Wys tans plasings met die etiket Afrikaans;Spiritual and Regional; Jesus genees;Wedergeborene; Godsdiens. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afrikaans;Spiritual and Regional; Jesus genees;Wedergeborene; Godsdiens. Wys alle plasings

Vrydag 04 Mei 2018

Versoening, is ons Roeping


Image result for 1 Pet 3:8.


Daar is die indrukwekkende getuienis van twee broers wat op buurplase geboer het. Hulle het mekaar getrou bygestaan, oor en weer implimente geleen, gekuier, saam aanbid, ens. Dit was ‘n ware broederskap.

Toe kom daar groot onmin tussen hulle, so groot dat daar ‘n hartseer verwydering tussen hulle gekom het.

Die verwydering het in koue oorlog ontaard. Van liefde en hul getroue broederskap het niks oorgebly nie. Alles was flenters.

Een dag daag daar ‘n by die oudste broer se plaas ‘n vreemde man op. Hy stel hom voor as ‘n skrynwerker wat ook houtgeboue kan oprig. Die man het werk gesoek.

Die broer gee die man toe opdrag: “Saag al daardie bome daar anderkant af en bou vir my ‘n houtmuur tussen my plaas en plaas langsaan. Dit moet hoog genoeg wees sodat daar niks van die opstal daar oorkant sigbaar is nie. Ek wil hulle nie sien nie.

Die man sou daardie dag en die volgende werk. Die oudste broer is daar weg op sake en sou die volgende middag eers terug wees.

            Toe die oudste broer die volgende middag laterig terugkom, kon hy nie verstaan wat aangaan nie. Die skrynwerker het nie ‘n muur gebou nie, maar ‘n brug oor die heining.                 

Die oudste broer gaan staan verbysterd op die deeglik geboude brug. Sy jonger broer sien hom en kom aangehardloop. Hulle kry mekaar op die brug.

            Die jonger een val sy broer om die hals en sê: “My liewe broer na alles wat tussen ons gebeur het, bou jy sowaar ‘n brug na my huis toe! Ek waardeer jou en vergewe alles wat tussen ons verkeerd gegaan het!”

            Die oudste broer had geen ander keuse teen die jonger een se oorweldigende blydskap nie, en  vergewe en maak iefdevol vrede.

Die oudste broer sê toe vir die skrynwerker. “Bly ‘n ruk op die plaas, hier is nog baie werk vir jou.”

Die skrynwerker antwoord: “Ek moet gaan, want ek het nog baie om te  bou.”

Yeshua is die Groot Brugbouer! Hy het met sy kruis die brug tussen Hemel en Aarde gebou – tussen God Yaweh en mens.

Dit word nou van ons verwag om ook  brûe te bou.

Let op: “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het.” 2 Kor 5:18. Versoeninbg is ons bedieing.

            Mark Zuckerberg, die eienaar van FaceBook, sê FB is geskep om brûe mee te bou, nie mure nie.

            Hy het byevoeg: “Soos wat ek na die wêreld om my kyk beweeg mense en lande na binne, pleks van na buite.”

            “Mense doen dit oor vrees, maar dis kos moed om hoop bo vrees te kies.”

            In Suid-Afrika is daar nou oral mure, duiwelsvurk- en elektriese heinings. Dis nou so erg dat baie nie eers weet wie hulle bure is nie.

            “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart; want julle is Wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” 1 Pet 1:22-23

            Agter baie van hierdie heinings, is hartseer. Op plekke groot hartseer. verskeurde mense. Almal het hulp en liefde nodig maar skuil uit vrees agter die hoë mure.

            Het jy jou bure met ongeveinsde liefde lief? En ander in die volgende straat, in die gemeenskap? Sien ook 1 Pet 3:8. – Sjibbolet

Saterdag 09 Desember 2017

Grootste geskenk

Waarde lê in die toekoms. 


Om dit te kan verwesenlik vereis van elkeen van ons om mense van More te wees. Wees versigtig hoe jy vandag leef. More het jy straks niks en oormore wag die Ewigheid.

Ons gedenk Jesus se geboortedag. Los die geskenke aan mekaar en bring vanjaar vir Jesus ‘n geskenk… te minste een nuwe Wedergebore siel. Ruk hulle uit die vuur uit. Juda 1:22-23.

