Wys tans plasings met die etiket nuwe begin. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket nuwe begin. Wys alle plasings

Woensdag 09 Mei 2018

Daar is Nuwe Lewe


Image result for Gen. 37:19

Druk deur wenpaal toe


Jy en die droom wat God jou gee moet onafskeidbaar van mekaar word. Gen. 37:19 Josef het hom so in sy drome ingeleef dat sy broers hom die "Dromer" genoem het.

            Jou tydelike uitspanplekke is nie jou uiteindelike eindpunt nie.  Josef het op baie plekke "uitgespan"…  Die put in die wildernis, Potifar se huis en in Farao se tronk — elke uitspanplek 'n node op sy roete na die paleis toe. Elkeen was deel van Josef se leerskool. God het hom geseën te midde van hierdie moeilike omstandighede. Dalk is jy nog by 'n node op die roete na jou paleis toe! Moenie by jou node vashaak nie.

Behou jou visie en jou momentum om op die regte tyd aan te beweeg.

            Moenie jouself onderwerp aan 'n gees van manipulasie nie, selfs al laat dit jou in plekke land waar jy nie graag wil wees nie. Josef het hom nie laat manipuleer deur Potifar se vrou nie.

Dit het hom tydelik sy vryheid gekos en hy het 'n paar jaar swaargekry, maar hy het deurgedruk en uiteindelik 'n heerser in Egipte geword.

Die tronk is 'n plek waar jy gevorm word.  Daar was verskeie eksterne invloede op Josef, maar hy het aan die interne droom vasgehou en toegelaat dat die Gees van God hom van binne verander.

            Jy moet uit die tronk kom om uiteindelik paleis toe te gaan.  Josef het nie sy tronkstraf aanvaar nie.  Hy lê die skinker se droom uit, en vra dadelik vir hom om hom te help om uit te kom.

Kry bevryding van jou tronk-mentaliteit, van gedagtes en gewoontes wat jou bind.  Is dit tradisie?  Is die verlede altyd vir jou beter as die hede? Is daar swak verhoudings in jou lewe?  Onvergewensgesindheid? Emosionele seer?

            Indien jy ander help met hulle drome, sal God jou help met joune.  Josef het die bakker en die skinker se drome uitgelê.  Belewe Jesus se onmeetbare Liefde.

Daarna het hy vir Farao ook drome uitgelê en goeie advies gegee.  Hy het ingeskakel by Farao se droom en God het in hierdie inskakeling Josef se eie droom bewaarheid.

            In 24 kort ure kan jy van die tronk na die paleis vorder.  Gen. 41:14 Josef se bevryding het snel geskied.  Wanneer jy gereed is, kan jy 'n spoedige verandering in jou lewe verwag – 'n verborgenheid wat ons nie verstaan nie:  Ons leer om te wag op die HERE, en dit neem meestal lank, maar wanneer Hy begin beweeg, kan ons haas byhou.

God posisioneer jou vir toegang tot invloedryke mense in sleutelposisies wat rykdom en bronne tot jou beskikking kan stel.

            God het Josef aan Farao voorgestel, die koning en mees invloedryke man in Egipte en omliggende lande!  Josef was van daardie oomblik af in die guns van Farao.

            Ons, leiers inkluis, lewe in 'n tydperk waar ons gereed moet wees vir snelle veranderinge. God is reeds gereed om vermenigvuldiging in Sy Koninkryk te doen.

 Is jy gereed om te help fasiliteer daaraan? Dalk het jy 'n Josef-bediening.  Wat jou droom ook al inhou, wees gereed om die vervulling daarvan te beleef.

 Jy sal agterna ook kan sê soos Dawid: “Die  lof  kom  God  toe wat  my  gebed  nie  afgewys  en  Sy  trou  nie  van  my weerhou  het  nie.” Ps 66:20

https://youtu.be/y3ytCiH9144





Begin Weer…


Image result for Matt 6:33


Jesus breek die reëls, die wette, die tradisies want ons moet by al daardie goed verby kom sodat Jesus sentraal in ons lewens is.

