Wys tans plasings met die etiket serum. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket serum. Wys alle plasings

Maandag 11 Maart 2019

Wees net dankbaar, baie dankbaar ...



“Wees in alles dankbaar (hoekom?), want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”
1 Thes 5:18

            Die stukkie “wees in alles dankbaar,” het al tot menige twis en tweedrag gelei. Nogtans,, “alles” beteken letterlik “alles”.

            In Moses se tyd stuur die HERE giftige slange onder die volk. Die volk kom kla by Moses. Moses neem die saak na die HERE. Die HERE sê vir Moses, maak vir jou ‘n slang en plaas dit op ‘n paal en elkeen wat gepik is, as hulle daarna kyk sal genees word. Moses het toe ‘n koperslag gemaak en op die paal gesit.

            Die slang wat eers dood en verwoesting gesaai het, bring nou genesing.

            Om die slang te kon maak, moes die koper keer op keer verhit word en met ‘n hamer op ‘n aambeeld geslaan word om vorm aan te neem.

Jesus was ook vodde geslaan. Dit was ‘n bloedbad. Hoekom het God vir Moses ‘n slang laat maak... die ding wat mense juis ontslae van wou raak? Hoekom nie ‘n Engel nie of iets mooi nie?

Die slang is onheil. Hy verskyn die eerste keer in die Tuin van Eden. Hy het nie vir  Eva gepik nie, hy het haar denke verdraai. Wanneer die vyand in ons denke en wese inbeweeg, verdraai hy ook ons denke.

Hy val meesal jou denke aan oor die HERE, jou denke oor die Skrif. Saai twyfel. Wanneer God in die Woord praat van genesing, kom die slang en hy saai gedagtes van dood. Hy probeer sy gif in jou versprei, jou besmet. Hy saai twyfel met sy gif.

            Elkeen van ons moet die Evangelie uitdra en elkeen van ons ondergaan opleiding. Ons maak kennis met die gif en terwyl ons daarmee in blydskap worstel, ontdek ons die serum wat die genesing teweeg bring.

            As ons besef, onheil is nie die einde nie, dis die begin en as ons in alles dankbaar is, hanteer ons die situasie heeltemal die teenoorgestelde as om onder die omstandighede te swik. Anders gestel: Dan leef ons BO die omstandighede en nie ONDER die omstandighede nie,

Die serum oplossing is interessant. Mens sou dink dat God dit wat reg is sal aanwend teen dit wat verkeerd is. Dit werk egter andersom.

God gebruik sonde teen sonde, boosheid teen boosheid. God stuur Jesus om sonde te word en daarna word die serum (bloed) aangewend om te red en te genees.

Soos wat Moses die slang in die woestyn opgehef het, so sal Jesus opgehef word. Hy wat geen sonde geken het nie, het sonde geword. Hy het geword wat Hy nie was nie sodat ons kon word wat ons nie uit onsself kon wees nie.

Wanneer mens deur ‘n slang gepik word, word serum gebruik om te keer dat jy sterf, maar die serum word juis vervaardig vanuit die gif wat jou wou doodmaak.

Dit beteken dat dieselfde ding wat die vloek bring, bring ook die seëninge. Wat na moeilikheid en ellende lyk, is juis ‘n geleentheid.

Jesus neem die situasie en keer dit om. Jesus het sonde geword om die sondaar te kon red. Dan bekeer jy jou van jou verkeerde weë. Jy maak ‘n “omkeer” en jy beweeg in ‘n nuwe rigting.

Versoek gaan jy versoek word... “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar (let op) Hy sal saam met die versoeking (gif) ook die uitkoms (serum) gee, sodat julle dit sal kan verdra.’ 1 Kor 10:13.

Goliat kom met ‘n reuse swaard om Dawid dood te maak. Dan keer die situasie om en Dawid onthoof Goliat juis met sy eie swaard.

Die HERE stuur Jona om vir die sondige Nineve te gaan waarsku. Dit is dieselfde Jona wat kort gelede ongehoorsaam was en nie na God wou luister nie.

Ons het geen keuses as om God te gehoorsaam nie. Jona wou nie en die HERE het sy kans afgewag en eers Jona se lewe in die Walvis se pens omgekeer.

            Aäron dans naak  en God neem die gif en maak ‘n serum Ex 22:25. God stel juis vir Aäron as Hoëpriester. aan.

Petrus was gif. Jesus sê vir hom ek gaan jou gebruik, maar voor dit gaan jy my drie keer verloën. Dis toe wat gebeur het, maar deur bittere berou en baie trane word die gif serum.

