Donderdag 15 Januarie 2015

Hoe donker is jou gang.....?




"Stuur U lig en U waarheid laat dié my lei, en my bring na U heilige berg en na U woning!" (Ps 43:3) .

In Messengers van Junie 2002 word 'n verhaal vertel wat afsluit met die woorde: "Dit is ‘n ware verhaal". Die seun in die verhaal word Jack genoem. Jack het sy tienderjarige ouderdom bereik en die krag en woeling van die tienderjare in hom voel opwel.

"Jack was just old enough to feel that he was growing too big for Sunday School and that Church was really boring, when one night he had a strange dream. He dreamt he saw a terrible old man approaching him."

Ken jy my Jack? Jack skud sy kop. "Dan sê ek vir jou wie ek is. Ek is die man wat jy in sestig jaar se tyd gaan wees." Verontwaardig wil Jack wegdraai, maar die ou man gee hom nie kans nie. "Kyk daar," sê die ou man en wys na 'n lang tonnel toe. "Daardie tonnel is jou lewe en dit is gevaarlik om daardie tonnel sonder 'n lig binne te gaan."

"Daar is ligte in die tonnel," praat Jack teë. "Ek sien hulle van hier af." "Ja, maar moenie vergeet nie, jy gaan daardie ligte doodmaak." Saam stap hulle die tonnel binne. Die eerste lig straal helder uit. Op die lig is woorde geskryf. Jack lees dit: DIE WOORD VAN GOD. Die ou man steek sy hand uit en slaan die lig stukkend.

"Wat maak jy nou!" skree Jack, want die tonnel is dadelik donkerder. "Doen? Hoekom? Niks nie! Ek het net gedoen wat jy reeds besig is om te doen...die lig van God se Woord doodmaak. Wanneer laas het jy jou Bybel gelees? Dit het nie plek in jou lewe nie." Jack laat sak sy kop. Hy weet dit is waar.

Hulle stap die tonnel dieper binne. Voor hulle is 'n ander lig. GEBED staan op dié lig geskryf. Voor Jack kan keer, slaan die ou man hiérdie lig ook stukkend. "Jóú hand het dit gedoen, Jack. Jy het mos besluit gebed is 'n mors van tyd."

Soos hulle dieper instap, word die tonnel donkerder. Voor hulle is nog 'n lig: DAG VAN DIE HERE. Weer slaan die ou man dit stukkend. Jack kan nie help om daaraan te dink, dat hy in die laaste tyd Sondae saam met sy maats rinkink, pleks van kerk toe te gaan nie. Jack begin voel hy is net soos die ou man wat hier langs hom loop en ligte doodslaan. Met verligting sien Jack nog 'n lig vorentoe in die tonnel: DIE HUIS VAN DIE HERE. "Jack," sê die ou man skor, "jy het al die ander ligte in jou tonnel doodgemaak. Kyk hoe maklik slaan ons hierdie een stukkend," en daarmee gee hy die lig 'n hou wat alles om hulle skielik in donkerte dompel.

"Wat nou?" skreeu Jack. "Niks," antwoord die ou man kalm, "dit is jy wat gekies het om so deur die tonnel te gaan, alleen, sonder God. In sestig jaar se tyd sal jy ek wees." Jack skrik wakker. Hy sit regop. Hy wil nie soos daardie aaklige ou man word nie: hard, selfsugtig, vuil, verlore. Hy kruip onder die komberse uit. Met groot verligting weet hy, hy het wel weggedraai, maar die ligte waarvan hy weet en waarvan hy geleer het, brand nog. En veral een lig brand helder in sy gedagte:

Die Here Jesus Christus het vir sy sonde gesterf en opgestaan uit die dood om ook hóm te red! Jack het daardie nag die Here gevind. Toe hy groot word het, het hy in diens van die Here getree – hy het baie mense, wat soos hy die ligte van geloof doodgemaak het, gehelp om by die Here uit te kom.

Moenie langer in die donker loop nie. "Kom... laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom" (Jes 2:5). Steek die ligte wat doodgegaan het weer op: lees die Bybel, bid, gaan kerk toe. Maar die belangrikste is om die Here Jesus te ontmoet, deur 'n oorgawe van sondebelydenis en vertroue in Jesus se kruisdood en opstanding, en dan deur die krag van die Heilige Gees vorentoe vir God te leef.

"Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe..." (Kol 2:6). "Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee" (Joh 8:12).

Hierdie is ‘n ware verhaal. Is dit ook die verhaal wat nou in ons lewens afspeel? Hoe ver is ons af in die donker gang? Dit is reeds baie laat en die tyd het aangebreek om reg te maak....