Saterdag 10 Januarie 2015

Maar ons het ‘n gebedsrol om te vervul




Die HERE kan ‘n koning se gedagtes verander soos water in ‘n leivoor


Nie deur krag of geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare in Sag. 4:6.
          Die God van die Bybel, is presies dieselfde God wat ons vandag aanbid. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Omdat Hy Almagtig is, kan Hy die geskiedenis verander, Hy kan die lewe van enige volk op aarde omskep, ja, Hy kan selfs oorloë laat ophou – in antwoord op gebed!
          Die Here is in beheer van die koning. In Spreuke 21:1 lees ons: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome;  Hy lei dit waarheen Hy wil.”
          Die nuwe vertaling lees: “Die Here kan ‘n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” (Plaas- en dorpskinders sal weet wat ‘n leivoor en leibeurte is en hoe mens dit beheer.)
          Israel pleeg ‘n gruwelike sonde. Die HERE sê aan Moses: “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Maar Moses besluit om 40 dae lank op die berg te gaan bid.
          Dis nie lank nie. Selfs in ons dag bid mense so lank en selfs langer.
          Moses was bang vir die toorn en die grimmigheid van die HERE (Deut. 9:19), maar hy het God nie met rus gelaat nie.
          Dit is wat ons ‘n (magtige) gebedstryd noem, wanneer iemand bid asof sy lewe daarvan afhang.
          Moses het nie nodig gehad om so vir sy volk in te tree nie. Sy saak met God was skoon. Hy het boonop God se belofte gehad: “Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak!”
          Hy is egter deeglik daarvan bewus wat die uiteinde gaan wees as God sy toorn teen die volk sou verhef. Hy tree vir sy volk in die bres, 40 dae lank. Hoeveel van ons bid ‘n uur lank?  En ons kan nie verstaan hoekom niks gebeur nie.
          Aan die Kruis op Golgotha bid Jesus dat Sy moordenaars vergewe moet word.  Op die berg bid Moses: “Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde sou vergewe. En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!” Ex. 32:31,32.
          Moses het oorwin en so is die lot van ‘n volk bepaal. Is jy op oorwinningsgrond? Ons gebede is soveel werd as wat ons werd is. Die maat waarmee ons meet, sal ons mee gemeet word.
          Daar is Dawid se groot gebed toe Absalom in opstand gekom het en die koning in skaamte moes vlug. Dawid se saak het hopeloos gelyk. Daar sit die indringer in die hoofstad Jerusalem op Dawid se troon.
          Psalms sê Dawid was ‘n man van gebed. In Ps. 3 bid hy: “O HERE, hoe het my teenstanders vermenigvuldig! Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie…  Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef.
          “Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my vanaf Sy heilige berg. Ek het gaan lê en aan die slaap geraak; ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my. Ek sal nie vrees vir tienduisende mense wat rondom teen my gereed staan nie…  Die heil behoort aan die HERE; laat U seën wees oor u volk! Sela.”
          Die oorwinning wat later op die slagveld behaal is, Absalom se tragiese einde en die herbevestiging van Dawid as koning, was reeds in die onsigbare area van gebed besleg.
          Christene sit soms maande by beraders in die hoop om gehelp te word met probleme wat oor hulle pad gekom het. Hulle het nog nie die geheim geleer dat selfs die lot van konings en volkere bepaal kan word deur die knie wat in die teenwoordigheid van God buig nie, tesame met die stem van belydenis en smeking wat die Troon van Genade bereik nie.
          Daniël se gebede het die groot Babiloniese en ook die Medo-Persiese ryke geskud. Hy het nie die koning se bevel gevrees nie en het geweier om die beeld te aanbid.  Daniël kon dit doen,  want hy het met ‘n skoon gewete voor God kon staan.  Dit is ook hoe hy geweet het dat God hom sou red.
          Dit baat nie ons wil ook 40 dae lank bid maar ons saak met God is nie reg nie.  God laat Hom nie bespot nie.
          Daniël se saak met God was reg en daarom kon hy die goddelose politieke kwaaddoeners wat sy ondergang gesoek het, trotseer.
          “En toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bokamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal per dag op sy knieë geval en gebid, en lofprysinge teenoor God gespreek.”
          So beland Daniël in die leeukuil. Sy oorwinning in die leeukuil was nie  toe hy heelhuids daar uitklim nie, maar juis toe hy daar ingegaan het. Hy het die leeukuil in oorwinning betree. Hy had ‘n vaste vertroue in sy God.