Dieselfde man wat gesweer het: “Ek ken Hom nie”, bring in sy eerste diens 3 000 siele in... byna of mens kon sê ‘n duisend siele vir elk van die verloenings.

En Saulus? Hy was ‘n terroris wat die Christene erg vervolg het. Die HERE keer hom voor op die pad na Damaskus en keer sy giftige lewe om na serum en maak van Paulus die grootste Apostel van die Nuwe Testamentiese Kerk.

Wyle Mary Baxter van Amerika was erg kreupel gebore. Sy het Jesus aangeneem, haar verbly in haar ellende en is een Sondagmiddag 100% genees en het ‘n Evangelis geword. Toe bring sy Nuwe Lewe aan die siekes en gebreklikes.

Die HERE wil jou ook gebruik om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges. te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die HERE en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word (let op) sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte (Terpentynbome) van geregtigheid, 'n planting van die HERE, tot sy verheerliking.” Jes 61:1-3 (Terpentyn kan ook genees: https://earthclinic.com/remedies/turpentine/)

“Wees in alles dankbaar”. Dis jou opleiding sodat jy ander kan bedien. Jy verkry uiteindelik ‘n sieraad vir jou as. Ja, God kan lewe uit as ook skep.

“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val (hoekom?), omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.” Jak 1:2-3

Kyk met nuwe oë na jou verlede. Al die tyd wat jy in ‘n vervalle of teruggevalle toestand was, wat jy swaar gekry en nie hoop gehad nie, was die HERE besig om serum van jou te maak. Gebruik jou serum om  ander wat ook seergekry het te genees.

Daai man wat nie kan ophou drink nie. Hou aan bid vir hom totdat hy serum word. Daar is baie soos hy wat gehelp moet word. Hy sal hulle ten beste kan help.

Daar is ander wat nou swaarder kry as jy. Wend jou serum aan. Jy het ‘n bediening.  Jy het altyd vuil en waardeloos gevoel, verwerp... draai om, bekeer jou, daar is werk vir jou om te doen.

“Dra mekaar se laste en vervul so die (liefdes) wet van Christus.” Gal 6:2 en beslis Jak 2:8. Hoe gaan jy dit regkry as jy nie self deur so ‘n vallei van doodskaduwee is nie?  Jy het eerstehandse opleiding en ondervinding. Jy is ‘n spesialis in jou veld en, die HERE werk nie net saam met jou nie, Hy stap jou vooruit. Volg Hm.

Hannes en Jana Viljoen (Brain Child Fund) het drie breinbeseerde kinders. Hulle leef in absolute oorwinning terwyl hulle ander help wat ook sulke kinders het.

Belinda Paar is verkrag op 14. Daarna sterf haar pa. Haar eerste man was erg brutaal en het haar gereeld erg aangerand. Op vier maande had sy ‘n miskraam weens aanranding. Daarna volg ‘n tweede mislukte huwelik (bankrotskap) en toe ‘n breinbeseerde kind. Vandag is sy ‘n opgeleide berader wat mense van reg oor die land bystaan.

Pastoor Dwight Pate wou as jong predikant, geld by ‘n bank leen om ‘n aanbiddingsplek te begin. Hy had geen kredietwaardigheid nie en sy medewerker het pas uit die tronk gekom. Die bank het summier geweier. Ses jaar later toe koop Pastoor Pate die bank. Hulle moet vandag die enigste kerk in die wêreld wees wat hul eie bank het.

“Wees in alles dankbaar” al gaan dit hoe erg “want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”

Die Amerikaanse Evangelis Bob Mumford, het altyd gesê: “God puts you into a fix to fix you, but if you fix the fix before you’re fixed, He has to fix another fix to fix you.”

Is dit jou werksituasie wat jou die een stel na die ander laat aftrap? Wees dankbaar en geduldig. Jy word voorberei vir jou bediening.

Het jy ‘n kind deur die dood verloor. Jy het nie jou kind verloor nie, hy/sy wag vir jou. Wees dankbaar en neem jou serum om ander kinders en hulle ouers te troos en vir Jesus te wen.

Is jy beswaard omdat jy deur ‘n aborsie is? Bely en maak jou saak reg met die HERE, jou baba wag vir jou in die Hemel. Gebruik jou serum om ander te troos of te keer dat hulle ook in so ‘n slagyster trap.

Ons is terug by Dawid. Die arme man het hard geval. Vandag is hy ‘n man na God se hart. Altesame 400 jaar na Dawid se dood, profiteer Esegiël: “En my kneg “Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel.” Eseg 37:24

Let op na hierdie skitterende beskrywing: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie 'n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter 'n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur (let op) geoefen is.

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op, en maak paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:13 – Wekroep