Donderdag 15 Januarie 2015

Verlore Skaap




Teruggebring


Luk 15:3-7: "Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor...gaan (nie) agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?" (vs. 4).

Charles Colson, 'n voormalige assistent van pres. Richard Nixon, is tronk toe gestuur vir sy aandeel aan die Watergate-skandaal. In die tronk het hy C. S. Lewis se boek "Mere Christianity" gelees en tot bekering gekom. Hy het oor sy bekering 'n boek, "Born Again", geskryf.

Die boek se verskyning het 'n uitputtende bekendstellingstoer, vir hom en sy vriend, Fred Denne, tot gevolg gehad. Hulle het een aand te laat vir ete by hulle hotel aangekom. Hulle is na 'n koffiehuis toe om iets te ete te kry. Die plek het 'n Spaanse atmosfeer gehad: rooi teëlvloer, smeeyster stoele en tafels. 'n Kelnerin in 'n pienk uniform het hulle bedien. Vir albei manne het sy na 'n verhoogster gelyk: blonde hare, mooi gesig. "Twee omelette, een tee en een koffie," bestel Fred.

Sy loop om hulle kos te gaan haal. Hulle bespreek kortliks hulle program van die volgende dag, toe buig hulle hul hoofde om die Here vir Sy seën op hulle rit te dank en ook Sy seën oor hulle kos te vra. Hulle bid langer as wat hulle bedoel het, want hulle ervaar soveel seën om die Here voor te dank.

Toe hulle amen sê en hulle koppe oplig, staan sy reeds met die omelette in die hand by hulle en wag. "Haai," vra sy hardop, "het julle ouens gebid?" Almal in die vertrek hoor haar en 'n paar koppe draai in hulle rigting. "Ja," antwoord Colson, ons het gebid." "Joe, dis netjies. Ek het nog nooit iemand hier sien bid nie," sê sy weer met haar helder stem. "Is julle predikers?"

Hulle antwoord, nee, maar sy hou aan vrae vra. Dan sê sy: "Ek is 'n Christen. Ten minste ek was een." "Wat het gebeur?" vra die twee manne amper gelyk. "Ek het as tienderjarige by 'n jeugdiens Jesus as my Verlosser aangeneem. Toe is ek Hawaii toe. Wel, ek het gaandeweg belangstelling verloor, dink ek. Eintlik vergeet daarvan. Nou's dit verby." "Ek dink nie dit is verby nie," sê Colson. "Jy het dit net vir 'n rukkie eenkant toe gestoot." Dit lyk of die kelnerin diep dink. "Dis snaaks, maar toe ek julle sien bid het ek 'n warmte in my hart gekry."

Hulle praat met haar en dring aan by haar om terug te kom na die Here toe. Hulle vertel van die Verlore Seun, oor die Here Jesus se liefde en vergifnis, oor Petrus wat Jesus verloën het, maar deur die Here terug verwelkom is.

'n Paar dae later sien hulle haar weer. "Haai, julle!" roep sy en kom na hulle toe. Sy vertel sy het dieselfde aand 'n Christenvriend gebel. Hy het haar gehelp om by 'n aktiewe kerk en 'n Bybelstudiegroep aan te sluit. "Ek het teruggekom" eindig sy met 'n blye glimlag. Colson het later geskryf: "Until that night, I had felt awkward at times praying over meals in crowded restaurants. Never again." Dit was 'n manier van die Goeie Herder om Sy wegloopskapie terug te bring.

GEBED: Here, vandag wil ek U ook asseblief help om 'n wegloopskaap terug te bring.  –  Manie Colyn