Donderdag 15 Januarie 2015

Bemoedig mekaar – Dis Liefde sonder weerga




Bemoediging word deur Paulus beklemtoon (1 Thes 2:11-12) as een van die pilare waarop die Evangelie gebou is. Dis die hoeksteen van die openbaring van Christelike liefde een teenoor ‘n ander (1 Thes 4:18; 5:11,14).
            Die woord bemoedig kom talryk in die Nuwe Testament voor, en beslis nie sonder besondere goeie rede nie.
            Die Griekse woord Parakaleo beteken om saam langs iemand te stap omdat daardie iemand vreesagtig of swak is, probleme het, onder groot druk gebuk gaan. neerslagtig is, om so iemand te bemoedig.
            Stap ‘n entjie saam met hom of haar. Dis jou roeping!
            Dit beteken ook om iemand te ondersteun met die benodigde hulp. Om iemand wat sy werk verloor het te ondersteun met ‘n houer kruideniersware, los nie die probleem op die. Die benodigde hulp is veel groter.
            Gal 6:2 “Dra mekaar se laste (hoekom?) en vervul so die wet(liefde) van Christus.”
            Jak 5:16 “Bid vir mekaar (hoekom?) sodat julle gesond kan word. As jy ‘n misdryf teenoor iemand gepleeg het, bely dit en bid dan vir mekaar.
            Ons leef in ‘n geestelik vyandige wêreld. Ons het nodig om mekaar op deurlopende grondslag te bemoedig en te ondersteun. Moenie skinder nie, gaan help.
            Wanneer ons iemand bemoedig dan skenk ons God se waarheid en hoop aan ander.
            Dis ons plig, ons opdrag, om mekaar te bemoedig.
            Daar is mense wat van tyd tot tyd wil weet, maar as God dan ‘n God van liefde is, waarom gebeur daar sulke treurige goed op die aarde? Feit is, dat ons God se ambassadeurs op aarde is. Dis ons wat die liefde van God so sterk moet versprei dat die treurmares nie sal plaasvind nie.
            As gereddes is dit ons roeping om Christus se onvoltooide werk op aarde te volbring. Dit moet ons doen deur die Evangelie uit te dra, deur Christus se liefde en erbarming uit te dra. Om te bemoedig, om waarheid en hoop te verkondig en toe te pas.
            Die opdrag is ook: Bid vir mekaar. Ons bid hopeloos te min. Ons besef nie dat ons totale behoud van gebed afhang nie. Om vir mekaar te bid en mekaar te bemoedig is een van die groot kragte wat aan die werk moet wees binne die Christen-gemeenskap.
            Omdat die mens verskeie soorte druk moet trotseer, neem bemoediging ook verskeie vorme aan, soos bv. fisiese of geldelike hulp, vermaning, aansporing, bevestiging, lofprysinge, troos, ens. Dit bevestig aan die lydendes hulle waarde en potensiaal, ja, dat hulle meer werd is as mossies Matt 10:31.
            So bemoedig Jesus vir Petrus toe Hy aan Petrus sê dat Petrus ‘n rots is waarop Hy sy gemeente sal bou.
            Het jy al iemand bemoedig met Efes 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, (hoekom?) sodat ons daarin kan wandel.”
            So moet ouers ook hul kinders bemoedig, daar vanaf hul eerste tree.
            Terloops: Het jy al saam met jou predikant gaan bid omdat jy vir hom omgee? Wanneer laas het jy en jou gesin saam gebid?
            Paulus was ‘n meester op die gebied van bemoediging soos bv in 1 Thes 1:2-8 “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader, omdat ons weet van julle verkiesing, broeders wat deur God bemin word.
             “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het.
            “En julle het navolgers van ons geword en van die HERE deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees,  sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedónië en Acháje.
            “Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie.”
            As iemand goed doen, bemoedig hulle. As iemand onder druk verkeer, bemoedig hulle. Bemoediging moet ‘n deurlopende aksie wees.
            Mense vra mekaar hoe dit gaan, maar stel nie werklik belang in die antwoord nie. Ons moet ten alle koste belangstel. As daar goeie nuus is, dan moet ons die HERE loof.
