Wys tans plasings met die etiket van swaarkry na heerlikheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket van swaarkry na heerlikheid. Wys alle plasings

Woensdag 12 Junie 2019

Dra ‘n las en red jouself!


Jes 55: 1–6; “Kom…selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal… “

            ‘n Vrou bel en soek hulp. Haar man ly aan ‘n ongeneeslike siekte. Dit laat ons dadelik aan Dr Lambie dink.

Dr. Thomas Lambie, wat as geneesheer sendingwerk in Ethiopië gedoen het, moes dikwels snel vloeiende en diep riviere oorsteek, skryf Christian Victory.




Die gevaar van die snel vloeiende riviere was, 'n mens word van jou voete afgepluk en dan met die snelstroom meegesleur na 'n dieper stroom, of na 'n waterval, of dat mens teen een van die baie rotse verpletter kon word.

Dr. Lambie het by die plaaslike bewoners die geheim geleer om veiliger deur so 'n stroom te kom. 'n Mens soek 'n groot klip. Hoe groter en swaarder hoe beter. Die gewig word op die skouer geneem en dit dien as anker.

Die ekstra gewig druk jou voete stewiger op die bodem vas en jy kruis die rivier met groter veiligheid. Jou voete word nie so gou onder jou uitgespoel nie.

Foto: Dr Lambie en sy vrou

Dr. Lambie se gevolgrekking: “Terwyl ons die gevaarlike stroom van die lewe deurkruis het ons die gewig van di         e dra van laste nodig om op ons geestelike voete te bly.”

            Dr. Lambie (1885 - 14 April 1954), wat van Pittsburgh in Amerika kom, het  later ‘n Ethiopiese burger geword en twee hospitale daar gevestig.

Hy het ook as mediese dokter  sendingwerk in  Soedan, Nigerië en Palestina gedoen. Hy was juis op besoek by Jesus se graf in Jerusalem toe hy Huis toe is.

            Rom 5:3-5 sê: "Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het".

            Dwarsdeur die Skrif kry ons hierdie negatiewe elemente en swaarkry, wat gelowiges soos laste moes dra. Abraham moes kinderloos voortbeweeg, Jakob se broer veg teen hom, Josef word as slaaf verkoop en beland in Egipte in die tronk, Job ervaar groot teëspoed en word deur sy vriende misverstaan, Dawid moet gedurig vir Saul vlug, Daniël beland in die leeukuil en sy vriende in 'n brandende oond, Jeremia word vervolg en in 'n put gegooi.

So loop hierdie patroon deur die Skrif.  ‘n Vrou het een oggend baie beswaard vir wyle dr Andrew Murray gebel oor haar probleem.  Hy het vir haar gesê: “Soek vir jou vir nog ‘n beswaarde vrou dan bid julle saam.”

”Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” 1 Thes 5:18 – Wekroep

Donderdag 15 Januarie 2015

Is jou lewe ook verskroei....


 


Ps 119:65-72: "Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek U voorskrifte geleer" (vs. 71).

Daar is ‘n sonderlinge meerjarige denneboomsoort, die Lodgepole Pine, wat volop in die Yellowstone Nasionale Park in Amerika groei. Die dennebolle kan vir jare aan die boom hang sonder om oop te gaan. Al val so 'n dennebol op die grond bly dit heel.  As 'n veldbrand sou woed en al die bome en struike afbrand en vernietig, bars hierdie dennebolle oop en begin groei. Hierdie dennebome is soms van die eerste groei en groenigheid na 'n hewige veldbrand.

Hierdie kwaliteit van behoud onder groot beproewing is een van God se wonder genadewerke, nie net in die natuur nie, maar ook in mense se lewens. Dit is juis die skroeiende beproewing wat 'n besondere lewensgehalte te voorskyn bring. Dit is die pad wat verskillende van die bruikbaarste Bybelfigure gegaan het: Josef, wat as slaaf na Egipte toe verkoop is en daar uit wraak in die tronk beland het, het die redder van mense, veral sy eie broers en familie, geword; Daniël is in die leeukuil gegooi en het daarna God se oorwinnende profeet geword; Paulus het hoeveel kere in die tronk beland, is met klippe gegooi, is vervolg en verwerp, maar hy was die oorvloedige verkondiger van die evangelie.

"Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref.." (2 Kor. 4:16,17).

Die Pinksterboodskapper vertel die storie van Louis Braille. Sy pa was 'n leerwerker in 'n Franse dorp. Sy pa stuur hom eendag om 'n els in sy werkkamer te gaan haal. So gretig is hy dat hy hardloop. Hy val. Die els steek in sy oog. 'n Verswering in die oog belemmer later ook die ander oog en kort daarna was dié briljante seun blind.

Sy ouers stuur hom na 'n skool vir blindes. Daar gekom vind Louis dat hulle die letters uit dik papier sny, dit dan weer op ander papier plak en dan voel die blinde kinders met hulle vingers watter letters dit is. Dit was tydrowend en onprakties. So 'n boek sou nooit gedruk kon word nie.

Op 'n dag lees iemand vir Louis van die Franse leëroffisier wat met opgehewe dotjies letters maak, sodat sy manne sy bevele in die donker kan lees. Hy het geleentheid gekry om met die offisier te gesels. Hieruit volg dat Louis begin om met 'n els, dieselfde els wat in sy oog gesteek het, 'n stelsel van dotjies in papier te druk. Hieruit het die Brailleskrif gevolg wat aan die wêreld se blindes 'n leesbare skrif gegee het, sodat boeke, en selfs die Bybel, vir hulle in leesbare vorm gegee kon word.

GEBED: Here, vandag wil ek my beproewing beskou as U geleentheid om 'n beter vrug in my lewe te skep. Halleluja!

Die geheim van Lewenskrag




1 Sam 1:9-28: "Here, Almagtige, as U…aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee…" (vs. 11)

William Quarrier se vader is oorlede toe hy drie jaar oud was. Hy was net vyf jaar oud toe baie jare gelede kaalvoet, koud en honger in een van Glasgow se strate gestaan het. Hoekom gee niemand vir hom kos nie, het hy gewonder. Hy het 'n dag en half laas iets te ete gehad. Daar in die koue het hy ‘n besluit geneem: Hy sal nie soos hierdie mense optree wanneer hy die dag die vermoë het om ander te kan help nie.

Toe hy ses en 'n half jaar oud was, begin hy in 'n speldefabriek 'n twaalfuurskof werk teen 'n sjieling 'n week. Watter lewenskans het so 'n verwaarloosde, arm kind? Op 17-jarige ouderdom hoor William vir die eerste keer die Evangelie van God se liefde en Christus Jesus se verlossingswerk. Vir so 'n wonderlike boodskap het sy hart oopgegaan en William is wedergebore.

Op 18-jarige ouderdom begin hy skoenewinkel en gou had hy ‘n string skoenwinkels. Sy visie was om armoedige kindertjies te help.

In 1903 is William na die HERE toe. Hy het in sy doel geslaag. Vandag is daar die Orphan  Home of Scotland. William Quarrier het dit opgerig. Dit bestaan uit 34 huise. Altesame 1 500 arm kinders is daar gehuisves. Teen 1890 was daar ook ‘n skool, ‘n kerk (Berg Sion Kerk, waar hy en sy vrou ook begrawe is) en ‘n brandweer. Dit is dieselfde William wat op 5-jarige ouderdom kaalvoet in die straat hom verknies het oor sy lot as arm weeskind op straat. Sy bekering het so 'n groot krag in sy lewe ingebring dat hy so 'n taak kon aanpak en suksesvol uitvoer. Christene het ook skenkings begin bydra.

Die grootste lewensbelegging wat 'n mens kan maak, is om sy lewe vir die Here te gee. Die Here neem 'n waardelose swak mens en bring deur die Heilige Gees krag en rykdom in die innerlike lewe in en die persoon word 'n nuttige, diensbare mens op aarde, wat God verheerlik en sy medemens verryk.

"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het" (Efes 2:8,9).

