Donderdag 15 Januarie 2015

Ouers onbevoeg om kinders geestelike te lei





·    Navorsing toon
Ouers onbevoeg om kinders geestelike te lei

In Suid-Afrika is daar huidig ‘n groot geskarrel rondom godsdiens in skole. Die volgende is ‘n verslag van die Barna Navorsingsgroep in Amerika, ‘n peiling wat ook die Suid-Afrikaanse situasie weerspieël.
          Ouers glo en aanvaar dat hulle primêr verantwoordelik is vir hulle kinders se geestelike ontwikkeling, maar min ouers spandeer tyd gedurende ‘n tipiese week in  interaksie met hulle kinders oor godsdiens.
          Dit het nodig geword dat die kerke die ouers onderrig gee oor hoe om na hulle kinders se geestelike heil om te sien.
          Nege uit elke tien ouers van kinders jonger as 13 jaar (85%) glo dat hulle primêr verantwoordelik is om hulle kinders oor godsdiens en geestelike sake te onderrig.
          Net 11% het gesê dit is die kerke se verantwoordelikheid en 1% het gesê dit is die verantwoordelikheid van die kind se skool.
          Feitlik al die ouers van kinders jonger as 13 het gesê dit is ouers se verantwoordelikheid om kinders waardes te leer.  Net 1% het gesê dit is die skool se plig en nog 1% het gesê dit is die kerk se plig.
          Nogtans spandeer die meeste ouers geen tyd hoegenaamd daaraan om hulle geestelike te onderrig nie.
          Daar is darem ‘n effense ligstraaltjie. Twee uit elke drie ouers se kinders woon elke maand kerkdienste by. Alhoewel die meeste ouers dus sê dat die geestelike onderrig van hulle kinders, die ouers se verantwoordelikheid is, is hulle heeltemal tevrede daarmee dat die kerke die kinders onderrig.                    
          Die navorsing het getoon dat alhoewel ouers graag self hulle kinders wil onderrig, die ouers nie weet hoe om dit te doen nie weens ‘n gebrek aan kennis.
          Dit het ook getoon dat die kerke feitlik geen rol daarin speel om ouers van die nodige kundigheid te voorsien om na hulle kinders se geestelike heil om te sien nie. Net een uit elke vyf ouers van kinders jonger as 13 (19%) is deur kerke gekontak om die ouers se rol in die geestelike opvoeding van hulle kinders te bespreek.
          Die navorsing het getoon dat ouers nie weet hoe om die Bybel te bestudeer nie en hoe om Bybelstrofes te memoriseer nie.
          George Barna wat die navorsing gelei het, sê dat miljoene ouers geen idee het van die geestelike nood onder hulle kinders nie.

·       Van die 51miljoen kinders onder die ouderdom van 18 jaar in Amerika, is daar meer as 40 miljoen wat nie Jesus Christus as Saligmaker ken nie. Barna sê dit bewys dat daar ‘n geestelike nood is wat nie aangespreek word nie.

Barna sê: “Hierdie is die mees betekenisvolle en vrugbaarste sendingveld binne die geledere van die nasie, nogtans doen die mense wat glo en erken dat hulle verantwoordelik is vir hierdie kinders se geestelike heil, net mooi niks daaraan nie.
“Kerke sal in toenemende maat betrokke moet raak by die onderrig van die ouers wat betref die geestelike opvoeding van hulle kinders en om hierdie aller belangrike taak met wysheid te hanteer.”
Die navorsing het ook getoon dat in sommige gevalle die ouers nie in staat is om hulle kinders geestelik te lei nie omdat die ouers met hul eie geloofsontwikkeling sukkel.
          Wanneer dit kom by die geestelike opvoeding van kinders is daar miljoene gesinne op wie die spreekwoord van toepassing is wat lui:  Jy kan nie gee wat jy nie self het nie!
          Volgens die navorsing kan ’n kerk egter nie daarin slaag om ‘n kind tot volle geestelike wasdom te lei nie. Dit is en bly die taak van die ouers, veral die moeder aan moedersknie. Hoe meer die kerk hierdie rol vervul, hoe minder sien mens geestelik gesonde gesinne en hoe minder armer word ons aan ‘n nuwe generasie van jongmense wat tot geestelike wasdom kan groei.
          Die kerke daarenteen erken dat dit nie hulle plig is om kinders tot geestelike wasdom te lei nie. Kerke het kinders maar sowat twee ure per week onder hulle vlerk terwyl die ouers die kinders die hele week onderdak het. Ouers het baie meer geleenthede om as geestelike mentors op te tree.
          Die inligting wat tydens hierdie projek ingesamel is, het nou gelei tot ‘n nuwe boek wat binnekort uitgegee sal word getiteld “Transforming Children Into Spirtual Champions.”  Dit sal dien as handboek vir ouers en kerke.
         Die navorsing kon net sowel in SA gedoen gewees het. Die situasie is presies dieselfde. Die ontsettende hoë egskeidingsyfer in SA belemmer ook die geestelike heil van ons kinders. Die kerke se taak kan nie onderskat word nie.
          Ouers mag egter wel die opvoedingstaak van hulle kinders aan ander delegeer, maar hulle mag nooit die verantwoordelikheid delegeer nie.  Die beheer oor die totale onderwys van ‘n kind, moet by die ouer berus en nie by die staat of ‘n ander liggaam nie.
          Die inhoud van alle onderrig moet in die geval van die Christen, op die Bybel gebaseer wees.  “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid…” Ps. 111:8.
          Ouers het geen verskoning in SA waarom hulle nie hulle kinders ook tot geestelike wasdom kan lei nie. Christen-boekwinkels verkoop talle handleidings.  Meeste kerke het handleidings beskikbaar.
          Die belangrikste op die oomblik is vir ouers om hulle verantwoordelikheid te besef en dit daadwerklik na te kom, hulleself geskool te kry in die Woord en na hulle kinders se geestelike heil om te sien. Hierdie is ‘n verpligting wat geen ouer mag of durf systap nie.
Komaan ouers, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat nou kreupel is (want inderdaad is ons ‘n kreupel spul) nie (boonop) uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word, aldus Hebr. 12:12-13. – Sjibbolet