Wys tans plasings met die etiket Wie is gered?. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Wie is gered?. Wys alle plasings

Donderdag 04 Junie 2015

Wat het van jou Getuienis geword?


Image result for trust in god


Julle sal my getuies wees tot aan die uiterste van die aarde (Hand 1:8). En Christus sê as ons Hom voor die mense bely, dan bely Hy ons voor die Vader. Getuig, bely ons nie, kan ons geestelike lewe ook nie beweeg of groei nie en beroof ons onsself van ryke seëninge.

          Om te getuig, is die voorreg van elke wedergebore gelowige, maar baie gelowiges word koud of onverskillig deur die koue ontvangs van hul getuienis.
          Hierdie boodskap van verlossing is vir beide siel en liggaam bedoel en God wat ons verordineer het om getuies te wees, het belowe om Sy Woord aan ons te vervul en te bevestig.  (Heb 2:3-4).
"Hoe sal ons ontvlug as ons so 'n groot saligheid verontagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur diegene wat dit gehoor het, terwyl God nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedieninge van die Heilige Gees volgens Sy wil?"
          "Hy het vir hulle gesê: Gaan die wêreld in en verkondig die Evangelie en maak siekes gesond." Daar is sommige wat vir God wil werk, maar wat vrees dat Hy nie Sy beloftes sal vervul nie.
Dit is net omdat jy nie in die geloof uitgestap het nie, omdat jy nie ‘n vaste vertroue in die Woord van God het nie. Sy Woord is onfeilbaar. Hy het gesê ons is die instrument en die uitbou en onderhou van Sy Koninkryk word deur Sy krag en genade bewerk. Die onus is op Hom, nie op jou en my nie. Al wat ons moet doen is om te gaan vertel.
God sê Hy is waarmaker van Sy woord.  Ons is nie die waarmaker nie. Ons getuig en Hy, deur Sy Heilige Gees, bevestig dit.
Daar is diegene wat nie Christene wil word nie omdat hulle bang is om hul by 'n verlore saak te voeg. Weens die sondes van sogenaamde Christene (iemand noem hulle “papier” Christene) wil sommiges nie graag bekend staan as kinders van God nie. Dit is egter geen verlore saak nie. Dit is die enigste saak wat die moeite werd is om by aan te sluit.
Hy is die enigste God wat jou uitdaag en sê: Toets My of Ek nie ‘n waarmaker van My Woord is nie!
          Die Seun van God, beklee met glorieryke Heiligheid, Goddelike geregtigheid, Hemelse reinheid, het in hierdie bose wêreld gekom en die Ewige Lewe, die opstanding uit die dode, gemeenskap met God, kom aankondig. Jesus Christus het ons waarlik vrygemaak van sonde en siekte.  Halleluja!
          Die lewe van Jesus Christus word in elke gelowige gebore wanneer hy die wedergeboorte ontvang, deur die bloed wat op Golgotha gestort was. Deur die wedergeboorte word hierdie mens nou 'n werktuig in die hand van God, 'n Getuie van God se Genade en Liefde.
          "Soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld." (1 Joh 4:17)
          In ons dag is daar baie mense wat nie ware gelowiges is nie, maar slegs nominale Christene, papier Christene, wat die hele week hulle eie gang gaan, maar op Sondae  probeer om die Tien Gebooie te gehoorsaam.
          Want in Hom was LEWE, en die Lewe was die lig van die mense.  Hy het ook gesê: "Hy wat leef en in My glo, sal nooit sterf nie."
          Vandag is Jesus Christus die mens se enigste hoop. Geen duiwelse mag op aarde kan die mag weerstaan wat Jesus Christus as 'n erfenis aan die weergeborene nagelaat het nie.
          Jesus Christus het die sonde-vraagstuk opgelos deur Homself as ons Bloedoffer op Golgotha te offer.
          Nou word jy as vrygekoopte geroep om te getuig aangaande dié heerlike feit, dat daar deur Sy gestorte Bloed vergifnis van sondes is, en dat deur Sy wonde daar genesing vir ons liggame gekom het.
          Staan op in die Geloof! Gaan en verkondig die werke van God! Hy sal dit bevestig waar en wanneer ek en jy Woord uitdra.
          Hy sê in Jes 50: 2-3: "Is my hand werklik te kort om te verlos of is daar in my geen krag om uit te red nie? Kyk, deur My dreiging maak Ek die see droog... Ek beklee die Hemel met swartheid."
          Ons is dus geroep om getuies van die Evangelie te wees, waarin die mag van Jesus Christus en die Volle Raad van die Godheid uiteengesit word.
          Neem die bonatuurlike – die Geesvervulde lewe – uit ons godsdiens en mens kry 'n godsdiens so dood soos die heidense godsdienste.
          Die Here sal altyd 'n getuienis eer. Kyk na Henog. Hy het met God gewandel en is deur God weggeneem om by Hom te wees.
