Saterdag 10 Januarie 2015

Kom, elkeen moet saai...




Joh 12:20-33: "As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in" (vs. 4).

In die Encyclopaedia Britannica word van 'n merkwaardige eksperiment vertel wat by Wolverhampton, Engeland, gedoen is. Een koringkorrel is geplant, wat verskillende halms met are opgelewer het. Die koringkorrels wat van hierdie een koringplant geoes is, is almal getel en weer geplant. Amper 'n akkertjie koring het toe opgekom. Die proses is herhaal. Na twee jaar is nagenoeg 32 500 koringkorrels geoes. Almal afkomstig van die een koringkorrel wat oorspronklik geplant is.

So moet elkeen wat bely dat hy of sy ‘n Gelowige is die Woord saai. Herders kry nie lammer nie, skape lam. Die herder versorg sy skape en pas hulle op, maar dis die skape, ek en jy, wat die twee-, drie-  en vierlinge moet inbring.

'n Morawiese sendeling, George Smith, het na 'n Afrikagebied toe gegaan om sendingwerk te doen. Hy het net 'n kort rukkie kon bly, want deur die samewerking van vyandelike elemente, soos bv. toordokters, moes hy sy sendinggebied verlaat. Hy het net een bekeerling gehad: 'n middeljarige en armoedige vrou.

Hy het hom in sy nuwe omgewing aan alles onttrek en voortdurend gebid vir die uitbreiding van die Evangelie in daardie Afrikastreek waar hy wou werk en, soos hy gedink het, gefaal het. Hy is in sy eensame kamer, in gebedsposisie, dood gevind.

Met die honderdjarige herdenking van die Morawiese Sendinggenootskap het 'n groep sendelinge by die streek waar die Smith sendingwerk probeer doen het, uitgekom. Hulle het daar 'n bejaarde vrou aangetref: George Smith se enigste bekeerling. Sy het vir hulle die verslete Bybel gegee wat hy agtergelaat het.

'n Sterk Christengemeente van 13 000 mense het in die gebied gewoon. Almal vrug van die getuienis van daardie een bekeerling wat George Smith agtergelaat het. Haar voortgaande getuienis vir die Here, die gedurige lees van die Bybel en, ek glo, ook sy volhardende voorbidding vir hulle, het so 'n oes opgelewer. "…die woord wat uit my mond kom…sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit uitgestuur het" (Jes.55:11).

God het in elke saad die lewenskrag volgens sy soort geplaas. Saad wat in 'n houer op 'n rak gestoor word, kan nie daardie krag vrystel nie. Die eis is: in die grond val, sterwe, groei en vrugdra. God se Woord is saad – Jesus het die gelykenis van die saaier vertel en gesê: "Die saad is die woord van God." - Die woord wat verswyg word, bly alleen. Die woord wat uitgestuur word, dra vrug. Die koringkorrels wat so oorvloedig 'n oes kan voortbring, is ook mense, die diensknegte van die Here, wat hulleself, soms met opoffering, beskikbaar stel om gebruik te word. In die bekeerde mens is 'n godskrag, die inwonende Heilige Gees, wat uit die aanbieding van die bekeerde mens se lewe en getuienis, krag, talente, besittings, die wonder van bekering ook in ander kan laat ontkiem.

GEBED: Here, vandag gee ek myself aan U oor en begin ek saai.