Donderdag 15 Januarie 2015

Wanneer jou hut aan die brand is…




Die enigste oorlewende van ‘n skeepsramp het met enkele besittings op ‘n onbewoonde eiland uitgespoel. Hy het ernstig gebid dat God iemand moes stuur om hom te red. Elke dag het hy die horison gefynkam hopende op hulp. Daar was niks... en dan het hy weer koorsagtig en vurig tot die HERE gebid op redding.

Uitgeput het hy na ‘n paar dae opgegee en begin om vir hom ‘n hut as skuiling te bou. Daar was genoeg opdrifsels, boomtakke en blare om die hut te kon bou.

Een middag laat nadat hy weer vir kos op die eiland gesoek het, kom hy by sy hut aan wat in vlamme staan en tot op die grond afbrand. Hy het nog erger gevoel. Vir hom was alles verlore. Hy was stomgeslaan. Hartseer en kwaad het hy tot God geroep: “HERE, hoe kon U so iets aan my doen?”

Vroeg die volgende oggend word hy gewek deur ‘n mishoring van ‘n groot skip wat al nader na die eiland beweeg het. Nadat hy gered is wou hy weet: “Hoe het julle geweet ek is hier?”

Sy redders het geantwoord: “Ons het gistermiddag laat jou rooksein op die horison gesien en ons hierheen gehaas.”

Dit is so maklik om mismoedig te word wanneer dinge verkeerd loop, maar mens moet nooit hoop verloor nie. God is aan die werk in ons lewens, selfs te midde van ons pyn en lyding.

Onthou, volgende keer as dit vir jou lyk jou hut brand af tot op die grond, dit is dalk ook net jou rooksein wat roep na die Genade van God! – Sjibbolet