GEBED: Here, vandag open ek my hart vir die rykdom wat U deur U Gees in 'n mens se lewe inbring sodat ook ek na ander kan uitreik.

Dankbaarheid teenoor Ondankbaarheid




‘n Meisie was blind weens onontwikkelde korneas in elke oog. Sy het almal gehaat oor haar blindheid. Vir haar kêrel was sy baie lief omdat hy baie vir haar omgegee het en so liefdevol was.

Eendag het sy aan haar kêrel gesê: “As ek maar die wêreld rondom my kon sien, dan sou ek met jou trou.” Sy was op ‘n waglys vir kornea-oorplantings en een dag gebeur dit toe wel dat so ‘n operasie uitgevoer kon word.

Toe die verbande ‘n paar dae later verwyder is, kon sy alles sien, ook haar kêrel. Hy vra toe: “Nou dat jy kan sien, sal jy met my trou?”

Sy het na hom gekyk en was geskok, want hy was blind. Sy wou nie die res van haar lewe in sy twee blinde oë vaskyk nie. Sy weier toe om met hom te trou. Haar kêrel het haar gelos en dae later met groot hartseer aan haar geskryf: “Jy moet jou oë mooi oppas, voordat dit jou oë geword het, was dit my oë.”

Dis hoe die menslike brein soms werk by verandering van status. Baie min mense onthou hoe die lewe voorheen was, hoe ander hulle bygestaan het deur dik en dun.

Die lewe is ‘n geskenk

Voordat jy weer iets negatiefs oor iemand sê, dink aan hulle wat nie kan praat nie.

Voordat jy oor die kos kla, dink aan hulle wat niks het om te eet nie.

Voordat jy kla oor jou maat, dink hoeveel smag na ‘n lewensmaat.
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                             
Voordat jy kla oor die lewe, dink aan hoeveel mense te vroeg die Ewigheid in is.

Voordat jy kla oor jou kinders, dink aan hoeveel moeders nie kinders kan hê nie.

Voordat jy kla oor jou vuilerige huis of motor, dink aan die duisende wat nie huise en motors het nie.

Voordat jy kla oor hoe ver jy iewers heen moet ry, dink aan die mense wat die afstand te voet moet aflê.

Voordat jy kla oor jou werk, dink aan die miljoene wat nie werk het nie.

Voordat jy jou vinger uitsteek of iemand oordeel, dink daaraan dat jyself nie volmaak is nie en dat ons almal verantwoording moet doen aan ons Skepper.

Voordat jy toegee aan depressie, dink daaraan dat God steeds vir jou God is en loof Hom.

Voordat jy toelaat dat enigiets jou ontwrig, tel net jou seëninge, en kyk wat God jou gegee het.

‘n Tydige Boodskap



 
Ps 62:1-13: "Dit is net van God wat ek werklik rus verwag, dit is net Hy wat my red. Hy beskerm my en red my en bewaar my veilig sodat ek nie sal val nie, al struikel ek ook" (vs. 6-7).
 
In sy boek 'Hou Op Kwel en Begin Lewe'  laat die bekende skrywer, Dale Carnegie,'n vrou haar aangrypende verhaal vertel: "Gedurende die depressie, was my man se inkomste $18 per week. Ons het ons huis kwyt geraak en ons het die kruidenier geld geskuld. Ons het vyf kinders gehad. Ek het vir die bure gewas en gestryk en tweedehandse klere by die Heilsleër gekoop, wat ek vir my kinders reggemaak het. Een dag het die kruidenier, aan wie ons geld geskuld het, my elfjarige seuntjie van diefstal van 'n paar potlode beskuldig. My seuntjie het dit snikkende vir my kom vertel. Ek het geweet hy was onskuldig, maar hy is voor 'n klomp mense tot dief en leuenaar gemaak. Dit het my geknak. Verneder in my ellende en siek van kwelling, met geen hoop wat ek in die toekoms kon sien nie, het ek my vyfjarige dogtertjie na die slaapkamer toe geneem. Ek het al die openinge by die vensters en deur toegestop.
 
