Donderdag 15 Januarie 2015

Die armoede verswelg ons



Maar daar is Hoop!

Kort voor SWA se onafhanklikheid is gesê van biljoene dollar se ontwikkeling wat die land sou binnestroom.  Olie sou van Angola af kom en petrol sou na 1990 net 20c per liter kos.
            En onafhanklikheid het gekom en gegaan en van al die beloftes het niks gekom nie.
            Soortgelyke beloftes is in Suid-Afrika gemaak.  Ook daarvan het niks gekom nie.
            Angola met sy rykdomme waar die blaam vir alle verval vrykwistig op UNITA geplaas is,  rapporteer  die NGO Global Witness nou dat Angola verlede jaar sowat R45 miljard uit olie alleen verdien het.  Nogtans leef die bevolking van ‘n skamele R11 per dag per kop, en dit teen veel hoër pryse as hier.
            Die olie-inkomste beloop na raming 87% van die staatsomset, en ten spyte daarvan is maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling op ‘n pad van rampspoed.
            Boonop, volgens die Global Witness, het daar verlede jaar sowat  R22 miljard  uit die staatskas verdwyn.
            Meer as 30% van alle kinders sterf voor die ouderdom van vyf jaar.  Kinders sterf teen ‘n tempo van bykans 500 per dag.  Driekwart van die bevolking leef in absolute armoede.
            Daar is net meer as 3 miljoen mense. Nogtans is hulle lewensverwagting net 44 jaar. 
            Toe daar later vrae gevra is waarom olie dan nie van Angola af ingevoer word nie, is gesê dat die gehalte daarvan glo te swak is.  Vraag is: Hoe kan dit swak wees as die Angolese nogtans sowat R45 miljard daaruit verdien, veral wanneer die wêreld se groottes soos  Chevron Texaco, Total Final Elf en Exxon Mobil daarby betrokke is?
            Volgens die Global Witness is die burgeroorlog en die ekonomiese en politieke onstabiliteit wat daarmee saamgeloop het, uitgebuit om onder meer inkomste uit die oliebronne te verduister.
            Ten spyte van dit alles, moet die VN R2 200 miljoen begroot om Angola se hongersnood te verlig.
            Inderdaad gaan dit dus veel slegter met Angolese as met Suid-Afrikaners, nogtans is Suid-Afrikaners besig om hulle spaarbussies leeg te maak. 
            Die verswakte rand, hoër rentekoerse wat steeds gaan styg, asook toenemende prysstygings van feitlik alle kommoditeite, tesame met toenemende werkloosheid, word ons mense deur toenemende armoede verswelg.
            Vir ons almal gaan sake veel erger word, maar daar is hoop!
            Wanneer  die Bybel praat van hoop, dan is dit nie hoop soos in “ek wens” nie, maar soos in “toekoms-feite”. Hoop beteken volstrekte sekerheid.
            Hoop staan nie in teenstelling met geloof nie, maar is ‘n verlenging daarvan.
            Net soos die geloof afhanklik is van die belofte van God, so is ook die hoop gevestig op die toesegging van God.
            Dié toesegging word nie altyd dadelik vervul nie, maar deur die geloof is ‘n mens in die hoop van die vervulling verseker.
            Die hoop is dan ook altyd of God gerig. Ps. 25.5; 39:8. Daarteenoor vergaan die hoop van die goddelose. Spreuke 10:29.
            Ps. 9:2-3 lees:  “Ek wil God loof met my hele hart; ek wil al U wonders vertel. In U wil ek bly  wees en juig; ek wil U naam psalmsing.
            Strofé 10 lees:  “So is God dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”  (Lees hierin hoë kostes, armoede en wanhoop).
            En 11:  “En hulle wat U naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U soek, nie verlaat nie, o’ God!”
            Met ander woorde, al styg die pryse ook hoe hoog, God sal voorsien, solank ons getrou bly, Hom getrou dien en die geloof beoefen.
            Jak. 1 vanaf strofe 2 lees:  “Ag dit loutere vrede wanneer julle in allerhande versoekinge (probleme) val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid werk.
            “Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
            Strofe 6 waarsku:  “Maar jy moet in die geloof bid, sonder om te twyfe, want die een wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe word en voortgesweep word, want dié mens moenie dink dat hy iets van God sal ontvang nie!  So ‘n dubbelhartige mens  is onbestendig in al sy weë.”
            Weier dus om te twyfel.  Staan vas in die geloof.  Deur in totaliteit in die geloof te lewe, totaal afhanklik van God,  leef ons bo die omstandighede van hoë pryse, armoede en wanhoop, en nie daar onder nie.
            God is en bly ons toevlug, ons besliste hoop.  Dan laat ons nie toe dat ons negatiewe gedagtes koester nie.  Ons weier om ons te bekommer oor wat ook al, want ons weet dat ons ‘n besliste hoop het, maak nie saak wat in wêreld gebeur nie.
            Dan is ons emosies onder beheer.  Ons skrik nie vir die koerant se opskrifte oor resessie en depressie nie, nee, want ons God lewe en Hy belowe om vir ons in die bres te tree.
            Van ons word bloot die teenprestasie van getrouheid, waarheid en geloof verwag!  – Sjibbolet