Wys tans plasings met die etiket armoede; depressie;geloof;. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket armoede; depressie;geloof;. Wys alle plasings

Maandag 16 Februarie 2015

Vergifnis beïnvloed ook jou gesondheid


Image result for sick person in hospital bed


“Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Matt 5:9

Die vermoë om te vergewe sal jou gees, jou gesondheid en jou huwelik salf, selfs jou uitkyk op die lewe verander, wys nuwe navorsing deur die mediese wetenskap, aldus USA Today.
            Die Amerikaanse kundiges soos medici, huweliksberaders, kundiges in geestesgesondheid, brein-navorsers en ander wat betrokke is by die emosionele welstand van mense, het almal in die jongste tyd die Bybelse waarheid oor vergifnis in die praktyk ontdek.
            Die kundiges bestuur nou ‘n spesiale veldtog genaamd ‘n “Veldtog vir Vergifnisnavorsing”. Groot konferensies oor die onderwerp word gereeld gehou.
            Navorsers kyk na verskeie aspekte oor vergifnis en maak gebruik van verskillende soorte meetinstrumente. Hulle kyk na die effek van vergifnis rakende ‘n wye reeks van oortredings, vanaf  kindermishandeling tot onenigheid in die huwelik.
            Die uitvoerende direkteur van die veldtog, Everett Worthington, sê alle navorsing toon dusver ‘n verband tussen vergifnis en gesondheid.
            “Kroniese onvergewensgesindheid veroorsaak stres,” sê Worthington, en voeg by “elke keer wanneer mense aan hulle skuldenaar dink, dan reageer hulle liggaam.”
            “Bloeddruk en polsslag styg, gesigspiere span styf, stres-hormone word aktief.  Kroniese stres beïnvloed die immuun- en kardiovaskulêre stelsels,” sê hy.
            Daarteenoor lei vergifnis tot ‘n vermindering van stres en vervang dit negatiewe emosies met positiewe emosies.
            Die belangstelling in vergifnis word as ‘n “ontploffing” beskryf, aldus Worthington. Hy sê die “Veldtog vir Vergifnisnavorsing” is al in 1998 gestig en word deur 13 donateurs en stigtings geborg sodat verskeie projekte onderneem kan word.
            Worthington sê hy glo dat die navorsing uiteindelik diegene gaan baat wat wil vergewe en glo dat dit noodsaaklik is om te vergewe om met ‘n mens se lewe te kan aangaan.
            “Navorsing het getoon dat alhoewel vroue meen dat hulle makliker as mans kan vergewe, dit beslis nie die geval is nie.  Hulle gedragspatrone nadat hulle kwansuis vergewe het, toon die teenoorgestelde,” sê Ann Macaskill van Sheffield Hallam Universiteit in Engeland.
            Haar studie het 214 vroue ingesluit wat elk moes skryf oor iemand wat hulle te na gekom het, die seerkry en in hoevele hulle daardie persoon werklik vergewe het.
            Fisioloog Fred Luskin van die “Stanford Vergifnisprojek” by Standford Universiteit, is leier van ‘n reeks studies oor mense met onopgeloste probleme rakende leed wat hulle aangedoen is deur hulle ouers, huweliksmaats of werkgewers. Sommige van hierdie mense ly aan erge skade.          
            In een program is 17 volwassenes vanaf Noord Ierland na Stanford gebring vir ‘n week se opleiding oor vergifnis. ‘n Familielid van hulle is vermoor. Die opleiding het in ‘n groepsessie geskied en raad is gegee oor nuwe maniere om oor trauma te redeneer.
            Na afloop van die sessie het 37% gesê dat hulle nou veel minder seer het terwyl 35% minder fisiese simptome van stres, soos byvoorbeeld swak eetgewoontes,  getoon het.
            Baie huweliksberaders glo dat vergifnis tussen huweliksmaats van kardinale belang is. Navorsing toon dat as huweliksmaats mekaar nie vergewe nie oor dinge van die verlede nie, dan kan hulle ook nie huidige konflikte hanteer nie.
            Luskin sê dat volwassenes wat nie hulle ouers kan vergewe nie, onbewustelik hulle toorn op hulle huweliksmaats uithaal.
            Navorsing het ook getoon dat vergifnis die volgende positiewe reaksies tot gevolg het:
·       Verlaging in bloeddruk en stres hormoonvlakke
·       Minder pyn, depressie en toorn in pasiënte met kroniese rugpyn
·       Minder ineenstorting van vroue wat misbruik is
·       Minder simptome van depressie en stres en ‘n hoër lewenskwaliteit onder Vigs pasiënte.
         