Wanneer jy uiteet, vergeet van die 10% fooitjie, verdubbel die rekening en gee daarmee saam die Evangelie van Liefde en Genade. Lei die kelner sommer net daar na die HERE toe. Dit sal die grootste en mooiste Kersfees wees wat jy ooit beleef het.

Woensdag 15 Julie 2015

Beproef die HERE...



2 Kor 9:6-15: "Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, ... God het die blymoedige gewer lief."

Meer as 100 jaar gelede het Henry Parsons Crowell tuberkulose opgedoen en kon nie meer skool toe gaan nie. Sy pa, ‘n suksesvolle skoenmaker, het op 36-jarige ouderdom aan tuberkulose gesterf en Henry self was erg  siek. Hy sou sy ideaal om 'n predikant te word nie kon verwesenlik nie.


Kort daarna hoor hy 'n preek deur D. L. Moody wat hom geïnspireer om ernstig te bid oor die gang van sy lewe. Hy het gebid: "Here, as ek nie 'n prediker van die Evangelie kan word nie, laat ek 'n goeie sakeman word. As U my sal laat geldmaak, sal ek dit in U diens gebruik."

'n Dokter het hom aangeraai om in die buitelug te werk om sy gesondheid te verbeter. Hy het die raad gevolg en na sewe jaar het sy kragte begin terugkom. Hy het die verwaarloosde hawermout meule, Quaker Oats Mill in Revenna, Ohio, gekoop. Nie lank nie of Henry se gehawende hawermeule groei uit sy nate. Getrou aan sy woord aan die Here het hy van die begin af sy tiende, 10% van sy inkomste, vir die Here gegee.

Binne 10 jaar was Quaker Oats 'n huishoudelike naam in die ganse Amerika. Vir die volgende 40 jaar het Henry Crowell 60% tot 70% van sy opbrengs vir die Here se werk gegee. "Bring die hele tiende na die skathuis ...en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die Hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie" (Mal 3:10).

Hoe meer geld hy vir die Evangelie gegee het, hoe meer geld het hy gemaak.

Henry het talle Christen projekte befonds, onder meer die Moody Bybelinstituut. Op 82-jarige ouderdom op 22 Oktober 1943 is hy Huis toe. Hy het per trein gereis met sy Bybel in sy hand, toe hy weg is. Hy het die Henry Parsons & Susan Coleman Crowell Trust nagelaat wat vir lank nog die Evangelie befonds het.

Komaan, beproef jy ook die HERE. – Sjibbolet

Sondag 25 Januarie 2015

Terneergedruktheid


 


1 Kon 19:1-8: "…Elia het…'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan
sit en gewens hy gaan dood" (vs. 4).

Dawid het hierdie gemoedsdroefheid geken: "Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek
so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God!" (Ps.42:6).

Paulus het dit geken: "...ons het geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons:
van buite onenigheid, van binne sorge. Maar God wat die neerslagtiges opbeur, het ons ook
opgebeur..."(2 Kor.7:5).

Die Here Jesus self het dit geken: "Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: 'Ek voel
doodsbenoud..."(Mat.26:37,38). Daarom is die Here Jesus vir ons so 'n troosvolle toevlug as ons
bedruk en benoud voel:

Dis maklik om te sê die antwoord lê daarin om die HERE te loof met alles wat jy het, maar dit is die
antwoord. Dawid besef dis die antwoord en hy sê: “Ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing!”

Het jy al vir die HERE ‘n loflied gesing?

Donderdag 15 Januarie 2015

Die armoede verswelg ons



Maar daar is Hoop!

