Sondag 25 Januarie 2015

Jy en ek is Erfgename ...





1 Kor. 1:17-24: "Jesus Christus, die Seun van God ...is die 'ja' van God, die 'ja' op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop 'Amen' sê" (vs. 19,20).

Die Nuwe Testament is presies wat dit genoem word, ‘n Testament… Jesus se Testament. “Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.” Gal 4:7

Soos enige ander Testament, is die Nuwe Testament ook vol beloftes van wat ek en jy geërf het. Let op, daar is ook voorwaardes wat nagekom moet word voordat mens kan erf.

Dit is tot ons skade as ons nie God se beloftes in sy Woord ken nie. As ons die Bybel nie genoeg lees vir God om vir ons beloftes vir ons situasie te gee nie. Dis soos wanneer ‘n prokureur jou laat weet dat jy ‘n plaas geërf het, maar jy gaan nooit om die plaas op te eis nie. So kan dit dus nooit jou plaas word nie.

In die Ou testament is daar profetiese beloftes waarvan sommige steeds besig is om in vervulling te gaan. Dr. Everel Storms van Ontario skryf in Contact Magazine:  Die Bybel bevat 8 810 beloftes. Hy het dit geklassifiseer: 7 487 beloftes is deur God aan mense gemaak, 991 is beloftes van mens tot mens. 290 beloftes is deur 'n mens aan God gemaak. Engele het beloftes gemaak, meesal in Lukas.

Die duiwel het 9 beloftes aan mense gemaak. Bv. een aan Eva in die Tuin: "...die dag as julle van daardie boom eet... sal julle soos God wees..." (Gen.3:4). Tot haar bittere skade het sy uitgevind 'n mens kan nie Satan glo nie. Een van Satan se ander beloftes was aan Jesus: "...die duiwel...wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld...'Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee...as U maar net voor my buig en my aanbid'" (Mat.4:6). Gelukkig vir ons het Jesus die duiwel goed geken en eerder God se Woord gehoorsaam. Jesus antwoord: "Daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien" (Mat.4:8).

Gehoorsaamheid aan God het vir Jesus uitgeloop op die kruisdood, maar dit het God verheerlik, ons verlos en vir Jesus na die opstanding ewige heerlikheid en eer in die Hemel gebring. Dr. Storms skryf verder dat 2 beloftes deur 'n bose gees gemaak is en 2 beloftes het God die Vader aan God die Seun gemaak. In die boek Titus is geen belofte nie. Aan die ander kant bevat Jesaja, Jeremia en Esegiël meer as 1 000 beloftes elk.

Lees Ps 37 en waardeer al die beloftes daarin.

Ons maak ook beloftes en daaroor sê die HERE:  “As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie. Laat jou mond nie toe om op jou liggaam 'n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was 'n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?” Pred 5:3-5

Mens staan by jou woord, al gebeur wat ook al, want jy mag nie jou woord breek of sê dit was ‘n vergissing nie.

Die HERE is ‘n waarmaker van sy Woord. Hy hou by sy Woord. En ons: Het ons ‘n woord van eer!