Wys tans plasings met die etiket Dankbaarheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dankbaarheid. Wys alle plasings

Vrydag 19 Junie 2020

Trek jou Nuwe klere aan!

En daar staan in die naggesig: Trek jou Nuwe Klere aan. Ek het nie nuwe klere nie en ek kan ook nie gaan koop nie. Die gesig kon dus nie na klere soos in klere verwys het nie.

            En ek bid en vra: HERE, wat beteken dit? Die volgende oomblik gee iemand by dié Skrif: Kol 3:12-17 “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.

“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.

            “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

            “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.

            “Laat die Woord van Christus ryklik in julle woon (hoe?) in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar (hoe?) met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die HERE.

            “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Kol 3:12-17

            Ek het skaars klaar gelees, is hier nog ‘n boodskap: Pastoor Edward Chun se boodskap: “Put on your New clothes,” uit presies dieselfde Skrif.

            En ek lees en ek luister en ek weet skielik wat die naggesig se boodskap was. Ek het vrede en ek is tevrede.

            Die eerste wat mens oplet, die HERE identifiseer vir wie hierdie boodskap is:  “Die uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes.”

            Wat is die nuwe klere: “Innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” Dit is natuurlik ook die Koninklike Wet. Jak 2:8

            Mens moet by die deur van God se heerlikheid (Glorie) instap om jou nuwe klere aan te trek. “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Hab 2:14

            In die Heerlikheid, die Glorie, van God sal ons die bonatuurlike beleef. Jesus bid: “Ek het hulle (vir my en jou) die heerlikheid (die Glorie) gegee wat U aan my gegee het (waarom?), sodat hulle een kan wees… net soos Ons een is.” Joh 17:22

            Wat ‘n verstommende, byna revolusionêre, verklaring! Die, HERE, God van die Hemel, die grote en gedugte God, gee sy glorie aan sy seun Jesus Christus en Christus gee op Sy beurt daardie Goddelike Glorie van die Almagtige God aan my en jou.

            Christus het reeds die Glorie aan ons gegee sodat in vervullling sal gaan: “Soos in die Hemel, so ook op die aarde.”Ons hoef nie  vir  Glorie te bid nie, dis reeds gegee, ontvang dit net. Maak dit jouune en (baie belangrik) wandel daarin.

            Ons is geskep om in God se Glorie te leef!

“Ek in hulle (in my en jou) en U in my (hoekom?) sodat hulle volkome een kan wees (hoekom?) sodat die wêreld kan weet dat U my gestuur het, en… hulle liefgehad het soos wat U my lief het.” Joh 17:23

            God het ons geskep om in Sy teenwoordigheid te wandel (hoekom?) sodat ons Sy hart kan verstaan en sy Goddelike wonderwerkende krag kan beleef (hoekom?) om ons lewens te transformeer.

            “Immers, Sy goddelike krag het ons (hoeveel?) alles, geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, (hoe?) deur die kennis van Hom wat ons geroep het (hoe?) deur Sy heerlikheid (Glorie) en deug,

            “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?) sodat  julle  daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur (wanneer?) wanneer julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

“En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.

“Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die (let op) kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.

            “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.

“Want so sal ryklik aan julle verleen word (let op) die ingang in die ewige Koninkryk van onse HERE en Saligmaker, Jesus Christus.” 2 Pet 1:311

            Ons en ons lewens is dus baie nou verweef met die  van Jesus en God. Dit is so nou verweef dat ons een is, dat ons nooit geskei kan word nie. Ons as Gelowiges verkeer in die mees belangrikste plek in hierdie ganse wêreld. Ons lewens is so dig verweef met Jesus dat selfs die wind nie tussen ons kan deurkom nie. Job 41:7

            Ons is op die vooraand van die einde van alles. Die grootste geestelike Herlewing – die laat reëns – is naby. Strome van seën van bowe, dit het Sy Liefde belowe. Die eerste druppels val reeds in Suid-Afrika en elders.

            Die heerlike druppels gaan stroompies word, dan riviere en dan ‘n magtige oseaan.

            God sê: “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

            “Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink.

            “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle (wat sal ons doen?) sal My lof verkondig.” Jes 43:21

Die Glorie van God, gaan die aarde oorspoel sodra ons besef dat ons en Jesus Een is en ons as Eenheid Sy lof en Glorie verkondig. Hierdie werklikheidsbesef het nog nie tot die meeste van ons deurgedring nie.