            As dit nie sulke goeie nuus is nie, dalk probleme en sorge is, dan moet ons betrokke raak (hoekom?), want “die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Gal 5:22
            1 Kor 12:20-27 lees: “Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.
            “En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.
            “Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie;
            “God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, (hoekom?)  sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra.
            “En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”
            “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.”
            Bemoedig, vertroos diegene wat as gevolg van een of ander gebeurtenis neergevel is.
            “Bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” 1 Thes 5:14.
            Ons sal geliefdes langs die lewenspad moet groet (tot ‘n latere vir sekere weersiens), ons kan finansieel seerkry, ons kan van tyd tot tyd mislukking op die lyf loop, ons kan gesondheidsprobleme ondervind. folterende familieprobleme beleef, veral wanneer sommige goed mos gelyktydig gebeur.
            Ons kan ook gebroke harte hê, maar Jesus heel die gebroke harte. Bemoedig iemand het hierdie woorde:
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (maar ook) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
            Lees in 2 Tim 4 hoe Paulus vir Timotheus bemoedig.
            Soms word ‘n gelowige deur ‘n misdaad oorval. Wat dit ook al mag wees, staan hom en haar by deur dik en dun. Moenie oordeel nie, help, bemoedig, want”
            “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.
            “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.
            “Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” Gal 6:1-3
            En as jy self ‘n gevangene is of ‘n pasiënt in een of ander inrigting, bemoedig die ander rondom jou. “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.” Spreuke 11:25
            Bemoedig iemand ook met die volgende: Heb 12:11-13 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.”
            Moedig die gebrokenes aan om terug te kom in die wedloop, om die wedloop te voltooi. Elkeen kan in die naam van Jesus Christus oorwin.
            Is jy genoegsaam betrokke by ander Christene sodat hulle kan weet wanneer jy in ‘n lewensslaggat getrap het?
            Dis wonderlik om bemoedig te word, maar dis ‘n groter wonder om iemand anders te bemoedig. Dit is ‘n kragtige bediening wat elkeen van ons geroep is om te lewer.
            Om effektief in hierdie roeping te kan optree, moet mens die Woord goed ken. Dis nie ons persoonlikhede, ons knaphandigheid, ons intelligensie wat die punte aanteken nie, maar die Woord van die HERE, want die Woord is lewendig!
            “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
            “En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik. Rom 15:4-6
            Kyk hoe beskryf Jesaja die uitwerking wat die HERE op Sy kinders het: “Die Here HERE het My 'n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” Jes 50:4.
            Ja, soms is dit nodig om iemand met die Skrifte te bemoedig. Soms parafraseer ons dit in ons eie woorde. Soms is dit nodig om te vertel hoe ‘n betrokke Skrifgedeelte jou eie lewe verander het.
            “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons, ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” Hebr 10:23-25
            Hoop in die Bybel beteken nie wens nie, maar toekoms-feit.
            Ons bemoedig egter nie net mede-gelowiges nie, maar ook die ongereddes. Liefde is die sleutel tot mense se harte en lewens.        
            Bemoediging gaan nie sonder gebed gepaard nie. Die opdrag is om vir mekaar te bid, vir die gereddes en die ongereddes en op die Heilige Gees te vertrou rakende die soort bemoediging wat ons moet verleen.
            “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.
            “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” Gal 5:9-10
            Soos wat mens vir die verdruktes bid, kom lê die Heilige Gees dit op ‘n mens se hart oor hoe mens moet optree. Dalk deur ‘n persoonlike besoek, ‘n telefoonoproep, ‘n e-pos. Dalk ‘n bemoedigende woord, dalk ‘n skenking van die een of ander aard.
            As mens ‘n goeie luisteraar is, kry mens vele geleenthede om te bemoedig, ook oor watter soort bemoediging nodig is. Dit maak ook dat die ontvanger meer ontvanklik is vir jou bemoediging. Soos met elke bekwaamheid in die lewe oefen mens jou in bemoediging in.
            Moenie aan ‘n verdrukte sê hy moet na jou predikant toe gaan, of jy sal die predikant na hom of haar toe bring nie, nee, jy moet self die bemoediging hanteer.
            Bemoedig elke dag iemand. Dis jou roeping! – Sjibbolet