          En daar is Elia wat 450 heidense priesters uitgedaag en oorwin het. En Daniël wat geweier het om voor mense te buig wat sy getuienis sou beskadig het. God het die bekke van die leeus gesluit sodat sy getuienis nog indrukwekkender kon wees.
          Alhoewel ons geroep is om die lydingsdoop te deurloop, mag ons nie die mens of ‘n gesag gehoorsaam wat vereis dat ons God se insettinge moet oortree nie.
          Op Golgotha is daar voorsiening vir Goddelike genesing gemaak. Watter soort Evangelie sou ons sonder die Groot Geneesheer, Jesus Christus, gehad het? Ons getuienis behoort in die eerste plek so te wees dat Christus deur ons lewens te voorskyn kom, sodat die getuienis van ons wedergeboorte mense tot sonde oortuiging sal bring.
          In die tweede plek moet ons nie bang wees om die beloftes van God in ons bediening te gebruik nie. Die Bybel verklaar onomwonde dat ons deur die gestorte bloed van Christus, verlossing van sonde het en dat ons deur Sy wonde genees is.
          Hy belowe ook dat as ons hande op die siekes lê, hulle gesond sal word. Hy het dit belowe, nie jy en ek nie. Hy sê Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord. Waarom sou ons dan twyfel.
          In Jak 1:6-7 sê die Here dat iemand wat twyfel …”moenie dink dat hy iets, van die Here kan ontvang nie.” Ja, nie eers “iets” nie.
          Dus, weier om te twyfel. Twyfel is nie van die Hemel nie. Die duiwel saai twyfel. Verdryf hom uit jou lewe in die kragtige naam van Jesus Christus, staan vas, en weier om te twyfel.
          Toe Jesus Christus op Golgotha gesterf het, het Hy elke sondaar verseker dat hy 'n geleentheid gebied word om 'n kind van God te word.
John Lake het die opstanding van Christus so beskryf: Een dag het Dawid op die berg gesit en sy skape opgepas, toe Sy gees hom weggevoer het na die ruimtes van God.  Hy sien die toekomstige gebeure en roep uit: "U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke onder die mense geneem, ja ook wederstrewiges om daar te woon, o, Here God."  (Ps 68:19).
          En toe met 'n triomfantelike geroep sê hy: "Hef op julle hoofde, o poorte, ja verhef julle ewige deure dat die Ere-Koning kan ingaan." (Ps 24:7)
          Toe Christus die aardse arena betree het, het 'n oorlog tussen twee koninkryke ontstaan. Dit was 'n stryd tussen lig en duisternis in die Hemel en op die aarde. Jesus Christus het aan die hele wêreld getoon dat Hy waarlik die Oorwinnaar is.
          Die môre van Sy opstanding het Hy as Held, Oorwinnaar oor Satan, dood en hel, sonde en siekte, opgestaan.
          Ek en jy is vandag Hy. Ons as wedergeborenes het oorwin! Dis nou ons taak om Christus se onvoltooide werk te voltooi.
          Mense het baie verskonings waarom hulle nie sogenaamd kan getuig nie. Die Skrif trek egter ‘n finale streep deur alle verskonings.
          Eseg. 3:18-19 lees: “As Ek aan die Goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy (Christen gelowige) waarsku hom nie en spreek nie om die Goddelose vir sy Goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die Goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar, sy bloed sal  Ek van jou hand eis!
          “Maar as jy die Goddelose waarsku, en hy hom nie van sy Goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy, jy het jou siel gered!”
          Getuig, getuig, getuig, waarsku die Goddelose en red jou eie siel! Wees soos Paulus wat in Rom 1:16 sê: “Want ek skaam my nie oor die Evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.” Daardie redding beteken vrymaking, veiligheid en genesing.
          Paulus sê: “…vir elkeen wat glo.” Wat beteken dit in die praktyk? Eenvoudig die volgende: Petrus kom by die man by die poort en sê aan die verlamde  “… staan op en loop.” As die man nie probeer opstaan het nie sou hy nooit geloop het nie.
          Geloof vra dus gehoorsaamheid en handeling. Nadat Jesus die brode en die vissies aan die dissipels gegee het om uit te deel, het die dissipels tot by die voorste ry mense moes stap en dit begin uitdeel. Veronderstel hulle sou net daar bly staan het en gesê het: Nou hoe op aarde kan ons vyf duisend man, hul vroue en hul kinders met die bietjie kos voed? Dan sou daar niks gebeur het nie.
          Geloof vra daardie vaste vertroue, daardie gehoorsaamheid om te stap na die eerste ry mense en te begin uitdeel, en toe kom God se vermenigvuldende krag in werking en nie is almal gevoed nie, daar bly toe nog brokstukke ook oor. – Sjibbolet