Suzanne Freedman, ‘n sielkundige aan die Universiteit van Noord Iowa in Ceder Falls sê dat mense soms nie ‘n begrip van vergifnis het nie.
“Hulle reageer negatief wanneer hulle die woord hoor. Hulle meen dat mens daarmee te kenne gee dat dit wat die oortreder aan jou gedoen he, in orde was.
“Vergifnis beteken nie die aanvaarding van die leed nie, of om te vergeet wat gebeur het nie, of om vrede te maak met die oortreder wat jou steeds skade berokken nie,” sê sy.
Vreemd dat die mediese wetenskap dit nou eers ontdek en kongresse daaroor hou terwyl dit al van die vroegste tye af in die Bybel staan.
Ons  was eendag deur ‘n vrou en haar man gevra om vir die vrou te bid wat sterwend was aan bloedkanker. Die vrou had ‘n verterende haat teenoor iemand in dieselfde straat.
Die vrou het vertel dat sy wel die oortreders vergewe het, maar op ‘n vraag, bygevoeg dat sy hulle “darem nie so vergewe het dat hulle welkom sal wees om daardie selfde aand by haar te kom tee drink nie.”
Ons het aan haar gesê: ‘Ons sal vir jou bid en die HERE vra om jou te genees, op voorwaarde dat jy daardie mense vergewe.’
Drie jaar later het ons die vrou en haar man in ‘n supermark raakgeloop.  Hulle was vrolik en bly, want die vrou was blakend gesond. Dit beteken natuurlik nie dat almal wat siek is, aan onvergewensgesindheid ly nie, maar in sommige gevalle kan dit wel die oorsaak van die siekte wees.
Maar as jy nie vergewe nie, sê Markus 11:25-26 die volgende: “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die Hemel is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.
            “Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die Hemel is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”
            Dis eenvoudig: As ons nie kan vergewe nie, vergewe God ons nie. Totdat jy vergewe het, kan jy maar ophou bid want God hoor jou nie.
            Hoe kan enigeen van ons dit waag om in so ‘n toestand te verkeer wanneer die HERE ons kom haal? Dis soos om met vuur te speel.
Die HERE leer ons hoe om te bid in die bekende “Onse Vader” in Matt 6. Onder meer moet ons bid: Vergewe ons, ons skulde, soos wat ons, ons skuldenaars vergewe.
Net na die Onse Vader, waarsku die HERE in 6:14 “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle Hemelse Vader julle ook vergewe.
“Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”
In 1 Kor. 11 lees ons oor die Nagmaal, en daarmee saam die HERE se waarskuwing dat as jy onwaardig by die tafel aansit, jy ‘n oordeel oor jouself drink en dat dit die rede is waarom daar “baie swakkes en sieklike onder julle is, en ‘n aantal het al ontslaap.”
As jy iets teen iemand het, of iemand iets teen jou het, dan moet jy daardie saak eers gaan regstel, voordat jy by die Nagmaaltafel aansit, anders drink jy ‘n oordeel oor jouself!
En dan Matt. 5:23 “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”
Dit beteken dat solank jou broer iets teen jou het, het jou gawe geen waarde nie, al gee jy ook duisend maal meer as gewoonlik. Feit is mens kan niks bereik sonder vergifnis en vrede nie.
“Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” (Ef 4:32)

“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” (Kol 3:13)
Waarom ‘n onnodige slagoffer van omstandighede wees, waarom so onodig ly – vergewe, sodat jy kan aangaan met jou lewe, sodat God jou ryklik kan seën, sodat dit met jou goed mag gaan!
En onthou: Vergewe ook jouself!
Die grootste wonderwerk op aarde is en bly die wedergeboorte. Die tweede wat hieraan gelykstaan, is wanneer mense vrede maak. – Sjibbolet

Donderdag 15 Januarie 2015

Die armoede verswelg ons



Maar daar is Hoop!

