Saterdag 10 Januarie 2015

“My pa is die Kondukteur”


 


Jes 43:1-7: "Moenie bang wees nie, Ek is by jou" (vs. 7).

'n Man het 'n klein dogtertjie dopgehou wat stoksiel alleen op 'n bus deur die stad ry. Sy het geen tekens van onrus of spanning getoon nie. Hy het oorgeleun na haar toe en vir haar gevra: "Meisie, is jy dan nie bang om so alleen in die bus te ry nie?" Sy kyk om na hom toe en antwoord vrolik: "Nee Oom, niks kan met my gebeur nie. My pa is die kondukteur van die bus en hy hou sy oë op my."

Ons kan ons voorstel hoe die pa, wat kondukteur van die bus is en met sy werk besig is, kort-kort kyk of dit nog met sy dogtertjie goed gaan. So 'n vertroue in ons Hemelse Vader en die wete dat Hy wat oor hierdie wêreld waarin ons leef regeer, aan ons dink en ons in die oog hou, bring gerustheid in ons hart. Kom ons glo dit met blydskap.

'n Bewustheid van ons Hemelse Vader se teenwoordigheid en sorg oor ons is nie nét 'n geruste gevoel nie, maar 'n wéét op grond van die versekering wat Sy Woord ons gee. Telkens verbind die Here se Woord God se sorg oor Sy kinders in hierdie wêreld ook werklik met 'n pa of ma se gevoel en besorgdheid oor hulle kind.

Ons daaglikse omgang met Sy Woord is noodsaaklik om hierdie gedurige wete van, en geloof in, Sy sorg oor ons lewend te hou te midde van wêreldse en teensprekende omstandighede. "…julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra" (Mat.6:8).

"Sion sê: 'Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.' Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie." (Jes.49:14,15). Ons is kind van God deur Christus: "…die wêreld het Hom nie erken nie…sy eie mense (die Jode) het Hom nie aangeneem nie …maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word" (Joh.1:10-12).

Dit is 'n mens se eie keuse as hy sonder God se sorg en toesig deur hierdie lewe wil gaan, maar dit is 'n gevaarlike keuse. Moses het die veilige weg gevolg. Die Here vra hom: "Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?" Moses was baie gou om te antwoord: "As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie" (Eks. 33:14,15) En ook net goed, want baie gou het probleme opgeduik wat net God vir hom kon oplos. Dit was ook die gerusstellende belofte van die Here Jesus na Sy opstanding aan Sy dissipels, en daarom ook aan ons: "En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld" (Mat.28:20).

GEBED: Here, vandag leef ek in die blye wete: U oë is op my.