Wys tans plasings met die etiket DIe lewe is 'n geskenk. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket DIe lewe is 'n geskenk. Wys alle plasings

Donderdag 15 Januarie 2015

Geen afstand meer Nie . . .





Efes. 2:13  Maar nou in Christus Jesus, het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus, want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak het en die middelmuur van skeiding afgebreek het ... 18)  want deur Hom het ons albei toegang deur een Gees tot die Vader.

Rom. 10:8  Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.  Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig.

Heb. 10:19  Terwyl ons dan broeders, vrymoedigheid het om in die Heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus.

Die Bybel onthul die feit dat daar geen afstand meer tussen ons en God die Vader is nie.  Golgota het die afstand wat daar was vir eens en vir altyd uitgeskakel.
Vanuit God se oogpunt gesien is ons in totaliteit met Hom versoen (2 Kor. 5:18).  Deur geloof het ons vrye toegang tot die teenwoordigheid van God.
Die enigste afstand wat nog steeds bestaan, is te vinde in die gedagtes van daardie Christene wat nog nie vernuwe is in hulle gemoed nie (Rom. 12:2).
Golgota was God se Meesterstuk.  Niemand het die voorreg gehad om Jesus dood te maak nie.  Hy het self besluit om te sterf en sy Gees in die hand van die Vader oorgegee.  Maar Hy sterwe sodat almal wat ver was, vanaf daardie oomblik naby kon kom.
Die voorhangsel van die tempel skeur.  Nie een klip bly langer op die ander staan nie.  Die aarde skud.  Daar kom duisternis.  Die grafte gaan oop.  ‘n Nuwe bedeling word ingelui.
Nie langer hoef mense diere te offer nie.  Die rol van die aardse hoë priester verdwyn.  Christus self tree nou vir ons in.  Ons hoef nie langer te wag tot die Sabbat om met God in kontak te kom nie.
Ons kan nou enige oomblik van die dag of nag deur die geloof en die Heilige Gees met God in kontak wees en vir solank as wat ons dit per keer nodig af, en selfs permanent.
Die afstand wat daar was, is uit die weggeruim. Ons kan Jesus se soenoffer aanneem en weer met God versoen raak. Ons word vernuwe in ons gemoed, ons gedagtes, ons inbors.
Niemand het enige gronde om dit wat op Golgota gebeur het, as onwaar of nietig te verklaar nie. Op Golgota is ‘n volmaakte werk vir ons sondes volbring.
Die onderhouding van die Wet word met ‘n nuwe Gebod, die van Liefde, vervang.  Liefde pleeg nie oortredings nie en Liefde vergewe oortredings, 70 maal sewe keer.
Ons aanvaar nie net Sy versoeningsdood nie, maar ons sterwe ook saam met Hom aan die Kruis van Golgota.  Ons doen nie meer sonde nie (1 Kor. 15:34;  Rom. 6:11).
Dit is ongelukkig so dat ‘n groot deel van die Christendom vandag nie hulle geloof op die krag van die Kruis baseer nie, maar op die onderhouding van die Wet en deur eie pogings.  Daar is ‘n baie groot verskil tussen ‘n mens se eie pogings, jou resolusies,  en die lewe in en deur die geloof.
Om ‘n ware Gelowige te wees, is om te lewe deur middel van die inwonende krag van Christus.  Dit is ‘n lewe van volle vertroue op God, van aangesig tot aangesig met die Vader (2 Kor. 4:4-6).
Om voort te gaan om getuienis op te stapel as bewys dat jy nie vrye toegang tot God se Genadetroon het nie, maak van jou ‘n koue gevoellose naak gestroopte religieuse roetine – sonder ware vrede en sonder blydskap.
Alleen in die teenwoordigheid van God die Vader belewe mens die volheid van totale blydskap (Ps. 16:11).  En boonop word jy genooi om vandag deur middel van Sy bloed daardie volheid te smaak.  Alleen die bloed van Lam kan jou waarlik vrymaak!
Onthou, dit wat op die Kruis gebeur het, kan mense maar betwis tot in lengte van dae, maar onkunde oor die volle boodskap en krag van die Kruis en die bloed van die Lam, beroof menige Christen vandag van die voorregte wat vir hom en haar bewerk is deur die Liefde van God die Vader.
Daarom staan daar geskrywe:  My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. – Sjibbolet

Kyk wat met lofprysinge vermag kan word.





