Saterdag 10 Januarie 2015

Hou aan saai, die vrug sal dra




Matt. 13:3–8 en 18-23: "Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die Woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes..." (vs. 23)

Peter J Pell was lid van die bekende Pell familie wat Gospel Folio Press begin het. Peter vertel van ‘n man wat 40 lank die uitbreiding van die Here se Koninkryk behartig het. Hy het  op 'n straathoek gestaan en allerlei Evangeliese leesstof uitgedeel. Peter vertel dat hoe ouer die man geword het, het die straathoekwerk vir hom moeilik geraak en hy het buitendien geen vrug op sy saaiwerk gesien nie. Hy het opgehou.

'n Paar jaar later loop hy een Saterdagaand by daardie straathoek verby en 'n jongman gee vir hom 'n Evangeliese traktaatjie. Hy vra die jongman: "Hoekom is jy vanaand hier en doen jy hierdie werk?"

Die jongman antwoord: "Meneer, sien, hier het gereeld 'n ouerige man Saterdagaande op hierdie straathoek gestaan en traktaatjies uitdeel. Ek het een aand een geneem en dit het my na die Here toe gelei en ek is Wedergebore. Dit is nou al 'n ruk lank dat die ouman nie meer hier is nie. Ek dink hy is seker Hemel toe. Ek het toe in my hart gevoel en wil ook vir die Here werk en ek kom neem nou maar sy plek in."

Die ouman se oë vul met trane en hy gryp die jongman se hand. "Dit is ek wat die traktaatjie vir jou gegee het. En met God se genade gaan ek weer met my werk om traktaatjies uit te deel, begin en aanhou totdat die Here Jesus weer kom."

Dit is Gelowiges se roeping om die Woord te saai. In sommige harte gee God deur sy genade die wasdom en iemand word vir Christus gewen. "Julle is immers Wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige Woord van God... en hierdie Woord is die evangelie wat aan julle verkondig is" (1 Pet. 1:23). Dit is baie ongelukkig as 'n kind van die Here dwarsdeur die lewe gaan sonder om ooit iets te doen om 'n ander vir Christus te wen nie.

MOET EK GAAN MET LEë HANDE,
MOET EK SO MY HEER ONTMOET ?
NIE EEN DAG AAN HOM GEWY NIE,
NIKS TE OFFER AAN SY VOET ?

KOOR:
MOET EK GAAN MET LEë HANDE,
MOET EK SO MY HEER ONTMOET ?
NIE EEN SIEL GELEI NA JESUS,
NIKS TE OFFER AAN SY VOET ?

GEBED: Here, van vandag af soek ek geleentheid om U aan iemand bekend te maak.