Kom, trek jou nuwe klere aan. – Wekroep

Maandag 11 Maart 2019

Wees net dankbaar, baie dankbaar ...



“Wees in alles dankbaar (hoekom?), want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”
1 Thes 5:18

            Die stukkie “wees in alles dankbaar,” het al tot menige twis en tweedrag gelei. Nogtans,, “alles” beteken letterlik “alles”.

            In Moses se tyd stuur die HERE giftige slange onder die volk. Die volk kom kla by Moses. Moses neem die saak na die HERE. Die HERE sê vir Moses, maak vir jou ‘n slang en plaas dit op ‘n paal en elkeen wat gepik is, as hulle daarna kyk sal genees word. Moses het toe ‘n koperslag gemaak en op die paal gesit.

            Die slang wat eers dood en verwoesting gesaai het, bring nou genesing.

            Om die slang te kon maak, moes die koper keer op keer verhit word en met ‘n hamer op ‘n aambeeld geslaan word om vorm aan te neem.

Jesus was ook vodde geslaan. Dit was ‘n bloedbad. Hoekom het God vir Moses ‘n slang laat maak... die ding wat mense juis ontslae van wou raak? Hoekom nie ‘n Engel nie of iets mooi nie?

Die slang is onheil. Hy verskyn die eerste keer in die Tuin van Eden. Hy het nie vir  Eva gepik nie, hy het haar denke verdraai. Wanneer die vyand in ons denke en wese inbeweeg, verdraai hy ook ons denke.

Hy val meesal jou denke aan oor die HERE, jou denke oor die Skrif. Saai twyfel. Wanneer God in die Woord praat van genesing, kom die slang en hy saai gedagtes van dood. Hy probeer sy gif in jou versprei, jou besmet. Hy saai twyfel met sy gif.

            Elkeen van ons moet die Evangelie uitdra en elkeen van ons ondergaan opleiding. Ons maak kennis met die gif en terwyl ons daarmee in blydskap worstel, ontdek ons die serum wat die genesing teweeg bring.

            As ons besef, onheil is nie die einde nie, dis die begin en as ons in alles dankbaar is, hanteer ons die situasie heeltemal die teenoorgestelde as om onder die omstandighede te swik. Anders gestel: Dan leef ons BO die omstandighede en nie ONDER die omstandighede nie,

Die serum oplossing is interessant. Mens sou dink dat God dit wat reg is sal aanwend teen dit wat verkeerd is. Dit werk egter andersom.

God gebruik sonde teen sonde, boosheid teen boosheid. God stuur Jesus om sonde te word en daarna word die serum (bloed) aangewend om te red en te genees.

Soos wat Moses die slang in die woestyn opgehef het, so sal Jesus opgehef word. Hy wat geen sonde geken het nie, het sonde geword. Hy het geword wat Hy nie was nie sodat ons kon word wat ons nie uit onsself kon wees nie.

Wanneer mens deur ‘n slang gepik word, word serum gebruik om te keer dat jy sterf, maar die serum word juis vervaardig vanuit die gif wat jou wou doodmaak.

Dit beteken dat dieselfde ding wat die vloek bring, bring ook die seëninge. Wat na moeilikheid en ellende lyk, is juis ‘n geleentheid.

Jesus neem die situasie en keer dit om. Jesus het sonde geword om die sondaar te kon red. Dan bekeer jy jou van jou verkeerde weë. Jy maak ‘n “omkeer” en jy beweeg in ‘n nuwe rigting.

Versoek gaan jy versoek word... “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar (let op) Hy sal saam met die versoeking (gif) ook die uitkoms (serum) gee, sodat julle dit sal kan verdra.’ 1 Kor 10:13.

Goliat kom met ‘n reuse swaard om Dawid dood te maak. Dan keer die situasie om en Dawid onthoof Goliat juis met sy eie swaard.

Die HERE stuur Jona om vir die sondige Nineve te gaan waarsku. Dit is dieselfde Jona wat kort gelede ongehoorsaam was en nie na God wou luister nie.

Ons het geen keuses as om God te gehoorsaam nie. Jona wou nie en die HERE het sy kans afgewag en eers Jona se lewe in die Walvis se pens omgekeer.