Woensdag 04 Maart 2015

Die Wederkoms van Christus — ‘n Kragtige Motivering!


Image result for 2nd coming of jesus


Die Wederkoms van Christus en die Eindtye is nie onderwerpe vir nuuskierigheid nie. Die hoop (toekomsfeit) van Sy terugkeer is ook nie ‘n ontvlugting vir die Christene nie.
            Dit is ook nie ‘n verskoning vir selfvoldaanheid nie, ook nie ‘n alibi vir onbetrokkenheid nie.
            Inteendeel, dit moet ons aanspoor tot heiligmaking, tot evangelisasie en gehoorsaamheid!
            Dit is ‘n motivering om God se werk op aarde ons eie te maak, want Christus het gesê: “Dryf handel daarmee totdat Ek kom.” Luk. 19:13.
            Dit is ook ‘n motivering vir ons om gereed te wees: “Daarom moet julle ook gereed wees omdat die Seun van die mens kan kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie!” Matt. 24:44.
            Verder moet dit ons aanspoor tot heiligmaking: “En nou my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggestuur word by Sy wederkoms nie. 1 Joh. 2:28.
            Baie wil altyd hoe alles met die Wederkoms gaan verloop. Feit is, die Wederkoms is nie in ons hande nie. Kom ons bepaal ons liewer by dit wat van ons verwag word vir die Wederkoms: Die redding van siele en dat ons sonder vlek of rimpel moet wees .
            Martin Luther het gesê: “Ons is veronderstel om te glo en te lewe asof Christus gister gesterf het, vandag opgestaan het en more gaan kom.”
            Evangelis W.C. Moore haal op sy beurt Efes. 5:14 aan: “Daarom sê Hy :  Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”
            Moore gaan voort: “Mense sê, maar die Kerk is aktief, daar is beweging onder die gelowige Bybel-Christene.”
            Dit is so, daar is ‘n roering in die vallei van doodsbeendere (Eseg. 37) en daar is ‘n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse (2 Sam. 5:24), maar saam daarmee is daar onmiddellik die opdrag: Jy moet gou maak, want dan het die HERE het voor jou uitgetrek.
            Ons werke is allig dooie werke (Heb. 9:14), daardie dinge waarvan ons juis ontslae moet raak. Elkeen van ons het die magtige lewegewende krag van die Heilige Gees nodig om diensbaar vir God te wees.
            Die opdrag is: Word vervul met die Heilige Gees. (Efes. 5:18). Laat die kinders eerste versadig word. (Mark. 7:27).
            Ons, jy en ek, is gered om die Koninkryk te help bou: Ons is medewerkers saam met God. (1 Kor. 3:9).  Ons bou die Koninkryk saam met Hom.
            Ons herinner onsself gereeld daaraan dat die Christene vir ‘n magtige herlewing moet bid. Baie dankie vir diegene wat dit so getrou doen. Die bid en die werke gaan egter saam. Ons nooi jou, kom raak betrokke. Ons smag na strome van seën van bowe.
            Christus wou Lasarus opwek, maar die familie en die vriende moes die steen voor die graf wegneem. Ook hulle moes help sodat ‘n wonderwerk kon plaasvind.
            In strofe 44, nadat Lasarus opgewek was, vra Christus weer die omstanders moet help: Maak hom los en laat hom gaan.
            Die oes is inderdaad groot en die arbeiders inderdaad min. Hier is vir jou ‘n gulde geleentheid om betrokke te raak. Bid en versprei die Evangelie.
            Jes. 56:1: So sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want My heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word.
            Jes. 57: Vul op, vul op, berei die weg, verwyder die struikelblokke uit die weg van My volk. (hoekom?)
            Want so sê die Hoë en die Verhewene wat in ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (maar Hy woon ook) by die verbryselde en nederige van gees. (hoekom?)
            Om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.
            Inderdaad heel Jesus die gebroke harte en mense herleef.
            Christus sê in Efes. 5:23: Die nag kom, wanneer geen mens meer kan werk nie. – Sjibbolet

Donderdag 15 Januarie 2015

Geen afstand meer Nie . . .