Kort voor SWA se onafhanklikheid is gesê van biljoene dollar se ontwikkeling wat die land sou binnestroom.  Olie sou van Angola af kom en petrol sou na 1990 net 20c per liter kos.
            En onafhanklikheid het gekom en gegaan en van al die beloftes het niks gekom nie.
            Soortgelyke beloftes is in Suid-Afrika gemaak.  Ook daarvan het niks gekom nie.
            Angola met sy rykdomme waar die blaam vir alle verval vrykwistig op UNITA geplaas is,  rapporteer  die NGO Global Witness nou dat Angola verlede jaar sowat R45 miljard uit olie alleen verdien het.  Nogtans leef die bevolking van ‘n skamele R11 per dag per kop, en dit teen veel hoër pryse as hier.
            Die olie-inkomste beloop na raming 87% van die staatsomset, en ten spyte daarvan is maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling op ‘n pad van rampspoed.
            Boonop, volgens die Global Witness, het daar verlede jaar sowat  R22 miljard  uit die staatskas verdwyn.
            Meer as 30% van alle kinders sterf voor die ouderdom van vyf jaar.  Kinders sterf teen ‘n tempo van bykans 500 per dag.  Driekwart van die bevolking leef in absolute armoede.
            Daar is net meer as 3 miljoen mense. Nogtans is hulle lewensverwagting net 44 jaar. 
            Toe daar later vrae gevra is waarom olie dan nie van Angola af ingevoer word nie, is gesê dat die gehalte daarvan glo te swak is.  Vraag is: Hoe kan dit swak wees as die Angolese nogtans sowat R45 miljard daaruit verdien, veral wanneer die wêreld se groottes soos  Chevron Texaco, Total Final Elf en Exxon Mobil daarby betrokke is?
            Volgens die Global Witness is die burgeroorlog en die ekonomiese en politieke onstabiliteit wat daarmee saamgeloop het, uitgebuit om onder meer inkomste uit die oliebronne te verduister.
            Ten spyte van dit alles, moet die VN R2 200 miljoen begroot om Angola se hongersnood te verlig.
            Inderdaad gaan dit dus veel slegter met Angolese as met Suid-Afrikaners, nogtans is Suid-Afrikaners besig om hulle spaarbussies leeg te maak. 
            Die verswakte rand, hoër rentekoerse wat steeds gaan styg, asook toenemende prysstygings van feitlik alle kommoditeite, tesame met toenemende werkloosheid, word ons mense deur toenemende armoede verswelg.
            Vir ons almal gaan sake veel erger word, maar daar is hoop!
            Wanneer  die Bybel praat van hoop, dan is dit nie hoop soos in “ek wens” nie, maar soos in “toekoms-feite”. Hoop beteken volstrekte sekerheid.
            Hoop staan nie in teenstelling met geloof nie, maar is ‘n verlenging daarvan.
            Net soos die geloof afhanklik is van die belofte van God, so is ook die hoop gevestig op die toesegging van God.
            Dié toesegging word nie altyd dadelik vervul nie, maar deur die geloof is ‘n mens in die hoop van die vervulling verseker.
            Die hoop is dan ook altyd of God gerig. Ps. 25.5; 39:8. Daarteenoor vergaan die hoop van die goddelose. Spreuke 10:29.
            Ps. 9:2-3 lees:  “Ek wil God loof met my hele hart; ek wil al U wonders vertel. In U wil ek bly  wees en juig; ek wil U naam psalmsing.
            Strofé 10 lees:  “So is God dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”  (Lees hierin hoë kostes, armoede en wanhoop).
            En 11:  “En hulle wat U naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U soek, nie verlaat nie, o’ God!”
            Met ander woorde, al styg die pryse ook hoe hoog, God sal voorsien, solank ons getrou bly, Hom getrou dien en die geloof beoefen.
            Jak. 1 vanaf strofe 2 lees:  “Ag dit loutere vrede wanneer julle in allerhande versoekinge (probleme) val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid werk.
            “Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
            Strofe 6 waarsku:  “Maar jy moet in die geloof bid, sonder om te twyfe, want die een wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe word en voortgesweep word, want dié mens moenie dink dat hy iets van God sal ontvang nie!  So ‘n dubbelhartige mens  is onbestendig in al sy weë.”
            Weier dus om te twyfel.  Staan vas in die geloof.  Deur in totaliteit in die geloof te lewe, totaal afhanklik van God,  leef ons bo die omstandighede van hoë pryse, armoede en wanhoop, en nie daar onder nie.
            God is en bly ons toevlug, ons besliste hoop.  Dan laat ons nie toe dat ons negatiewe gedagtes koester nie.  Ons weier om ons te bekommer oor wat ook al, want ons weet dat ons ‘n besliste hoop het, maak nie saak wat in wêreld gebeur nie.
            Dan is ons emosies onder beheer.  Ons skrik nie vir die koerant se opskrifte oor resessie en depressie nie, nee, want ons God lewe en Hy belowe om vir ons in die bres te tree.
            Van ons word bloot die teenprestasie van getrouheid, waarheid en geloof verwag!  – Sjibbolet

Onthou jy wat jy moet vergeet, of vergeet jy wat jy moet onthou?






