Saterdag 10 Januarie 2015

Uit die mond van ‘n kind...




Joh 6:1-15: "Hier is 'n seuntjie met vyf garsbode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense … " (vs. 8,10). Het jy al daaraan gedink, dat as die dissipels nie die eerste paar treë geneem het en in die geloof begin uitdeel het nie, het die wonderwerk straks nie plaasgevind nie.
 
Die uitgesproke ongelowige William Hone, skrywer, het op 'n dag 'n seuntjie met groot aandag sy Bybel sien lees. "Hoekom mors jy jou tyd met daardie nuttelose boek?" vra Hone. Die kind het kinderlik, beleefd geantwoord: "Dit is al wat my siek moeder kan troos, Meneer. Ek soek 'n deel wat ek vanaand vir haar kan lees as sy nie kan slaap nie." Diep geraak het William Hone besluit om self die Bybel te lees. Dit het tot sy Wedergeboorte gelei. Voor in sy Bybel het hy geskryf:

The proudest heart that ever beat,
hath been subdued in me;
The wildest will that ever rose,
To scorn thy cause or aid thy foes,
Is quelled, my God, by Thee.

Watter krag het 'n kind teenoor 'n wêreldwyse en geleerde man? Dit is nie 'n mens se eie krag of invloed wat 'n ander mens tot bekering kan bring nie. Dan sou net buitengewone mense vir die Here bruikbaar wees. Dit is Christus se eie krag wat deur sy Heilige Gees, deur die persoon wat Hy as sy instrument gebruik, werk om iemand se hart te bereik.

"Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid of welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees" (1Kor.2:3,4)

GEBED: Here, vandag is ek nie slim of sterk nie, maar ek wil vir U bruikbaar wees sodat U, met U krag deur my, kan werk om iemand te bereik.