Efes. 2:13  Maar nou in Christus Jesus, het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus, want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak het en die middelmuur van skeiding afgebreek het ... 18)  want deur Hom het ons albei toegang deur een Gees tot die Vader.

Rom. 10:8  Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.  Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig.

Heb. 10:19  Terwyl ons dan broeders, vrymoedigheid het om in die Heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus.

Die Bybel onthul die feit dat daar geen afstand meer tussen ons en God die Vader is nie.  Golgota het die afstand wat daar was vir eens en vir altyd uitgeskakel.
Vanuit God se oogpunt gesien is ons in totaliteit met Hom versoen (2 Kor. 5:18).  Deur geloof het ons vrye toegang tot die teenwoordigheid van God.
Die enigste afstand wat nog steeds bestaan, is te vinde in die gedagtes van daardie Christene wat nog nie vernuwe is in hulle gemoed nie (Rom. 12:2).
Golgota was God se Meesterstuk.  Niemand het die voorreg gehad om Jesus dood te maak nie.  Hy het self besluit om te sterf en sy Gees in die hand van die Vader oorgegee.  Maar Hy sterwe sodat almal wat ver was, vanaf daardie oomblik naby kon kom.
Die voorhangsel van die tempel skeur.  Nie een klip bly langer op die ander staan nie.  Die aarde skud.  Daar kom duisternis.  Die grafte gaan oop.  ‘n Nuwe bedeling word ingelui.
Nie langer hoef mense diere te offer nie.  Die rol van die aardse hoë priester verdwyn.  Christus self tree nou vir ons in.  Ons hoef nie langer te wag tot die Sabbat om met God in kontak te kom nie.
Ons kan nou enige oomblik van die dag of nag deur die geloof en die Heilige Gees met God in kontak wees en vir solank as wat ons dit per keer nodig af, en selfs permanent.
Die afstand wat daar was, is uit die weggeruim. Ons kan Jesus se soenoffer aanneem en weer met God versoen raak. Ons word vernuwe in ons gemoed, ons gedagtes, ons inbors.
Niemand het enige gronde om dit wat op Golgota gebeur het, as onwaar of nietig te verklaar nie. Op Golgota is ‘n volmaakte werk vir ons sondes volbring.
Die onderhouding van die Wet word met ‘n nuwe Gebod, die van Liefde, vervang.  Liefde pleeg nie oortredings nie en Liefde vergewe oortredings, 70 maal sewe keer.
Ons aanvaar nie net Sy versoeningsdood nie, maar ons sterwe ook saam met Hom aan die Kruis van Golgota.  Ons doen nie meer sonde nie (1 Kor. 15:34;  Rom. 6:11).
Dit is ongelukkig so dat ‘n groot deel van die Christendom vandag nie hulle geloof op die krag van die Kruis baseer nie, maar op die onderhouding van die Wet en deur eie pogings.  Daar is ‘n baie groot verskil tussen ‘n mens se eie pogings, jou resolusies,  en die lewe in en deur die geloof.
Om ‘n ware Gelowige te wees, is om te lewe deur middel van die inwonende krag van Christus.  Dit is ‘n lewe van volle vertroue op God, van aangesig tot aangesig met die Vader (2 Kor. 4:4-6).
Om voort te gaan om getuienis op te stapel as bewys dat jy nie vrye toegang tot God se Genadetroon het nie, maak van jou ‘n koue gevoellose naak gestroopte religieuse roetine – sonder ware vrede en sonder blydskap.
Alleen in die teenwoordigheid van God die Vader belewe mens die volheid van totale blydskap (Ps. 16:11).  En boonop word jy genooi om vandag deur middel van Sy bloed daardie volheid te smaak.  Alleen die bloed van Lam kan jou waarlik vrymaak!
Onthou, dit wat op die Kruis gebeur het, kan mense maar betwis tot in lengte van dae, maar onkunde oor die volle boodskap en krag van die Kruis en die bloed van die Lam, beroof menige Christen vandag van die voorregte wat vir hom en haar bewerk is deur die Liefde van God die Vader.
Daarom staan daar geskrywe:  My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. – Sjibbolet