Saterdag 10 Januarie 2015

RSA Christene kan hele land transformeer





Maar, God kan nie mismoedige mense gebruik nie!

Alhoewel mens dit nie aan die daagliks nuusblaaie en TV sal agterkom nie, is die Christendom die grootste beweging in die wêreld. Wanneer na die ontsaglike groei en impak van die Christendom wêreldwyd gekyk word, dan kan dit maklik beskryf word as “Die grootste storie wat ooit misgeloop is,” aldus dr. Peter Hammond van United Christian Action.
         
In die 2000-sensus het net meer as 32 miljoen inwoners van Suid-Afrika verklaar dat hulle Christene is.
            Hierdie Christene beskik oor ‘n dinamika potensiaal wat SA oornag kan transformeer.
            In Josua 1 is Moses dood. Die groot volksleier het weggeval. Dit was natuurlik dat die volk mismoedig sou wees.
            Maar luister:  God kan nie mismoedige mense gebruik nie!
            Kyk na die mismoedige Elia in 1 Kon,. 18:4-8. Let op die kontras tussen die Elia van Karmel en die Elia van die jenewerboom.
            In ons dag is die wekroep tot moed!
            “Maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan”.  Die wagwoord vir oorwinning is altyd  “Vorentoe.”  Onthou, daar is meer glas in die voorruit as in die truspieëltjie!
            God het aan Moses bevel gegee om deur die Skelfsee te trek (Ex. 14:13-16);  nou gee Hy opdrag aan Josua om deur die Jordaan te trek na die Land van die Belofte.  Baie mense kyk na Kanaän, maar wil dit nie waag om die land binne te trek nie.
            Kyk na Josua 1:3-5 oor inspirasie tot moed, en dan strofe 6 vir aansporing tot moed, en 7 vir die geheim van moed, en 8 vir die handboek tot moed, en 9 vir die rede vir moed, en 10-15 om moed te skep en 16-18 hoe moed reageer op moed.
Suid-Afrikaanse Christene sit aan die verkeerde kant van die Jordaan.  God se volk bestaande uit meer as 34 miljoen Suid-Afrikaners – 27.6 miljoen Swart, 2,9 miljoen Bruin, 204 800 Indiër, 3,6 miljoen Wit en 231 239 “ander” – hou die toekoms van ‘n totaal nuwe SA in hulle hande.
            Wat sou dit 34 miljoen Suid-Afrikaners baat om in ‘n sensus te verklaar dat hulle Christene is, maar God is nie in aksie in hulle lewens nie! Nie in aksie in hulle gemeenskappe nie!
            Dr Hammond kyk op sy beurt na die wêreldtoneel en wys onder meer op die volgende:
            “Die Kerk van Jesus Christus is ‘n wêreldwye beweging met verteenwoordigers in elke land van die wêreld.  Die Koninkryk van God het meer burgers as enige ander bevolking in die wêreld.
            “Dit het baie meer werknemers en “kliënte” as Coca-Cola, of Microsoft of General Motors.
            “Die gekombineerde wêreldwye bates van die Christendom beloop ver meer as die “Fortune 500” maatskappye.  Amerikaners gee 10 keer meer aan kerke en Christen-organisasies as wat hulle aan sport bestee.
            “Kerkbywoning in ‘n betrokke jaar is by verre meer in vergelyking met die getalle wat sportbyeenkomste bywoon.
            “Die Bybel is steeds die boek met die grootste verkope in die wêreld.  Geen ander boek kon nog ooit in die geskiedenis naby die Bybel se verkope kom nie.
            “Die Bybel word elke jaar in 18 tale nuwe tale vertaal. Agt uit elke tien mense op die aarde het reeds toegang tot die hele Bybel in hul eie taal.
            “Nege uit tien mense op die aarde het reeds in hul eie taal toegang tot die Nuwe Testament.
            “Mense van meer as 2 600 tale het reeds gedeeltes van die Bybel in hul eie tale beskikbaar.
            “Die Evangelie word in 250 tale deur middel van die radio verkondig. In die jaar 2000 is reeds 99% van die wêreld se bevolking met die Evangelie bereik deur middel van die radio, TV, kasetbande en video’s.
            “Die rolprent wat die meeste vertalings ondergaan het en deur die meeste mense al gesien is, is die JESUS film. Meer as 750 miljoen mense in 217 lande het al na die rolprent gaan kyk.
            “Op die oomblik is die JESUS film in 99% van die tale van die wêreld beskikbaar. “Slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is van die oes.”  Joh. 4:35.
            “Hierdie ongekende prestering is nog te meer besonders wanneer mens in ag neem dat na Jesus Christus se Hemelvaart, daar net 120 mense was wat bymekaar gekom het om te bid.
            “Binne ‘n paar dae is 3 000 siele bygevoeg.  Na drie eeue en tydens die vervolging deur die Romeinse Ryk, was daar reeds 10 miljoen belydende Christene.
            “Teen die einde van die eerste millennium het belydende Christene tot 50 miljoen aangegroei. Teen 1 800 het die lidmate van alle denominasies – Katoliek, Ortodoks en Protestants – tot 215 miljoen aangegroei.
            “In 1886 berig Pierson in sy navorsingswerk The Crises of Missions dat Bybelvertalings  in net 100 jaar se tyd van 50 tot 250 aangegroei het; sendingrade het van 7 tot 100 toegeneem en manlike sendelinge van 170 tot
3 000. Geldelike bydraes het van $250 000 tot $10 miljoen toegeneem en nuwe bekeerlinge van 50 000 tot 2.5 miljoen.                                                                
            “In 1795 het William Carey die moderne sendingbeweging begin en binne die bestek van ‘n eeu was daar in 1900 reeds 500 miljoen Christene wêreldwyd.
            “In die jongste eeu tot 2000 het die getalle aangegroei tot 2 biljoen.
            “Statistiek kan misleidend wees en die vraag kan tereg gevra word hoeveel van hierdie bekeerlinge waarlik wedergeborenes is?  Net God sal weet.
            “As  daar egter net ‘n fraksie van hierdie getalle waarlik ‘n intieme verhouding met God het, dan is dit steeds ‘n reuse getal.
            “Daar is niks in die wêreld wat vergelyk kan word met die groei van die Christendom nie, ook nie wat die sending betref nie, en nog minder wat die geestelike honger betref.
            “In 1970 het twee-derdes van die wêreld se Christene in Europa en Amerika gewoon.  Nou woon 75% van die wêreld se Christene in die nie-Westerse wêreld.
            “In Afrika was daar in 1900 altesame 10 miljoen Christene. Nou is daar 300 miljoen.
            “In Latyns Amerika was daar in 1900 altesame 50 000 Protestante.  Nou is daar 100 miljoen Protestante in Suid- en Sentraal Amerika.
            “In Sjina is daar daagliks 25 000 nuwe bekeerlinge, ten spyte van streng vervolging.
            “Die woorde van Christus gaan in vervulling: “…op hierdie rots sal Ek my gemeente bou en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”  Matt. 16:18
            “Die groot uitdaging vir die Christendom vandag is die dringende noodsaaklikheid van Bybelse lering.  Die Woord word oppervlakkig geëvangeliseer en diepte aan lering ontbreek.
            “Dit is veral vanuit Afrika waar ‘n organisasie soos United Christian Action ernstige pleidooie ontvang vir Christen boeke, nuusbriewe, traktate, kasetbande en radioboodskappe asook vir leierskap-opleidingskursusse.
            “Die ongebruikte potensiaal van die Christendom in die wêreld om die ganse aarde te transformeer, is onberekenbaar.
            “In die verlede het Godvresende Bybelse gelowige Christene ‘n einde gebring aan al die onheile soos kannibalisme, kinder-prostitusie, menslike brandoffers, slawerny, ens.
“Dink net wat kan gedoen word as die wêreldwye mannekrag van die Christendom met al sy geriewe en materiaal gemobiliseer kan word tot gebed en verootmoediging!
“En as God genadiglik ‘n Heilige Gees vervulde wêreldwye herlewing boonop laat plaasvind, sal die resultate asemrowend wees.
“Benjamin Franklin het gesê dat wie ook al die beginsels van die Christendom in die openbare sektor inbring, sal die beeld van die wêreld in totaliteit verander.
“Franklin het gesê die potensiaal is daar om die wêreld ingevolge die beginsels van die Bybel te regeer en bygevoeg:  Die Kerk is meeste van die tyd ‘n slapende reus, maar as die Kerk van Christus opgewek word dan sal reformasie en herlewing die ganse wêreld ten goede toe verander.”          