Ons gedagtes kan soos ‘n pestilensie wees, soos ‘n plaag. Die meeste van ons is meesters daarin om te onthou wat ons moet vergeet en om te vergeet dit wat ons moet onthou.
            Paulus sê: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel (hoekom?) om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Fil 3:14
            Die verlede se verkeerdhede kan ‘n mens se hele lewe deurmekaar krap, jou onderdruk en met ‘n binding in jou gees laat, soos ‘n blok om jou been.
            Wat ook al in jou verlede gebeur het – ‘n onreg of misdaad wat jy gepleeg het of wat teen jou gepleeg was – dit moet mens vergeet. Ons groot Almagtige God wil jou vrymaak en genees.
            Wat mens soms terughou is die begeerte om dit te beheer wat reeds buite beheer is. Hoe meer mens daarmee sukkel, tree frustrasie in en die probleem vergroot en vervaag jou vrede.
            Ons gedagtes kan soos ‘n pestilensie wees, soos ‘n plaag. Die meeste van ons is meesters daarin om te onthou wat ons moet vergeet en om te vergeet dit wat ons moet onthou.
            Dis verstommend hoe ons die dinge wat ons seergemaak het onthou, daardie onreg en pyn, en kort voor lank is ons ‘n smartvraat. Ons dink net aan ons eie seerkry en help nie ander om van hulle seerkry te genees nie.
            Sommige glo hulle het die seerkry beleef sodat hulle ander met dieselfde seerkry kan bystaan. Dis gevaarlik om mense te beraad wat dieselfde seer as jy oorgekom het. Jou simpatie vir daardie persoon kan maklik in simpatie vir jouself verander.
            Ons bly besig en nogmaals besig want ons glo dat ons dan vergeet, maar in die stil oomblikke dan is ons keer op keer die kunstenaar wat die een balletjie na die ander in die lug opgooi, maar ons kry nie die goed gevang nie, want dit is nie die oplossing nie. Dit bly ‘n frustrerende bose kringloop.
            Die genesing wat ons nodig het wat betref seerkry in die verlede, is in die Bybel te vinde. Daar is geen ander oplossings nie.
            Paulus had ‘n bittere verlede totdat hy die punt bereik het waar hy gesê het: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel (hoekom?) om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”
            Deur jou uit te strek na wat voor is, verdwyn die verlede uit jou lewe, want nou jaag jy na ‘n doel, vorentoe en steeds vorentoe, weg en verder weg van die verlede. Dis ook nie sommer so ‘n doel nie. Daardie doel is om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.
            Om te kan vergeet is geen snelle gebeurtenis nie. Paulus sê “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.
            Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.
            “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Fil 3:12-14
            Paulus erken dat hy nog nie bereik het wat hy beoog nie, maar hy besef dat om die doel te behaal, moet hy ten alle koste die verlede vergeet.
            Paulus het hom so sterk toegespits op die toekoms rakende sy eie heil en die redding van andere dat hy besig was om die verlede vir seker te vergeet.      
            Hy strek hom uit en jaag daarna is ‘n toonbeeld van iemand wat doelgerig en vol ywer is dat hy beslis gaan slaag, kom wat wil.
            Paulus had ‘n veel erger verlede as wat enige van ons ooit kan hê. Hy het teen God rebelleer en was God se openlike vyand deurdat hy Christene in die tronke laat gooi en laat doodmaak het. Hy was ‘n terroris.
            Na sy redding had hy dit ook nie maklik nie. Hy kon nie doen en bereik wat hy wou nie. Hy had ‘n meningsverskil met Barnabas oor Markus, en talle Christene was agterdogtig oor hom en sy bekering.        
            Hy het ook sukses behaal as Christen, iets waarop hy trots kon wees, maar ook dit moes hy van vergeet. Hy kon nie voortbeweeg op suksesse van die verlede nie. Hy was dus vasberade om die totale verlede te vergeet om sy Hemelse doel te kon bereik.
            As jy nog worstel met dinge van die verlede terwyl jy hier lees, sê dan aan God dat jy bereid is om die verlede te vergeet en jou uit te strek na wat voor is!
            Mens moet eenvoudig vergewe en vergeet. Die ander mense wat by jou seerkry betrokke was het lank reeds vergeet en vorder nou op die pad na heiligmaking terwyl jy slagoffer speel en aan die smartspeen suig. Die lewe gaan by jou verby. Jy raak agter.
            1 Pet 5:7 sê dat ons al ons bekommernisse op Hom moet werp. Werp dus jou hele verlede op Hom en vergeet daarvan want ons durf nie die bekommernisse onthou en daarmee voortploeter nie. Werp alle bekommernisse op Hom en vergeet daarvan. Dis nou veilig in God se hande en Hy sorteer dit uit.
            Sal God dit wel kan uitsorteer. Natuurlik! Hy sê in Jer 32:27 “Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?
            Jesus sê in Matt 15:13 “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.”