            Aäron dans naak  en God neem die gif en maak ‘n serum Ex 22:25. God stel juis vir Aäron as Hoëpriester. aan.

Petrus was gif. Jesus sê vir hom ek gaan jou gebruik, maar voor dit gaan jy my drie keer verloën. Dis toe wat gebeur het, maar deur bittere berou en baie trane word die gif serum.

Dieselfde man wat gesweer het: “Ek ken Hom nie”, bring in sy eerste diens 3 000 siele in... byna of mens kon sê ‘n duisend siele vir elk van die verloenings.

En Saulus? Hy was ‘n terroris wat die Christene erg vervolg het. Die HERE keer hom voor op die pad na Damaskus en keer sy giftige lewe om na serum en maak van Paulus die grootste Apostel van die Nuwe Testamentiese Kerk.

Wyle Mary Baxter van Amerika was erg kreupel gebore. Sy het Jesus aangeneem, haar verbly in haar ellende en is een Sondagmiddag 100% genees en het ‘n Evangelis geword. Toe bring sy Nuwe Lewe aan die siekes en gebreklikes.

Die HERE wil jou ook gebruik om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges. te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die HERE en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word (let op) sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte (Terpentynbome) van geregtigheid, 'n planting van die HERE, tot sy verheerliking.” Jes 61:1-3 (Terpentyn kan ook genees: https://earthclinic.com/remedies/turpentine/)

“Wees in alles dankbaar”. Dis jou opleiding sodat jy ander kan bedien. Jy verkry uiteindelik ‘n sieraad vir jou as. Ja, God kan lewe uit as ook skep.

“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val (hoekom?), omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.” Jak 1:2-3

Kyk met nuwe oë na jou verlede. Al die tyd wat jy in ‘n vervalle of teruggevalle toestand was, wat jy swaar gekry en nie hoop gehad nie, was die HERE besig om serum van jou te maak. Gebruik jou serum om  ander wat ook seergekry het te genees.

Daai man wat nie kan ophou drink nie. Hou aan bid vir hom totdat hy serum word. Daar is baie soos hy wat gehelp moet word. Hy sal hulle ten beste kan help.

Daar is ander wat nou swaarder kry as jy. Wend jou serum aan. Jy het ‘n bediening.  Jy het altyd vuil en waardeloos gevoel, verwerp... draai om, bekeer jou, daar is werk vir jou om te doen.

“Dra mekaar se laste en vervul so die (liefdes) wet van Christus.” Gal 6:2 en beslis Jak 2:8. Hoe gaan jy dit regkry as jy nie self deur so ‘n vallei van doodskaduwee is nie?  Jy het eerstehandse opleiding en ondervinding. Jy is ‘n spesialis in jou veld en, die HERE werk nie net saam met jou nie, Hy stap jou vooruit. Volg Hm.

Hannes en Jana Viljoen (Brain Child Fund) het drie breinbeseerde kinders. Hulle leef in absolute oorwinning terwyl hulle ander help wat ook sulke kinders het.

Belinda Paar is verkrag op 14. Daarna sterf haar pa. Haar eerste man was erg brutaal en het haar gereeld erg aangerand. Op vier maande had sy ‘n miskraam weens aanranding. Daarna volg ‘n tweede mislukte huwelik (bankrotskap) en toe ‘n breinbeseerde kind. Vandag is sy ‘n opgeleide berader wat mense van reg oor die land bystaan.

Pastoor Dwight Pate wou as jong predikant, geld by ‘n bank leen om ‘n aanbiddingsplek te begin. Hy had geen kredietwaardigheid nie en sy medewerker het pas uit die tronk gekom. Die bank het summier geweier. Ses jaar later toe koop Pastoor Pate die bank. Hulle moet vandag die enigste kerk in die wêreld wees wat hul eie bank het.

“Wees in alles dankbaar” al gaan dit hoe erg “want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”

Die Amerikaanse Evangelis Bob Mumford, het altyd gesê: “God puts you into a fix to fix you, but if you fix the fix before you’re fixed, He has to fix another fix to fix you.”

Is dit jou werksituasie wat jou die een stel na die ander laat aftrap? Wees dankbaar en geduldig. Jy word voorberei vir jou bediening.

Het jy ‘n kind deur die dood verloor. Jy het nie jou kind verloor nie, hy/sy wag vir jou. Wees dankbaar en neem jou serum om ander kinders en hulle ouers te troos en vir Jesus te wen.

