wysheid. Net dit. Die res volg vanself.

            Daar word elke dan en wan, soos nou deur Forbes, verwys na die Top 10 rykste mense in die wêreld… multi-biljoenêrs. Daar is nou al triljoenêrs. Baie van hierdie manne en vroue vertel dat hulle op ‘n kol bankrot was en weer moes begin.

            In vandag se terme bereken was Salomo ryker as enigiemand vandag. Salomo  bid vir wysheid, net dit… Hy wil nie foute maak nie, hy besef hy het die HERE se wysheid nodig.

            En die HERE sê: “En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit (wysheid) begeer het. Lees 1 Kon 3:11-14

Die HERE God Jahweh voeg by: “So doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou 'n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie.

“Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie.”

Jesus sê: “Maar soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel.Matt 6:33:24 .

Waarop wag jy? Begin weer…