Daarna het ek die gasverwarmer oopgedraai, maar nie aangesteek nie. Ek het my dogtertjie geneem en met haar op die bed gaan lê. 'Kom ons twee slaap 'n bietjie voor die ander van die skool af kom,' het ek haar gerusgestel. Ek het my oë toegemaak en geluister hoe die gas uit die verwarmer blaas. Ek sal in my lewe nooit die reuk van daardie gas vergeet nie!
 
Skielik hoor ek musiek. Ek luister. Ek het vergeet om die radio in die voorkamer af te skakel. 'Laat hom maar speel,' dink ek. 'Dit maak tog nie nou meer saak nie'. Die musiek duur voort en teen my sin luister ek. Iemand begin sing: 'Wat 'n Vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan; Wat 'n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan! Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart, Net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!'
 
Terwyl ek na die lied luister, besef ek watter tragiese fout ek begaan. Ek probeer my vreeslike stryd alleen stry. Ek moet al my node in Gods Vaderhart uitstort. Ek het opgespring, die gas toegedraai, die deur oopgemaak en die vensters oop geskuif. Die res van die dag het ek gehuil en gebid – nie vir hulp nie, maar om my hart in danksegging uit te stort. Ek het al God se seëninge in my lewe gesien! Ek het vyf lieflike, gesonde kinders. Ek het 'n man wat my en die kinders lief het. Ek is gesond. En ek het Hom geloof dat Hy my so wonderlik in my waansinnige daad gestuit het!
 
Ons het na 'n klein, ou skoolgeboutjie verhuis, wat ons teen $5 per maand kon huur. Ek het God eerlik gedank dat ons droog en warm kon slaap, 'n dak oor ons kop gehad het, elke dag kon eet. Toe begin dinge verbeter. My man het 'n beter werk gekry. Ek het 'n vaste werk gekry. My oudste seun het op 'n plaas werk gekry – hy moes wel soggens en saans 13 koeie met die hand melk! - maar hy het 'n inkomste gehad.
 
Vandag is my kinders groot en getroud. Almal het goeie werk. Ek het drie lieflike kleinkinders. As ek terugdink aan daardie verskriklike dag toe ek die gas oopgedraai het, dank ek God oor en oor dat Hy my betyds gekeer het. Wat sou ek gemis het, watter wonderlike jare sou ek verbeur het!"
 
Volg die lied se raad: Stort jou nood uit in God se vaderhart. Rus in Sy arms. "Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou" (Deut.33:27). Ons hét 'n Vriend in Jesus en deur Hom het ons 'n Almagtige Vader. "Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie" (Ps.56:4).
 
GEBED: Here, vandag stort ek my nood in u Vaderhart uit. – Manie Colyn

Saterdag 10 Januarie 2015

Hou aan saai, die vrug sal dra




Matt. 13:3–8 en 18-23: "Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die Woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes..." (vs. 23)

Peter J Pell was lid van die bekende Pell familie wat Gospel Folio Press begin het. Peter vertel van ‘n man wat 40 lank die uitbreiding van die Here se Koninkryk behartig het. Hy het  op 'n straathoek gestaan en allerlei Evangeliese leesstof uitgedeel. Peter vertel dat hoe ouer die man geword het, het die straathoekwerk vir hom moeilik geraak en hy het buitendien geen vrug op sy saaiwerk gesien nie. Hy het opgehou.

'n Paar jaar later loop hy een Saterdagaand by daardie straathoek verby en 'n jongman gee vir hom 'n Evangeliese traktaatjie. Hy vra die jongman: "Hoekom is jy vanaand hier en doen jy hierdie werk?"

Die jongman antwoord: "Meneer, sien, hier het gereeld 'n ouerige man Saterdagaande op hierdie straathoek gestaan en traktaatjies uitdeel. Ek het een aand een geneem en dit het my na die Here toe gelei en ek is Wedergebore. Dit is nou al 'n ruk lank dat die ouman nie meer hier is nie. Ek dink hy is seker Hemel toe. Ek het toe in my hart gevoel en wil ook vir die Here werk en ek kom neem nou maar sy plek in."