Is jy beswaard omdat jy deur ‘n aborsie is? Bely en maak jou saak reg met die HERE, jou baba wag vir jou in die Hemel. Gebruik jou serum om ander te troos of te keer dat hulle ook in so ‘n slagyster trap.

Ons is terug by Dawid. Die arme man het hard geval. Vandag is hy ‘n man na God se hart. Altesame 400 jaar na Dawid se dood, profiteer Esegiël: “En my kneg “Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel.” Eseg 37:24

Let op na hierdie skitterende beskrywing: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie 'n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter 'n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur (let op) geoefen is.

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op, en maak paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:13 – Wekroep


Dinsdag 21 Augustus 2018

Dankbaarheid vrywaar jou teen groter onheil


Image result for Luke. 17:15-19


In Luk. 17:15-19 lees ons die verhaal waar Jesus 10 melaatses gesond maak, maar net een het omgedraai en vir Jesus met ‘n groot stem kom loof en dankie sê.

            En Jesus sê: “Gaan, jou geloof het jou gered.”

            Dis moontlik dat  die ander 9 se melaatsheid teruggekeer het en straks veel erger: “En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.

            “Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.  Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hyself met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.” Matt 12”13-19

As die Bybel dan praat van geloof, dan het  hierdie man ook redding ontvang. Regverdigmaking deur die geloof in Jesus Christus.

Dit moet ek en jy  voortaan daagliks doen: Die HERE loof en dankie sê:

·       Dankie HERE dat ek kan sien en hoor en voel en proe en ruik;  Bind jou oë toe vir ‘n hele naweek en prober so leef en kyk hoe ver jy kom. Dank God elke dag vir jou twee siende oë, of, as jy net een het.  Maak jou eie lys van dankbaarhede en dis nogal ‘n aansienlike lys. Dank God vir sy Goedheid en Guns.


Wat ‘n fantastiese gewoonte om aan te keer  en jou gemoed op te beur. Komaan, doen dit. Dis die regte ding om te doen. Wees dankbaar. Sê dankie.  Jesus wil dit hoor. - Sjibbolet 

Vrydag 22 Junie 2018

Dit het begin reën


Image result for raining images


“En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.” Joël 2:23

            ‘n Geestelike vloed is op pad. Die HERE Yaweh het dit belowe. Hy het ook belowe: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.

            “En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.” Joël 2:28-29

            Ons het die deur jare al baie preke hieroor gehoor en soms gewonder hoe sal dit gebeur?

            “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Joh 7:38

            Hou dop: Die enigste vereiste vir alles in die Nuwe Testament is “Glo.” Vir jou genesing ook… Glo.

            Jy glo elke dag vele dinge, maar wanneer God belowe, dan is jy nie so seker van jou saak nie. Intussen is God die enigte een wat werklik geglo kan word.

            Ons het landwyd gebid vir reën en die afgelope tweke veral stroom al wat rivier en stroompie is in die damme. Die ondergrondse watertafel word aangevul. Die eerste sneeu het begin val. Ons het gebid omdat ons geglo het God kan uitkoms bring. (En hoeveel van ons sê dankie?)

            Die Eindtyd-vloed sal in strome vanuit die Gelowiges vloei en siele tot redding bring. Dit sal vergesel word van tekens en wonderwerke.

            Ons moet die werklikheid besef: Jesus is op pad en dis ons verantwoordelikheid om die siele in te bring. Dit begin deur almal as verlore sondaars lief te hê met die liefde van Jesus en die gebed van intersessie te bid, vurig te bid. “Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.”Jak 5:16

            Ons het nie opgegee om vir reën vir die Kaap te bid nie, so gee ons ook nie op om verlore siele in die Koninkryk in te bid nie.

            “Bid tot die HERE om (geestelike) reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle 'n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.” Sag 10:1

            “Gelowiges moet buite hul kerkbande saamkom as Gelowiges en saam bid, intree vir die verlore siele en ons sal ‘n geestelike vloed belewe, ‘n vloed wat in Eseg 37 belowe word.           