            God het nie die onreg in jou lewe geplant nie, Hy het nie die misbruike, die molestering, die bedrog of wat ook al in jou lewe geplant nie. Dit is daar geplant deur ander se sonde. God het dit nie geplant nie so Hy gaan dit ontwortel, maar dan moet jy vergeet en Hom dit toelaat.
            Kyk wat sê die HERE nog: “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Matt 25:40
            Wat iemand aan jou (een van God se geringste) gedoen het, het hulle aan Hom gedoen. Die kwaaddoeners is dus by God in die moeilikheid en dis vreeslik om te val in die hande van die Lewende God...
            “Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel.
            “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Heb 10:30-31
            God kom die  wraak toe, nie ons nie.
            Wat ook al in jou verlede gebeur het, watter onreg ook al teen jou gepleeg is, weet dit: God gaan ingryp sodra jy Hom toelaat om dit te doen deur dit aan Hom oor te gee en daarvan te vergeet.
            As dit ‘n onreg is wat jy aan iemand anders gedoen het en jy het God se vergifnis afgesmeek, vergewe dan ook jouself. Solank jy nie jouself vergewe nie, bly jy in binding.
            Natuurlik gaan die satan dit vir jou moeilik maak want, as jy eers vry is, is jy ‘n bedreiging vir sy koninkryk want jy gaan begin getuig, reg lewe en siele gaan gered word.
            God is ‘n waarmaker van sy Woord. In 1 Joh 1:9 sê Hy: “As jy jou sondes bely, ek is getrou en regverdig om jou, jou sonde te vergewe en jou van alle ongeregtigheid te reinig.”
            God reinig jou dus ook van alle ongeregtigheid!
            Ons denke, ons gemoed,  is ons groot probleem. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander (Hoe?) deur die vernuwing van julle gemoed (Hoekom?), sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:2
            Paulus kon sy verlede vergeet omdat hy besig was om te leer hoe om elke gedagte te verwerp sodat die Heilige Gees sy lewe kon oorneem en beheer.
            Lig verdryf duisternis.
            In Fil 4:8 sê Paulus waaraan ons moet dink: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
            Bemoedig jouself, maar ook ander, hierin.
            God sal ingryp sodra ek en jy Hom toestemming gee om dit te doen en ons dan letterlik ons hande en denke tuis te hou, sodat God die mense en situasie kan uitsorteer.               In Jes 43:18-19 sê die HERE: “Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.
            “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.”
            Die HERE wil iets nuut maak in jou lewe, maar Hy kan nie terwyl jy in die verlede ronddwaal en jouself bejammer of verbitterd is nie.
            Daar is ook ‘n waarskuwing in hierdie verband: “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
            “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
            “en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15
            Ons kan nie die heiligmaking najaag terwyl ons in die verlede leef nie. As ons in die verlede leef veragter ons in die genade van God.
            Komaan, vergeet die verlede, rig die slap hande en verlamde knieë weer op, en maak reguit paaie vir jou voete, sodat, wat kreupel is, nie uit lit uit raak, maar liewer gesond word.
            Deur in die verlede te leef, beroof jy jouself van blydskap en ryke seëninge uit die hand van die HERE. God wil ‘n nuwe ding in jou en my lewens doen.
            Is jy verbrysel deur lewensomstandighede, jou gees geknak, jou hart bedroef? Dit gaan nie soseer oor wie daarvoor verantwoordelik was nie, maar daaroor dat jy so gou moontlik uit daardie situasie moet uitkom.
            Die HERE staan gereed om jou te help. Dit wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper in jou lewe verslind het, wil die HERE vir jou teruggee. Joël 2:25
            Die HERE sê verder in Jes. 56:15 “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (waar nog?) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”
            As jy nie die verbryselde is nie, dan is dit jou taak, jou Godgegewe opdrag, om die verbryseldes op te help. Maar jy wat verbryseld is, hoe lank wil jy nog jouself bejammer, ‘n smartvraat wees – en dit terwyl die HERE jou genadiglik nuut wil maak?
            Nie net wil die HERE jou gees laat herlewe nie, maar Hy wil ook dit wat die sprinkaan verslind het aan jou teruggee. God is ‘n Waarmaker van sy Woord. Ook het Hy nog nooit sy Woord verbreek nie.
            Komaan, die grootste verassing van jou lewe wag op jou – jou Vader wil jou terug verwelkom en ‘n feesmaal met jou geniet.
            Daar is geen kortpaaie Hemel nie. Moenie ‘n nuwe Toring van Babel vir jouself bou nie. Dit sal nie werk nie. Maak eerder jou saak reg en kom vry!
            En aan die einde sal ons soos Paulus kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.
            “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” 2 Tim 4:7-8 – Sjibbolet

