Donderdag 15 Januarie 2015

Die geheim van Lewenskrag




1 Sam 1:9-28: "Here, Almagtige, as U…aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee…" (vs. 11)

William Quarrier se vader is oorlede toe hy drie jaar oud was. Hy was net vyf jaar oud toe baie jare gelede kaalvoet, koud en honger in een van Glasgow se strate gestaan het. Hoekom gee niemand vir hom kos nie, het hy gewonder. Hy het 'n dag en half laas iets te ete gehad. Daar in die koue het hy ‘n besluit geneem: Hy sal nie soos hierdie mense optree wanneer hy die dag die vermoë het om ander te kan help nie.

Toe hy ses en 'n half jaar oud was, begin hy in 'n speldefabriek 'n twaalfuurskof werk teen 'n sjieling 'n week. Watter lewenskans het so 'n verwaarloosde, arm kind? Op 17-jarige ouderdom hoor William vir die eerste keer die Evangelie van God se liefde en Christus Jesus se verlossingswerk. Vir so 'n wonderlike boodskap het sy hart oopgegaan en William is wedergebore.

Op 18-jarige ouderdom begin hy skoenewinkel en gou had hy ‘n string skoenwinkels. Sy visie was om armoedige kindertjies te help.

In 1903 is William na die HERE toe. Hy het in sy doel geslaag. Vandag is daar die Orphan  Home of Scotland. William Quarrier het dit opgerig. Dit bestaan uit 34 huise. Altesame 1 500 arm kinders is daar gehuisves. Teen 1890 was daar ook ‘n skool, ‘n kerk (Berg Sion Kerk, waar hy en sy vrou ook begrawe is) en ‘n brandweer. Dit is dieselfde William wat op 5-jarige ouderdom kaalvoet in die straat hom verknies het oor sy lot as arm weeskind op straat. Sy bekering het so 'n groot krag in sy lewe ingebring dat hy so 'n taak kon aanpak en suksesvol uitvoer. Christene het ook skenkings begin bydra.

Die grootste lewensbelegging wat 'n mens kan maak, is om sy lewe vir die Here te gee. Die Here neem 'n waardelose swak mens en bring deur die Heilige Gees krag en rykdom in die innerlike lewe in en die persoon word 'n nuttige, diensbare mens op aarde, wat God verheerlik en sy medemens verryk.

"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het" (Efes 2:8,9).

GEBED: Here, vandag open ek my hart vir die rykdom wat U deur U Gees in 'n mens se lewe inbring sodat ook ek na ander kan uitreik.