            Begin die HERE loof in sang en in taal en elke musiek instrument wat jy jou hande op kan lê, want die reën het reeds begin val.  Van oral in die wêreld en in SA kom die berigte van redding en wonderwerke in, weliswaar op klein skaal, maar dis die begin van die strome van seën van bowe. – Sjibbolet

Luister na die woorde:  https://www.youtube.com/watch?v=CCoq4BY42OQ



Donderdag 15 Januarie 2015

Geen afstand meer Nie . . .





Efes. 2:13  Maar nou in Christus Jesus, het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus, want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak het en die middelmuur van skeiding afgebreek het ... 18)  want deur Hom het ons albei toegang deur een Gees tot die Vader.

Rom. 10:8  Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.  Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig.

Heb. 10:19  Terwyl ons dan broeders, vrymoedigheid het om in die Heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus.

Die Bybel onthul die feit dat daar geen afstand meer tussen ons en God die Vader is nie.  Golgota het die afstand wat daar was vir eens en vir altyd uitgeskakel.
Vanuit God se oogpunt gesien is ons in totaliteit met Hom versoen (2 Kor. 5:18).  Deur geloof het ons vrye toegang tot die teenwoordigheid van God.
Die enigste afstand wat nog steeds bestaan, is te vinde in die gedagtes van daardie Christene wat nog nie vernuwe is in hulle gemoed nie (Rom. 12:2).
Golgota was God se Meesterstuk.  Niemand het die voorreg gehad om Jesus dood te maak nie.  Hy het self besluit om te sterf en sy Gees in die hand van die Vader oorgegee.  Maar Hy sterwe sodat almal wat ver was, vanaf daardie oomblik naby kon kom.
Die voorhangsel van die tempel skeur.  Nie een klip bly langer op die ander staan nie.  Die aarde skud.  Daar kom duisternis.  Die grafte gaan oop.  ‘n Nuwe bedeling word ingelui.
Nie langer hoef mense diere te offer nie.  Die rol van die aardse hoë priester verdwyn.  Christus self tree nou vir ons in.  Ons hoef nie langer te wag tot die Sabbat om met God in kontak te kom nie.
Ons kan nou enige oomblik van die dag of nag deur die geloof en die Heilige Gees met God in kontak wees en vir solank as wat ons dit per keer nodig af, en selfs permanent.
Die afstand wat daar was, is uit die weggeruim. Ons kan Jesus se soenoffer aanneem en weer met God versoen raak. Ons word vernuwe in ons gemoed, ons gedagtes, ons inbors.
Niemand het enige gronde om dit wat op Golgota gebeur het, as onwaar of nietig te verklaar nie. Op Golgota is ‘n volmaakte werk vir ons sondes volbring.
Die onderhouding van die Wet word met ‘n nuwe Gebod, die van Liefde, vervang.  Liefde pleeg nie oortredings nie en Liefde vergewe oortredings, 70 maal sewe keer.
Ons aanvaar nie net Sy versoeningsdood nie, maar ons sterwe ook saam met Hom aan die Kruis van Golgota.  Ons doen nie meer sonde nie (1 Kor. 15:34;  Rom. 6:11).
Dit is ongelukkig so dat ‘n groot deel van die Christendom vandag nie hulle geloof op die krag van die Kruis baseer nie, maar op die onderhouding van die Wet en deur eie pogings.  Daar is ‘n baie groot verskil tussen ‘n mens se eie pogings, jou resolusies,  en die lewe in en deur die geloof.
Om ‘n ware Gelowige te wees, is om te lewe deur middel van die inwonende krag van Christus.  Dit is ‘n lewe van volle vertroue op God, van aangesig tot aangesig met die Vader (2 Kor. 4:4-6).
Om voort te gaan om getuienis op te stapel as bewys dat jy nie vrye toegang tot God se Genadetroon het nie, maak van jou ‘n koue gevoellose naak gestroopte religieuse roetine – sonder ware vrede en sonder blydskap.
Alleen in die teenwoordigheid van God die Vader belewe mens die volheid van totale blydskap (Ps. 16:11).  En boonop word jy genooi om vandag deur middel van Sy bloed daardie volheid te smaak.  Alleen die bloed van Lam kan jou waarlik vrymaak!
Onthou, dit wat op die Kruis gebeur het, kan mense maar betwis tot in lengte van dae, maar onkunde oor die volle boodskap en krag van die Kruis en die bloed van die Lam, beroof menige Christen vandag van die voorregte wat vir hom en haar bewerk is deur die Liefde van God die Vader.
Daarom staan daar geskrywe:  My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. – Sjibbolet

Wanneer jou hut aan die brand is…




Die enigste oorlewende van ‘n skeepsramp het met enkele besittings op ‘n onbewoonde eiland uitgespoel. Hy het ernstig gebid dat God iemand moes stuur om hom te red. Elke dag het hy die horison gefynkam hopende op hulp. Daar was niks... en dan het hy weer koorsagtig en vurig tot die HERE gebid op redding.

