Donderdag 15 Januarie 2015

Die klein jakkalsies verniel die wingerd...




Die klein jakkalsies verniel die wingerd (Hoogl 2:15): Skinderstories waaraan ons, onsself so maklik skuldig maak. “Wie ‘n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ‘n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar.” Spr 17:9
            “Die verstandelose verag sy naaste, maar ‘n verstandige man bly stil.” Spr 11:12
            Iemand het gestruikel, ‘n ander het geval. En wat staan ons dan te doen wat nog staande is, voordat ons ook straks struikel of dalk val?
            “As iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” Gal. 6:1
            Doen ons dit, of kan ons nie wag om die struikelende en die vallende se saak te beskinder nie?
            Paulus bemoedig ons om die regte ding te doen: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.
            Paulus sê ook: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” Gal 6:9-10
            Die HERE sê: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9
            Die HERE sê ook dat hy die een wat gestruikel het of geval het, se sondes werp in die dieptes van die see. Miga 7:19
            Die HERE sê ook: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Ps 103:12
·       Die afstand tussen noord en suid is net-net meer as 20 000km, maar die afstand tussen oos en wes, is onberekenbaar. As twee vuurpyle langs mekaar afgeskiet word, die een oos en die ander wes sal hulle nooit by mekaar uitkom nie.

            As die HERE dan ons sonde wat ons bely en oor jammer is, so ver van ons af verwyder, hoe durf ander Christene dit by herhaling ophaal en teen ons inbring? As jy dit doen, dan sondig jy.
            As jy nie ‘n gevallene ophelp nie, dan sondig jy. As jy sy struikeling of gevallene beskinder dan doen jy ‘n nog erger sonde.
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (en waar nog?) en by die verbryselde en nederige van gees, (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
            Vraag is: Waar woon of beweeg jy?
            As jy in geselskap beland waar iemand beskinder word, neem standpunt in en gebruik hierdie Skrifte om die skindertonge te berispe. Een of ander tyd sal die nuus van jou tussenbeitreding die gevallene bereik en julle vriendskap met hom of haar versterk.
            Maar as jy saam skinder het jy die toets gedop! Dan het jy nie Bybelse beginsels voorop gestel nie.
            Maar wees reguit, altyd. “‘n Man wat sy naaste vlei, sprei ‘n net uit voor sy voetstappe.” Spr 29:5
            “Die regverdige laat sy pad vir hom wys deur ‘n vriend; die goddeloses verdwaal op die pad wat hulle self kies.” Spr 12:26
            “Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.” Spr 27:6
            “Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered.” Spr 11:9
            Vriende en ander wat jou op hierdie wyse leer ken, sal jou met eerbied behandel. Hulle sal graag jou raad wil vra, graag op jou vertrou. Dit beteken egter dat ons na ander se raad ook sal luister.
            Christenskap is nie soseer om vir almal te vertel jy is ‘n Christen nie, maar om vir ander te wys jy is ‘n Christen, ‘n kind van GOD.
            In Israel en in ander lande durf sendelinge dit nie waag om die Evangelie te verkondig nie. Dit word verbied. Maar die sendelinge verkondig die Woord deur hul lewenswandel. Dit geld ook vir ons. – Sjibbolet