            Jesus bring in die plek daarvan die “begin weer” konsep. Nie “probeer weer” nie, “begin weer”.

            Die dissipels wat  groot vissermanne was, vang ‘n hele nag geen vis nie. Vroeg die volgende oggend sê Jesus begin weer, “gooi die net (nie aan dieselfde kant nie) aan die anderkant van die skuit uit.” Toe was daar meer as genoeg vis.

            Die vissers kon gesê het maar hulle is moeg van heel nag probeer, ook dat hulle geharde vissermanne is en die see ken, as hulle gedink het mens kon vanoggend weer probeer dan sou hulle. Hulle het egter positief reageer toe Jesus die reëls breek en sê: Probeer weer... maar die keer aan die “anderkant” van die skuit.

            Die egbreekster word na Jesus gebring.  Volgens die wet moet die vrou met klippe doodgegooi word. Jesus breek die reëls: “Laat enigeen van julle wat sonder sonde is, die eerste klip gooi.”

            Almal het weggeloop en Jesus sê aan die vrou: “Ek veroordeel jou nie, gaan heen en sondig nie meer nie.” Begin weer.

            Die geskeide vrou sê ek trou nooit weer nie, geen man sal ooit weer die voorreg hê om my te mishandel nie.

            Die HERE se onmeetbare genade sê: Begin weer. Trou weer en maak seker jy herhaal nie jou foute van die verlede nie.

            Jesus het gesê dat niemand mag skei nie, behalwe oor owerspel. Definieer owerspel. By ‘n ander vrou ingegaan of die vrou het ‘n ander toegelaat om by haar in te gaan. Is dit al?

            God het dan aan die volk Israel ‘n skeibrief uitgereik oor hulle geestelike owerspel, hulle gelollery met ander gode. Dit was owerspel.

            Jou man bv. lol nie met ander vroue nie, maar hy toon geen respek vir sy vrou nie, nie soos wat die HERE uitdruklik in sy Woord voorskryf hoe die man se optrede teenoor sy vrou en sy huis moet wees nie.            Jou man lewe net vir homself.  Sy selftrots distansieer hom van jou. Dan is dit mos ook owerspel.

            Wanneer ‘n man aan pornografie verslaaf is, dan is dit mos ook owerspel. As hy net begeer om by ‘n ander vrou te slaap, pleeg hy al egbreuk. Matt 5:28

            Die man is byna nooit by die huis waar hy na sy vrou en kinders moet omsien nie, met hulle ‘n band, ‘n verhouding moet bou nie. Sy vrou raak kil en die kinders raak verward en spat uiteindelik in alle rigtings. Die man wat die hoë priester van sy huis moet wees, is afwesig. Is dit nie owerspel nie?

            As ander dinge buite die huwelik vir die man of vrou belangriker as hulle huwelik en gesin word, dan is dit owerspel.

            Die pa wat in die kroeë tussen sy drinkebroers rondhang en sy huislike en ouerpligte versaak, is dit nie owerspel nie?

            Die verklaring van owerspel is: Dat ‘n man ontrou is aan sy vrou, en omgekeerd. Een party kan op talryke wyse ontrou wees aan die ander, deur nie hul volwaardige rol te vertolk nie.

            Is dit hoekom ‘n man en ‘n vrou in die huwelik tree? Om nie trou aan mekaar, hul huwelik en hul gesin te wees nie? Beslis nie. Hulle is tog een, of veronderstel om een te wees.

Op skool word geslagsonderrig gegee. Dit gaan meesal oor hoe om swangerskappe te keer. Waar is die ouerlike drukgroep wat dit verander moet kry na GESINSonderrig. Mense trou en weet nie eers wat die huwelik behels nie.

            Daar is mense wat sê hulle trou nooit want hulle wil nie ‘n egskeiding beleef nie. Jy sal geen egskeiding beleef as jy en jou vrou jul;e self verseker van waaroor die huwelik werklik gaan nie en hoe mens jou kinders moet grootmaak in die Sy weë nie, nie wanneer jy en jou vrou saambid nie.