Verlore Skaap




Teruggebring


Luk 15:3-7: "Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor...gaan (nie) agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?" (vs. 4).

Charles Colson, 'n voormalige assistent van pres. Richard Nixon, is tronk toe gestuur vir sy aandeel aan die Watergate-skandaal. In die tronk het hy C. S. Lewis se boek "Mere Christianity" gelees en tot bekering gekom. Hy het oor sy bekering 'n boek, "Born Again", geskryf.

Die boek se verskyning het 'n uitputtende bekendstellingstoer, vir hom en sy vriend, Fred Denne, tot gevolg gehad. Hulle het een aand te laat vir ete by hulle hotel aangekom. Hulle is na 'n koffiehuis toe om iets te ete te kry. Die plek het 'n Spaanse atmosfeer gehad: rooi teëlvloer, smeeyster stoele en tafels. 'n Kelnerin in 'n pienk uniform het hulle bedien. Vir albei manne het sy na 'n verhoogster gelyk: blonde hare, mooi gesig. "Twee omelette, een tee en een koffie," bestel Fred.

Sy loop om hulle kos te gaan haal. Hulle bespreek kortliks hulle program van die volgende dag, toe buig hulle hul hoofde om die Here vir Sy seën op hulle rit te dank en ook Sy seën oor hulle kos te vra. Hulle bid langer as wat hulle bedoel het, want hulle ervaar soveel seën om die Here voor te dank.

Toe hulle amen sê en hulle koppe oplig, staan sy reeds met die omelette in die hand by hulle en wag. "Haai," vra sy hardop, "het julle ouens gebid?" Almal in die vertrek hoor haar en 'n paar koppe draai in hulle rigting. "Ja," antwoord Colson, ons het gebid." "Joe, dis netjies. Ek het nog nooit iemand hier sien bid nie," sê sy weer met haar helder stem. "Is julle predikers?"

Hulle antwoord, nee, maar sy hou aan vrae vra. Dan sê sy: "Ek is 'n Christen. Ten minste ek was een." "Wat het gebeur?" vra die twee manne amper gelyk. "Ek het as tienderjarige by 'n jeugdiens Jesus as my Verlosser aangeneem. Toe is ek Hawaii toe. Wel, ek het gaandeweg belangstelling verloor, dink ek. Eintlik vergeet daarvan. Nou's dit verby." "Ek dink nie dit is verby nie," sê Colson. "Jy het dit net vir 'n rukkie eenkant toe gestoot." Dit lyk of die kelnerin diep dink. "Dis snaaks, maar toe ek julle sien bid het ek 'n warmte in my hart gekry."

Hulle praat met haar en dring aan by haar om terug te kom na die Here toe. Hulle vertel van die Verlore Seun, oor die Here Jesus se liefde en vergifnis, oor Petrus wat Jesus verloën het, maar deur die Here terug verwelkom is.

'n Paar dae later sien hulle haar weer. "Haai, julle!" roep sy en kom na hulle toe. Sy vertel sy het dieselfde aand 'n Christenvriend gebel. Hy het haar gehelp om by 'n aktiewe kerk en 'n Bybelstudiegroep aan te sluit. "Ek het teruggekom" eindig sy met 'n blye glimlag. Colson het later geskryf: "Until that night, I had felt awkward at times praying over meals in crowded restaurants. Never again." Dit was 'n manier van die Goeie Herder om Sy wegloopskapie terug te bring.

GEBED: Here, vandag wil ek U ook asseblief help om 'n wegloopskaap terug te bring.  –  Manie Colyn