Uitgeput het hy na ‘n paar dae opgegee en begin om vir hom ‘n hut as skuiling te bou. Daar was genoeg opdrifsels, boomtakke en blare om die hut te kon bou.

Een middag laat nadat hy weer vir kos op die eiland gesoek het, kom hy by sy hut aan wat in vlamme staan en tot op die grond afbrand. Hy het nog erger gevoel. Vir hom was alles verlore. Hy was stomgeslaan. Hartseer en kwaad het hy tot God geroep: “HERE, hoe kon U so iets aan my doen?”

Vroeg die volgende oggend word hy gewek deur ‘n mishoring van ‘n groot skip wat al nader na die eiland beweeg het. Nadat hy gered is wou hy weet: “Hoe het julle geweet ek is hier?”

Sy redders het geantwoord: “Ons het gistermiddag laat jou rooksein op die horison gesien en ons hierheen gehaas.”

Dit is so maklik om mismoedig te word wanneer dinge verkeerd loop, maar mens moet nooit hoop verloor nie. God is aan die werk in ons lewens, selfs te midde van ons pyn en lyding.

Onthou, volgende keer as dit vir jou lyk jou hut brand af tot op die grond, dit is dalk ook net jou rooksein wat roep na die Genade van God! – Sjibbolet

Dankbaarheid teenoor Ondankbaarheid




‘n Meisie was blind weens onontwikkelde korneas in elke oog. Sy het almal gehaat oor haar blindheid. Vir haar kêrel was sy baie lief omdat hy baie vir haar omgegee het en so liefdevol was.

Eendag het sy aan haar kêrel gesê: “As ek maar die wêreld rondom my kon sien, dan sou ek met jou trou.” Sy was op ‘n waglys vir kornea-oorplantings en een dag gebeur dit toe wel dat so ‘n operasie uitgevoer kon word.

Toe die verbande ‘n paar dae later verwyder is, kon sy alles sien, ook haar kêrel. Hy vra toe: “Nou dat jy kan sien, sal jy met my trou?”

Sy het na hom gekyk en was geskok, want hy was blind. Sy wou nie die res van haar lewe in sy twee blinde oë vaskyk nie. Sy weier toe om met hom te trou. Haar kêrel het haar gelos en dae later met groot hartseer aan haar geskryf: “Jy moet jou oë mooi oppas, voordat dit jou oë geword het, was dit my oë.”

Dis hoe die menslike brein soms werk by verandering van status. Baie min mense onthou hoe die lewe voorheen was, hoe ander hulle bygestaan het deur dik en dun.

Die lewe is ‘n geskenk

Voordat jy weer iets negatiefs oor iemand sê, dink aan hulle wat nie kan praat nie.

Voordat jy oor die kos kla, dink aan hulle wat niks het om te eet nie.

Voordat jy kla oor jou maat, dink hoeveel smag na ‘n lewensmaat.
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                             
Voordat jy kla oor die lewe, dink aan hoeveel mense te vroeg die Ewigheid in is.

Voordat jy kla oor jou kinders, dink aan hoeveel moeders nie kinders kan hê nie.

Voordat jy kla oor jou vuilerige huis of motor, dink aan die duisende wat nie huise en motors het nie.

Voordat jy kla oor hoe ver jy iewers heen moet ry, dink aan die mense wat die afstand te voet moet aflê.

Voordat jy kla oor jou werk, dink aan die miljoene wat nie werk het nie.

Voordat jy jou vinger uitsteek of iemand oordeel, dink daaraan dat jyself nie volmaak is nie en dat ons almal verantwoording moet doen aan ons Skepper.

Voordat jy toegee aan depressie, dink daaraan dat God steeds vir jou God is en loof Hom.

Voordat jy toelaat dat enigiets jou ontwrig, tel net jou seëninge, en kyk wat God jou gegee het.