Saterdag 10 Januarie 2015

Van swaarkry na Heerlikheid


 


2 Kor 4:16-18: "Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid … wat ewig bly" (vs. 17).

Die dag van Lee Oswald se sluipmoord op pres. John Kennedy, is 'n polisieman, J. D. Tippit, ook doodgeskiet. Pas na Tippit se ontslag as soldaat uit die V.S.A.-leër in 1946, het hy na sy tuiste in Red River County, Texas, V.S.A. teruggekeer. Hy het een aand ‘n meisie, Marie, saamgeneem na 'n Herlewingsdiens toe wat op hulle dorp gehou is.

Hulle vriendskap het van daardie aand af verdiep, totdat dit op 26 Desember van daardie jaar op 'n huwelik uitgeloop het. Totdat hulle in 1952 na Dallas verhuis het, was hulle meelewende lidmate van hulle kerk in Red River County. Tippit het by die polisie aangesluit om beter vir sy groeiende gesin te kon sorg. In die nuwe dorp, te midde van baie bedrywighede, het hulle lewe vir die Here afdraend begin loop. In 1962 het hulle hul lewens opnuut aan die Here oorgegee en aktiewe, werkende lidmate van hulle kerk in Dallas geword. Hulle seun Allen, en dogter Brenda, het in daardie tyd ook die Here gevind.

Na Tippit se dood, die dag met die sluipmoord op pres. Kennedy, het Marie Tippit haar troos by God gesoek. Sy getuig: "The experiences that have come during this period of bereavement have drawn me closer to God than I have ever been before. I could never have got through the experiences of the past months without God's presence and power."

Om naby aan die Here te lewe vrywaar ons nie van leed, beproewing en teleurstelling nie, maar ín die beproewing is dit ons behoudende krag. Sonder die Here kan ons in so 'n seermaaktyd in ons lewe, dalk totaal ontspoor en 'n afdraend pad volg. 'n Ou liedjie sê: "In die skadu van beproewing vind ek Jesus." As ons beproewing vir ons 'n verdieping van ons geestelike lewe en groter bruikbaarheid vir die Here meebring, verander die beproewing in 'n seën.

Vir Marta en Maria, het die siekte en dood van hulle broer, 'n dieper kennis van Jesus en 'n inniger liefde vir Hom meegebring. Vir húlle was die troos die werklike teruggee van 'n lewende broer. Met dieselfde krag waarmee Jesus Lasarus aan sy susters teruggegee het, wek Hy deur sy Heilige Gees in die gelowige hart ook nuwe lewe, nuwe geloof, nuwe troos op. "Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie…dié wat op die Here vertrou kry nuwe krag" (Jes. 40:29,31). "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God, Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou" (Jes. 41:30).

GEBED: Here, vandag skuil ek in beproewing by U.