Kort voor SWA se onafhanklikheid is gesê van biljoene dollar se ontwikkeling wat die land sou binnestroom.  Olie sou van Angola af kom en petrol sou na 1990 net 20c per liter kos.
            En onafhanklikheid het gekom en gegaan en van al die beloftes het niks gekom nie.
            Soortgelyke beloftes is in Suid-Afrika gemaak.  Ook daarvan het niks gekom nie.
            Angola met sy rykdomme waar die blaam vir alle verval vrykwistig op UNITA geplaas is,  rapporteer  die NGO Global Witness nou dat Angola verlede jaar sowat R45 miljard uit olie alleen verdien het.  Nogtans leef die bevolking van ‘n skamele R11 per dag per kop, en dit teen veel hoër pryse as hier.
            Die olie-inkomste beloop na raming 87% van die staatsomset, en ten spyte daarvan is maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling op ‘n pad van rampspoed.
            Boonop, volgens die Global Witness, het daar verlede jaar sowat  R22 miljard  uit die staatskas verdwyn.
            Meer as 30% van alle kinders sterf voor die ouderdom van vyf jaar.  Kinders sterf teen ‘n tempo van bykans 500 per dag.  Driekwart van die bevolking leef in absolute armoede.
            Daar is net meer as 3 miljoen mense. Nogtans is hulle lewensverwagting net 44 jaar. 
            Toe daar later vrae gevra is waarom olie dan nie van Angola af ingevoer word nie, is gesê dat die gehalte daarvan glo te swak is.  Vraag is: Hoe kan dit swak wees as die Angolese nogtans sowat R45 miljard daaruit verdien, veral wanneer die wêreld se groottes soos  Chevron Texaco, Total Final Elf en Exxon Mobil daarby betrokke is?
            Volgens die Global Witness is die burgeroorlog en die ekonomiese en politieke onstabiliteit wat daarmee saamgeloop het, uitgebuit om onder meer inkomste uit die oliebronne te verduister.
            Ten spyte van dit alles, moet die VN R2 200 miljoen begroot om Angola se hongersnood te verlig.
            Inderdaad gaan dit dus veel slegter met Angolese as met Suid-Afrikaners, nogtans is Suid-Afrikaners besig om hulle spaarbussies leeg te maak. 
            Die verswakte rand, hoër rentekoerse wat steeds gaan styg, asook toenemende prysstygings van feitlik alle kommoditeite, tesame met toenemende werkloosheid, word ons mense deur toenemende armoede verswelg.
            Vir ons almal gaan sake veel erger word, maar daar is hoop!
            Wanneer  die Bybel praat van hoop, dan is dit nie hoop soos in “ek wens” nie, maar soos in “toekoms-feite”. Hoop beteken volstrekte sekerheid.
            Hoop staan nie in teenstelling met geloof nie, maar is ‘n verlenging daarvan.
            Net soos die geloof afhanklik is van die belofte van God, so is ook die hoop gevestig op die toesegging van God.
            Dié toesegging word nie altyd dadelik vervul nie, maar deur die geloof is ‘n mens in die hoop van die vervulling verseker.
            Die hoop is dan ook altyd of God gerig. Ps. 25.5; 39:8. Daarteenoor vergaan die hoop van die goddelose. Spreuke 10:29.
            Ps. 9:2-3 lees:  “Ek wil God loof met my hele hart; ek wil al U wonders vertel. In U wil ek bly  wees en juig; ek wil U naam psalmsing.
            Strofé 10 lees:  “So is God dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”  (Lees hierin hoë kostes, armoede en wanhoop).
            En 11:  “En hulle wat U naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U soek, nie verlaat nie, o’ God!”
            Met ander woorde, al styg die pryse ook hoe hoog, God sal voorsien, solank ons getrou bly, Hom getrou dien en die geloof beoefen.
            Jak. 1 vanaf strofe 2 lees:  “Ag dit loutere vrede wanneer julle in allerhande versoekinge (probleme) val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid werk.
            “Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
            Strofe 6 waarsku:  “Maar jy moet in die geloof bid, sonder om te twyfe, want die een wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe word en voortgesweep word, want dié mens moenie dink dat hy iets van God sal ontvang nie!  So ‘n dubbelhartige mens  is onbestendig in al sy weë.”
            Weier dus om te twyfel.  Staan vas in die geloof.  Deur in totaliteit in die geloof te lewe, totaal afhanklik van God,  leef ons bo die omstandighede van hoë pryse, armoede en wanhoop, en nie daar onder nie.
            God is en bly ons toevlug, ons besliste hoop.  Dan laat ons nie toe dat ons negatiewe gedagtes koester nie.  Ons weier om ons te bekommer oor wat ook al, want ons weet dat ons ‘n besliste hoop het, maak nie saak wat in wêreld gebeur nie.
            Dan is ons emosies onder beheer.  Ons skrik nie vir die koerant se opskrifte oor resessie en depressie nie, nee, want ons God lewe en Hy belowe om vir ons in die bres te tree.
            Van ons word bloot die teenprestasie van getrouheid, waarheid en geloof verwag!  – Sjibbolet