Verstommend hoe geseënd ons werklik is!

Ons beleef almal van tyd tot tyd hopelose situasies, of, dis hoe dit lyk. Ons word depressief omdat ons vergeet dat die kragte van die Hemel in ons is om enige situasie om te keer.

Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, ons is beslis geseënd. Let op die volgende:

Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op Lofprysinge want ons is reeds geseën.

Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32. Weer berus ons triomf op Lofprysinge want Hy skenk ons alles genadiglik.

Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste ontvanger. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.

Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.

Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge want ons is reeds genees.

Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe.

“Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.

Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.

Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13

God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6

Mens moet jouself met Lofprysinge beklee. Jubel altyd(!) in die HERE.

Habakuk wys ons hoe dit gedoen moet word: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17



Halleluja!
Sing tot eer van die Here ‘n nuwe lied,
          Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
          Laat Israel (dit is ons)hom verheug in sy Maker;
          Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
         Laat hulle Sy naam loof in koordans,
          Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
          (Hoekom?)
          Want die Here het ‘n welbehae in Sy volk;
          Hy versier die ootmoediges met heil.
          Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
(Hoekom?)
om wraak te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
(Hoekom?)
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja! —Ps 149

Verlore Skaap




Teruggebring


Luk 15:3-7: "Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor...gaan (nie) agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?" (vs. 4).

Charles Colson, 'n voormalige assistent van pres. Richard Nixon, is tronk toe gestuur vir sy aandeel aan die Watergate-skandaal. In die tronk het hy C. S. Lewis se boek "Mere Christianity" gelees en tot bekering gekom. Hy het oor sy bekering 'n boek, "Born Again", geskryf.

Die boek se verskyning het 'n uitputtende bekendstellingstoer, vir hom en sy vriend, Fred Denne, tot gevolg gehad. Hulle het een aand te laat vir ete by hulle hotel aangekom. Hulle is na 'n koffiehuis toe om iets te ete te kry. Die plek het 'n Spaanse atmosfeer gehad: rooi teëlvloer, smeeyster stoele en tafels. 'n Kelnerin in 'n pienk uniform het hulle bedien. Vir albei manne het sy na 'n verhoogster gelyk: blonde hare, mooi gesig. "Twee omelette, een tee en een koffie," bestel Fred.

Sy loop om hulle kos te gaan haal. Hulle bespreek kortliks hulle program van die volgende dag, toe buig hulle hul hoofde om die Here vir Sy seën op hulle rit te dank en ook Sy seën oor hulle kos te vra. Hulle bid langer as wat hulle bedoel het, want hulle ervaar soveel seën om die Here voor te dank.

Toe hulle amen sê en hulle koppe oplig, staan sy reeds met die omelette in die hand by hulle en wag. "Haai," vra sy hardop, "het julle ouens gebid?" Almal in die vertrek hoor haar en 'n paar koppe draai in hulle rigting. "Ja," antwoord Colson, ons het gebid." "Joe, dis netjies. Ek het nog nooit iemand hier sien bid nie," sê sy weer met haar helder stem. "Is julle predikers?"