            ‘n Ondersoek in Amerika het bewys dat paartjies wat hul lewe lank saam bid, skei nie.

            Daar is die man wat vir predikant gestudeer het, maar niks het uitgewerk nie. By sy eerste gemeente het niks reg geloop nie. Hy belowe homself hy wil nooit weer ‘n predikant  wees nie. Die HERE sê na ‘n tyd: “Doen dit weer.”

            Alles wat met Josef gebeur het verlore voorgekom, maar dit was intussen alles deel van God se plan… die uiteinde: Josef begin weer.

            Waar sit jy vandag? In sak en as, moedverlore, sonder visie, sonder roeping, steeds treurend oor jou mislukking. Dis alles waar wat jy sê, maar die tyd loop uit en die HERE verwag dat jy weer begin. Kry ‘n nuwe werk, leef jou droom uit, trou weer...

            Begin hierdie keer reg… Bid soos Salomo, die HERE om wysheid. Net dit. Die res volg vanself.

            Daar word elke dan en wan, soos nou deur Forbes, verwys na die Top 10 rykste mense in die wêreld… multi-biljoenêrs. Daar is nou al triljoenêrs. Baie van hierdie manne en vroue vertel dat hulle op ‘n kol bankrot was en weer moes begin.

            In vandag se terme bereken was Salomo ryker as enigiemand vandag. Salomo  bid vir wysheid, net dit… Hy wil nie foute maak nie, hy besef hy het die HERE se wysheid nodig.

            En die HERE sê: “En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit (wysheid) begeer het. Lees 1 Kon 3:11-14

Die HERE God Jahweh voeg by: “So doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou 'n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie.

“Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie.”

Jesus sê: “Maar soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel.Matt 6:33:24 .

Waarop wag jy? Begin weer…



Donderdag 15 Januarie 2015

Hoe donker is jou gang.....?




"Stuur U lig en U waarheid laat dié my lei, en my bring na U heilige berg en na U woning!" (Ps 43:3) .

In Messengers van Junie 2002 word 'n verhaal vertel wat afsluit met die woorde: "Dit is ‘n ware verhaal". Die seun in die verhaal word Jack genoem. Jack het sy tienderjarige ouderdom bereik en die krag en woeling van die tienderjare in hom voel opwel.

"Jack was just old enough to feel that he was growing too big for Sunday School and that Church was really boring, when one night he had a strange dream. He dreamt he saw a terrible old man approaching him."

Ken jy my Jack? Jack skud sy kop. "Dan sê ek vir jou wie ek is. Ek is die man wat jy in sestig jaar se tyd gaan wees." Verontwaardig wil Jack wegdraai, maar die ou man gee hom nie kans nie. "Kyk daar," sê die ou man en wys na 'n lang tonnel toe. "Daardie tonnel is jou lewe en dit is gevaarlik om daardie tonnel sonder 'n lig binne te gaan."

"Daar is ligte in die tonnel," praat Jack teë. "Ek sien hulle van hier af." "Ja, maar moenie vergeet nie, jy gaan daardie ligte doodmaak." Saam stap hulle die tonnel binne. Die eerste lig straal helder uit. Op die lig is woorde geskryf. Jack lees dit: DIE WOORD VAN GOD. Die ou man steek sy hand uit en slaan die lig stukkend.

"Wat maak jy nou!" skree Jack, want die tonnel is dadelik donkerder. "Doen? Hoekom? Niks nie! Ek het net gedoen wat jy reeds besig is om te doen...die lig van God se Woord doodmaak. Wanneer laas het jy jou Bybel gelees? Dit het nie plek in jou lewe nie." Jack laat sak sy kop. Hy weet dit is waar.

Hulle stap die tonnel dieper binne. Voor hulle is 'n ander lig. GEBED staan op dié lig geskryf. Voor Jack kan keer, slaan die ou man hiérdie lig ook stukkend. "Jóú hand het dit gedoen, Jack. Jy het mos besluit gebed is 'n mors van tyd."