·       “As My volk – van meer as ‘32m’ in SA – oor wie My naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, dan sal Ek uit die Hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” – 2 Kron. 7:14.

God sê in Matt. 12:30 aan die meer as 34 miljoen Suid-Afrikaanse Christene: “Hy wat nie met my is nie, is teen MY; en hy wat nie saam met versamel nie, verstrooi.”
Hoe kan meer as 34 miljoen Suid-Afrikaanse Christene sê hulle is aan Sy kant, maar hulle laat na om die bitterste vyand  van onheil en misdaad teen te staan! Hoekom hoor ons nie die Christen-stem in alle sektore van die gemeenskap nie en nog minder in die raadsale?
Alle ware manne behoort ‘n besluit te neem, want ‘n verskriklike stryd is nou aan die gang en ‘n vloek sal rus op diegene wat neutraal staan.
Die tyd van powere pogings om SA uit sy misdaadhel te red is verby. Die vloedgolf van permissiwiteit, moord, roof, verkragting kapings, louheid, kan net deur die Christendom hokgeslaan word.
God het aan ons ‘n ruggraat gegee, nie ‘n wensbeentjie nie.
Nou het ons moed en deursettingsvermoë nodig, verootmoediging en gebed.
“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;
“en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Heb. 12:12-13. –  Sjibbolet