          Duisende het in afwagting gesit om te sien hoe die leeus Daniël verskeur. En toe gebeur daar niks. ‘n Engel het die leeus se bekke toegestop.
          “Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees!
“Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en Sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en Sy heerskappy duur tot die einde toe.
“Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die Hemel en op die aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.”
Paulus se middernagtelike gebed in die gevangenis van Filippi was een van die beslissingsoomblikke in die verloop van die mensdom. God sou hom daar uit laat stap om die boodskap van die Kruis in die ganse Europa verkondig, sou hy in ‘n gesig die man van Macedonië hoor sê: “Kom oor en help ons!’
“En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing.” Dan skud die fondamente van die gevangenis en die tronkbewaarder roep uit: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Nie ver daarvandaan nie was ‘n getroue groep gelowiges ook in gebed.
Daar is ‘n uitnodiging ook vandag aan die mensdom: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy moet My eer!”
Al verkeer jy nie benoudheid nie is daar ander wat wel in benoudheid is en dit is jou plig, jou roeping om in gebed en moontlik ook fisies, vir hulle in te tree.
In die Tuin van Getsemané vind ons Jesus Christus in gebed en word die ewige lotsbestemming van die ganse mensdom besleg. Die Verlosser had die sleutel in Sy hand.
Hy moes gekruisig word, Sy bloed moes vloei, ‘n lam ter slagting gelei. Nie langer hoef die mens ‘n bokkie te neem, sy sondes daarop af te bid en die bokkie te offer nie. Nee, die Lam van God is vir almal se sondes geslag, ‘n volmaakte werk.
Sy Getsemané-gebed was nie oor vrees vir die dood nie, maar dat Hy wat sonder sonde was, die wêreld se sondes op Hom moes neem. Die Seun van die Mens triomfeer egter ook oor dit.
Die mensdom met sy pyn en skande en dood, sal verlossing vind.
Waar is daar ‘n meer kritieke uur in die lewe van die Kerk as toe Graaf von Zinzendorf in 1714 in Herrnhut, Duitsland die naam van die HERE begin aanroep het.
Hy was diep neergeboë in ‘n siele-angs omdat hy gesien het wat aangaan onder Protestantse gelowiges van die verskillende evangeliese bewegings. Dit was ‘n tydperk van vurige vervolging.
Luther het sy taak voltooi. Calvyn het op ‘n magtige wyse gewerk. Huss was ‘n gewyde nagedagtenis. Zwingli het sy volgelinge gelei, maar daar was verwarring en steeds het die bloed van die Christen-martelare gevloei.
Sedert sy jeug was Graaf von Zinzendorf ‘n ywerige Christen asook ‘n man van aksie. Hy het sy deure van sy reuse landgoed vir die vervolgde Protestante van Europa oopgestel, sodat hulle iewers skuilplek teen die genadelose storm kon vind.
Toe het Von Zinzendorf se barenswee begin. Hy het gehoop op liefde en begrip: wat hy gehoor het was die stem van geskille – en ons hoor dit vandag weer.
Die geskille was oor tientalle sake, alles van minder belang. Von Zinzendorf het verlang om God se kinders verenig te sien, maar eindelose teologiese twispunte het die uitdra van die Evangelie verteer.
Von Zinzendorf het dae en nagte in gebed deurgebring. Ander sluit later by hom aan. Op 14 Augustus 1714 het die antwoord gekom. Von Zinzendorf het ‘n Nagmaalsdiens gehou waarheen almal genooi was.
Die heerlikheid was meer as wat vlees en bloed kon hanteer. Gelowiges het in die HERE se teenwoordigheid neergeval. Die Kruis met sy diepste betekenis is onthul. ‘n Goddelike metamorfose vind onder die aanwesiges plaas. Christus word vir almal alles.
Die Morawiese beweging kom op dreef. Hulle het ‘n 24-uurse gebeds-siklus gevorm en groepe het dag en nag tien jaar lank gebid. Ja, jy lees reg: Tien jaar lank dag en nag.
Die gevolg daarvan was dat oor ‘n tydperk van 25 jaar 100 sendelinge na alle dele van die aardbol uitgereik. Die Morawiërs het ‘n wêreldwye beweging op tou gesit wat uiteindelik Protestantisme van polemiek tot sending laat swaai het.
John Wesley, ‘n spruit van die Morawiërs, het na sy grootse ondervinding in Aldersgate na Herrnhut gegaan om die wonderwerk self te aanskou.
Hy skryf aan die gelowiges tuis: “Ek het ‘n kerk gevind waar mens die atmosfeer van die Hemel self inasem.”
Dit is wat Suid-Afrika nodig het: ‘n Goddelike ingryping! Wat baat dit ons om te verklaar dat ons Christene is en niemand sien God in aksie in ons lewens en in ons land nie.
Reg oor SA skakel Christene by gebedsgroepe in. Ons glo daar is ‘n Goddelike ingryping in wording, ‘n kragtige geestelike herlewing is aan die kom, nie net in SA nie, maar reg oor die wêreld.
Nie deur krag of geweld nie, maar deur Sy Gees. – Sjibbolet