Die ouman se oë vul met trane en hy gryp die jongman se hand. "Dit is ek wat die traktaatjie vir jou gegee het. En met God se genade gaan ek weer met my werk om traktaatjies uit te deel, begin en aanhou totdat die Here Jesus weer kom."

Dit is Gelowiges se roeping om die Woord te saai. In sommige harte gee God deur sy genade die wasdom en iemand word vir Christus gewen. "Julle is immers Wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige Woord van God... en hierdie Woord is die evangelie wat aan julle verkondig is" (1 Pet. 1:23). Dit is baie ongelukkig as 'n kind van die Here dwarsdeur die lewe gaan sonder om ooit iets te doen om 'n ander vir Christus te wen nie.

MOET EK GAAN MET LEë HANDE,
MOET EK SO MY HEER ONTMOET ?
NIE EEN DAG AAN HOM GEWY NIE,
NIKS TE OFFER AAN SY VOET ?

KOOR:
MOET EK GAAN MET LEë HANDE,
MOET EK SO MY HEER ONTMOET ?
NIE EEN SIEL GELEI NA JESUS,
NIKS TE OFFER AAN SY VOET ?

GEBED: Here, van vandag af soek ek geleentheid om U aan iemand bekend te maak.

Van swaarkry na Heerlikheid


 


2 Kor 4:16-18: "Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid … wat ewig bly" (vs. 17).

Die dag van Lee Oswald se sluipmoord op pres. John Kennedy, is 'n polisieman, J. D. Tippit, ook doodgeskiet. Pas na Tippit se ontslag as soldaat uit die V.S.A.-leër in 1946, het hy na sy tuiste in Red River County, Texas, V.S.A. teruggekeer. Hy het een aand ‘n meisie, Marie, saamgeneem na 'n Herlewingsdiens toe wat op hulle dorp gehou is.

Hulle vriendskap het van daardie aand af verdiep, totdat dit op 26 Desember van daardie jaar op 'n huwelik uitgeloop het. Totdat hulle in 1952 na Dallas verhuis het, was hulle meelewende lidmate van hulle kerk in Red River County. Tippit het by die polisie aangesluit om beter vir sy groeiende gesin te kon sorg. In die nuwe dorp, te midde van baie bedrywighede, het hulle lewe vir die Here afdraend begin loop. In 1962 het hulle hul lewens opnuut aan die Here oorgegee en aktiewe, werkende lidmate van hulle kerk in Dallas geword. Hulle seun Allen, en dogter Brenda, het in daardie tyd ook die Here gevind.

Na Tippit se dood, die dag met die sluipmoord op pres. Kennedy, het Marie Tippit haar troos by God gesoek. Sy getuig: "The experiences that have come during this period of bereavement have drawn me closer to God than I have ever been before. I could never have got through the experiences of the past months without God's presence and power."

Om naby aan die Here te lewe vrywaar ons nie van leed, beproewing en teleurstelling nie, maar ín die beproewing is dit ons behoudende krag. Sonder die Here kan ons in so 'n seermaaktyd in ons lewe, dalk totaal ontspoor en 'n afdraend pad volg. 'n Ou liedjie sê: "In die skadu van beproewing vind ek Jesus." As ons beproewing vir ons 'n verdieping van ons geestelike lewe en groter bruikbaarheid vir die Here meebring, verander die beproewing in 'n seën.

Vir Marta en Maria, het die siekte en dood van hulle broer, 'n dieper kennis van Jesus en 'n inniger liefde vir Hom meegebring. Vir húlle was die troos die werklike teruggee van 'n lewende broer. Met dieselfde krag waarmee Jesus Lasarus aan sy susters teruggegee het, wek Hy deur sy Heilige Gees in die gelowige hart ook nuwe lewe, nuwe geloof, nuwe troos op. "Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie…dié wat op die Here vertrou kry nuwe krag" (Jes. 40:29,31). "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God, Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou" (Jes. 41:30).

GEBED: Here, vandag skuil ek in beproewing by U.