Soos hulle dieper instap, word die tonnel donkerder. Voor hulle is nog 'n lig: DAG VAN DIE HERE. Weer slaan die ou man dit stukkend. Jack kan nie help om daaraan te dink, dat hy in die laaste tyd Sondae saam met sy maats rinkink, pleks van kerk toe te gaan nie. Jack begin voel hy is net soos die ou man wat hier langs hom loop en ligte doodslaan. Met verligting sien Jack nog 'n lig vorentoe in die tonnel: DIE HUIS VAN DIE HERE. "Jack," sê die ou man skor, "jy het al die ander ligte in jou tonnel doodgemaak. Kyk hoe maklik slaan ons hierdie een stukkend," en daarmee gee hy die lig 'n hou wat alles om hulle skielik in donkerte dompel.

"Wat nou?" skreeu Jack. "Niks," antwoord die ou man kalm, "dit is jy wat gekies het om so deur die tonnel te gaan, alleen, sonder God. In sestig jaar se tyd sal jy ek wees." Jack skrik wakker. Hy sit regop. Hy wil nie soos daardie aaklige ou man word nie: hard, selfsugtig, vuil, verlore. Hy kruip onder die komberse uit. Met groot verligting weet hy, hy het wel weggedraai, maar die ligte waarvan hy weet en waarvan hy geleer het, brand nog. En veral een lig brand helder in sy gedagte:

Die Here Jesus Christus het vir sy sonde gesterf en opgestaan uit die dood om ook hóm te red! Jack het daardie nag die Here gevind. Toe hy groot word het, het hy in diens van die Here getree – hy het baie mense, wat soos hy die ligte van geloof doodgemaak het, gehelp om by die Here uit te kom.

Moenie langer in die donker loop nie. "Kom... laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom" (Jes 2:5). Steek die ligte wat doodgegaan het weer op: lees die Bybel, bid, gaan kerk toe. Maar die belangrikste is om die Here Jesus te ontmoet, deur 'n oorgawe van sondebelydenis en vertroue in Jesus se kruisdood en opstanding, en dan deur die krag van die Heilige Gees vorentoe vir God te leef.

"Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe..." (Kol 2:6). "Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee" (Joh 8:12).

Hierdie is ‘n ware verhaal. Is dit ook die verhaal wat nou in ons lewens afspeel? Hoe ver is ons af in die donker gang? Dit is reeds baie laat en die tyd het aangebreek om reg te maak....

Dinsdag 06 Januarie 2015

Voorspoedige 2015





Maak vandag, 'n dag in jou lewe vir nuwe dinge…

Dinge van hoop en liefde en oorwinning in Jesus’ Naam.

Jou verlede met sy teleurstellings, foute, verkeerde keuses, ontnugtering en hartseer moet nou plek maak
vir lente in jou lewe. Alles moet nuut word.

Sit al jou ou bagasie in 'n sak, in 'n groot sak, pak daai sak self, noem elke ding by sy naam wat jy daar in sit,
moenie iets vergeet nie en sit dit vandag, sommer nou, by Jesus se voete. En sê vir HOM, "Ek is nou klaar
met my verlede, my hartseer, my tekortkominge, my....... Dankie HERE dat U vir my voorspoed beplan en
ek vat dit. En ek dank U daarvoor. En as ek enige tyd weer terug kyk na my ou sak, herinner my asseblief dat
ek klaar is daarmee."

"En ek het 'n nuwe Hemel en nuwe Aarde gesien...die heilige stad, die Nuwe Jerusalem... en HY(die HERE)
sal by hulle (ons) woon... En God sal al die trane van hulle (julle) oë afvee, en daar sal geen dood meer wees
nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie."

"Kyk, Ek maak alles nuut."

"Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die Lewe, verniet. Hy sal oorwin, sal alles
beërwe; en ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun, ‘n dogter, wees." Openb 21:1-7

Maak vandag, die eerste dag van die res van jou lewe, pak daai sak en moenie weer terugkyk nie.

Hou vas aan God se belofte vir jou lewe: Net SY Goedheid en Guns volg jou in 2015.