Hulle antwoord, nee, maar sy hou aan vrae vra. Dan sê sy: "Ek is 'n Christen. Ten minste ek was een." "Wat het gebeur?" vra die twee manne amper gelyk. "Ek het as tienderjarige by 'n jeugdiens Jesus as my Verlosser aangeneem. Toe is ek Hawaii toe. Wel, ek het gaandeweg belangstelling verloor, dink ek. Eintlik vergeet daarvan. Nou's dit verby." "Ek dink nie dit is verby nie," sê Colson. "Jy het dit net vir 'n rukkie eenkant toe gestoot." Dit lyk of die kelnerin diep dink. "Dis snaaks, maar toe ek julle sien bid het ek 'n warmte in my hart gekry."

Hulle praat met haar en dring aan by haar om terug te kom na die Here toe. Hulle vertel van die Verlore Seun, oor die Here Jesus se liefde en vergifnis, oor Petrus wat Jesus verloën het, maar deur die Here terug verwelkom is.

'n Paar dae later sien hulle haar weer. "Haai, julle!" roep sy en kom na hulle toe. Sy vertel sy het dieselfde aand 'n Christenvriend gebel. Hy het haar gehelp om by 'n aktiewe kerk en 'n Bybelstudiegroep aan te sluit. "Ek het teruggekom" eindig sy met 'n blye glimlag. Colson het later geskryf: "Until that night, I had felt awkward at times praying over meals in crowded restaurants. Never again." Dit was 'n manier van die Goeie Herder om Sy wegloopskapie terug te bring.

GEBED: Here, vandag wil ek U ook asseblief help om 'n wegloopskaap terug te bring.  –  Manie Colyn

Dankbaarheid teenoor Ondankbaarheid




‘n Meisie was blind weens onontwikkelde korneas in elke oog. Sy het almal gehaat oor haar blindheid. Vir haar kêrel was sy baie lief omdat hy baie vir haar omgegee het en so liefdevol was.

Eendag het sy aan haar kêrel gesê: “As ek maar die wêreld rondom my kon sien, dan sou ek met jou trou.” Sy was op ‘n waglys vir kornea-oorplantings en een dag gebeur dit toe wel dat so ‘n operasie uitgevoer kon word.

Toe die verbande ‘n paar dae later verwyder is, kon sy alles sien, ook haar kêrel. Hy vra toe: “Nou dat jy kan sien, sal jy met my trou?”

Sy het na hom gekyk en was geskok, want hy was blind. Sy wou nie die res van haar lewe in sy twee blinde oë vaskyk nie. Sy weier toe om met hom te trou. Haar kêrel het haar gelos en dae later met groot hartseer aan haar geskryf: “Jy moet jou oë mooi oppas, voordat dit jou oë geword het, was dit my oë.”

Dis hoe die menslike brein soms werk by verandering van status. Baie min mense onthou hoe die lewe voorheen was, hoe ander hulle bygestaan het deur dik en dun.

Die lewe is ‘n geskenk

Voordat jy weer iets negatiefs oor iemand sê, dink aan hulle wat nie kan praat nie.

Voordat jy oor die kos kla, dink aan hulle wat niks het om te eet nie.

Voordat jy kla oor jou maat, dink hoeveel smag na ‘n lewensmaat.
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                             
Voordat jy kla oor die lewe, dink aan hoeveel mense te vroeg die Ewigheid in is.

Voordat jy kla oor jou kinders, dink aan hoeveel moeders nie kinders kan hê nie.

Voordat jy kla oor jou vuilerige huis of motor, dink aan die duisende wat nie huise en motors het nie.

Voordat jy kla oor hoe ver jy iewers heen moet ry, dink aan die mense wat die afstand te voet moet aflê.

Voordat jy kla oor jou werk, dink aan die miljoene wat nie werk het nie.

Voordat jy jou vinger uitsteek of iemand oordeel, dink daaraan dat jyself nie volmaak is nie en dat ons almal verantwoording moet doen aan ons Skepper.

Voordat jy toegee aan depressie, dink daaraan dat God steeds vir jou God is en loof Hom.

Voordat jy toelaat dat enigiets jou ontwrig, tel net jou seëninge, en kyk wat God jou gegee het.