Donderdag 15 Januarie 2015

Egskeidings se verwoestende effek op kinders


 



In die Anglo-Boere-oorlog het 24 000 onskuldige Boervolk kindertjies wreedaardig gesterf. Vandag sterf ons kinders geestelik, word hulle halfwees gelaat weens die gruwel van egskeidings.

Egskeidings saai ‘n gruwelike verwoesting onder kinders. Kinders is en bly die lydende party in die geval van egskeidings. Feit is, na ‘n egskeiding is en bly die kinders halfwees.

‘n Nuwe studie gedoen deur die LaTrobe Universiteit in Australië, toon aan dat “egskeidings ‘n verwoestende effek” op kinders het, veral op dié wat nog klein is.

Babaslagoffers pas nie maklik by ‘n enkelouer aan nie en aanpassing word ‘n lewenslange probleem.

Die studie het bevind dat volwassenes wat die slagoffers van egskeidings was toe hulle nog babas was, “onrusbarende vlakke van emosionele onsekerheid het en oor ‘n swak vermoë beskik om sterk emosies te hanteer.”    

‘n Kundige, Risa Garon, sê dit is verkeerd om aan te neem dat kinders te jonk is om te besef dat hulle ouers se huwelik opbreek.  “Daar is geen ouderdom waar ‘n kind nie intensief  deur egskeidings geaffekteer word nie.”

Elizabeth Marquardt van die Instituut vir Amerikaanse Waardes, sê “egskeiding skep ‘n gevaarlike dubbel standaard.”         

“Ons behandel kinders uit ‘n egskeiding asof hulle ‘n ander spesie is. Skielik is dit in orde dat kinders dae lank van hulle ma af weg is, en dan weer dae lank weg is van die vader.

“Dit is iets wat die deursnee getroude pare nie eers van sal droom om aan hulle kinders te doen nie.”

Sy het bygevoeg dat daar ouers is wat wonder hoe hulle egskeidings makliker vir kinders kan maak om te verwerk, maar hulle mis die hele argument:  Egskeiding is nooit maklik vir kinders nie.  

“Egskeidings rekonstrueer die kinderlewe fundamenteel. Wanneer mens ‘n huis in twee verdeel raak dit die kinders se morele en geestelike ontwikkeling ten diepste.”

In Suid-Afrika is egskeiding ‘n alledaagse ding. Elke week landwyd sit die ouers in strepe by die Mosiehowe en wag om geskei te word.

Talle boeke word geskryf en studies gedoen oor hoe om kinders te help om egskeidings te bowe te kom, maar dit is om die simptome in plaas van die oorsake te behandel.

Matt. 19: 5-9 lees: “En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;

“sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

“Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om 'n skeibrief te gee en van haar te skei?

“Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie.

“Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.”

Kyk hoe hard het ons mense se harte nie geword nie. Matt. 24:12 sê die rede vir die hardheid van ons mense se harte is “omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.”

Jesus sê in Joh. 5:42 “Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God nie in julle het nie.”

Navorsing het getoon dat baie getroude paartjies weens seksuele (eros) liefde met mekaar trou, ander weer bloot weens menslike (fileo) liefde en dat bitter min paartjies deesdae weens Goddelike (agapé) liefde trou.

Jesus sê in Joh. 15:          9-11 “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.

“As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

“Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.”

In ons huwelike is ons blydskap nie volkome nie want getroude pare bly nie in Sy liefde nie, hulle bewaar nie God se gebooie nie.

Wanneer die blydskap nie meer daar is nie, verhard die harte en strand die huweliksbootjies – en onskuldige kinders is die lydendes.

Kol. 3:13-16          “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.

“En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

“En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.

“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.”

Dis mos hoe getroude pare moet leef!

1 Kor. 13:4-7 “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, “handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, “is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.

“Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles…”

As ons nog met eros en fileo liefde saamleef, moet ons dringend by agape liefde uitkom.

Ouers en huweliksbevestigers moet ‘n baie groter rol in jongmense se lewens speel om hulle te kan lei om korrekte besluite te neem.  Die gesinslewe moet herstel word.

Seksvoorligting op skole moet gestaak word en vervang word met gesinsvoorligting.

Die skokkendste is dat mense trou sonder dat hulle die vaagste idee het waaroor die getroude lewe handel of hoe om hulle kinders op te voed!

Die gesinslewe is die pilare waarop ‘n volk gebou word, verkrummel die pilare stort alles ineen.

Gebedsgroepe word ernstig versoek om vir hierdie saak te bid. Dit kan nie langer so voortduur nie want ons mense skei teen ’n tempo van bykans een uit elke twee huwelike.

Mense moet aangemoedig word om die TV af te skakel en weer die huisaltaar (boekevat) in hulle huise in te stel. Niemand kan die lewenspad sonde God, sonder die Woord (die lamp vir jou voet) en sonder wysheid stap nie! – Sjibbolet