Wys tans plasings met die etiket 'n Kind van God;. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 'n Kind van God;. Wys alle plasings

Donderdag 15 Januarie 2015

Onthou jy wat jy moet vergeet, of vergeet jy wat jy moet onthou?






Ons gedagtes kan soos ‘n pestilensie wees, soos ‘n plaag. Die meeste van ons is meesters daarin om te onthou wat ons moet vergeet en om te vergeet dit wat ons moet onthou.
            Paulus sê: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel (hoekom?) om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Fil 3:14
            Die verlede se verkeerdhede kan ‘n mens se hele lewe deurmekaar krap, jou onderdruk en met ‘n binding in jou gees laat, soos ‘n blok om jou been.
            Wat ook al in jou verlede gebeur het – ‘n onreg of misdaad wat jy gepleeg het of wat teen jou gepleeg was – dit moet mens vergeet. Ons groot Almagtige God wil jou vrymaak en genees.
            Wat mens soms terughou is die begeerte om dit te beheer wat reeds buite beheer is. Hoe meer mens daarmee sukkel, tree frustrasie in en die probleem vergroot en vervaag jou vrede.
            Ons gedagtes kan soos ‘n pestilensie wees, soos ‘n plaag. Die meeste van ons is meesters daarin om te onthou wat ons moet vergeet en om te vergeet dit wat ons moet onthou.
            Dis verstommend hoe ons die dinge wat ons seergemaak het onthou, daardie onreg en pyn, en kort voor lank is ons ‘n smartvraat. Ons dink net aan ons eie seerkry en help nie ander om van hulle seerkry te genees nie.
            Sommige glo hulle het die seerkry beleef sodat hulle ander met dieselfde seerkry kan bystaan. Dis gevaarlik om mense te beraad wat dieselfde seer as jy oorgekom het. Jou simpatie vir daardie persoon kan maklik in simpatie vir jouself verander.
            Ons bly besig en nogmaals besig want ons glo dat ons dan vergeet, maar in die stil oomblikke dan is ons keer op keer die kunstenaar wat die een balletjie na die ander in die lug opgooi, maar ons kry nie die goed gevang nie, want dit is nie die oplossing nie. Dit bly ‘n frustrerende bose kringloop.
            Die genesing wat ons nodig het wat betref seerkry in die verlede, is in die Bybel te vinde. Daar is geen ander oplossings nie.
            Paulus had ‘n bittere verlede totdat hy die punt bereik het waar hy gesê het: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel (hoekom?) om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”
            Deur jou uit te strek na wat voor is, verdwyn die verlede uit jou lewe, want nou jaag jy na ‘n doel, vorentoe en steeds vorentoe, weg en verder weg van die verlede. Dis ook nie sommer so ‘n doel nie. Daardie doel is om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.
            Om te kan vergeet is geen snelle gebeurtenis nie. Paulus sê “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.
            Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.
            “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Fil 3:12-14
            Paulus erken dat hy nog nie bereik het wat hy beoog nie, maar hy besef dat om die doel te behaal, moet hy ten alle koste die verlede vergeet.
            Paulus het hom so sterk toegespits op die toekoms rakende sy eie heil en die redding van andere dat hy besig was om die verlede vir seker te vergeet.      
            Hy strek hom uit en jaag daarna is ‘n toonbeeld van iemand wat doelgerig en vol ywer is dat hy beslis gaan slaag, kom wat wil.
            Paulus had ‘n veel erger verlede as wat enige van ons ooit kan hê. Hy het teen God rebelleer en was God se openlike vyand deurdat hy Christene in die tronke laat gooi en laat doodmaak het. Hy was ‘n terroris.
            Na sy redding had hy dit ook nie maklik nie. Hy kon nie doen en bereik wat hy wou nie. Hy had ‘n meningsverskil met Barnabas oor Markus, en talle Christene was agterdogtig oor hom en sy bekering.        
            Hy het ook sukses behaal as Christen, iets waarop hy trots kon wees, maar ook dit moes hy van vergeet. Hy kon nie voortbeweeg op suksesse van die verlede nie. Hy was dus vasberade om die totale verlede te vergeet om sy Hemelse doel te kon bereik.
            As jy nog worstel met dinge van die verlede terwyl jy hier lees, sê dan aan God dat jy bereid is om die verlede te vergeet en jou uit te strek na wat voor is!
            Mens moet eenvoudig vergewe en vergeet. Die ander mense wat by jou seerkry betrokke was het lank reeds vergeet en vorder nou op die pad na heiligmaking terwyl jy slagoffer speel en aan die smartspeen suig. Die lewe gaan by jou verby. Jy raak agter.
            1 Pet 5:7 sê dat ons al ons bekommernisse op Hom moet werp. Werp dus jou hele verlede op Hom en vergeet daarvan want ons durf nie die bekommernisse onthou en daarmee voortploeter nie. Werp alle bekommernisse op Hom en vergeet daarvan. Dis nou veilig in God se hande en Hy sorteer dit uit.
            Sal God dit wel kan uitsorteer. Natuurlik! Hy sê in Jer 32:27 “Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?
            Jesus sê in Matt 15:13 “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.”
            God het nie die onreg in jou lewe geplant nie, Hy het nie die misbruike, die molestering, die bedrog of wat ook al in jou lewe geplant nie. Dit is daar geplant deur ander se sonde. God het dit nie geplant nie so Hy gaan dit ontwortel, maar dan moet jy vergeet en Hom dit toelaat.
            Kyk wat sê die HERE nog: “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Matt 25:40
            Wat iemand aan jou (een van God se geringste) gedoen het, het hulle aan Hom gedoen. Die kwaaddoeners is dus by God in die moeilikheid en dis vreeslik om te val in die hande van die Lewende God...
            “Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel.
            “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Heb 10:30-31
            God kom die  wraak toe, nie ons nie.
            Wat ook al in jou verlede gebeur het, watter onreg ook al teen jou gepleeg is, weet dit: God gaan ingryp sodra jy Hom toelaat om dit te doen deur dit aan Hom oor te gee en daarvan te vergeet.
            As dit ‘n onreg is wat jy aan iemand anders gedoen het en jy het God se vergifnis afgesmeek, vergewe dan ook jouself. Solank jy nie jouself vergewe nie, bly jy in binding.
            Natuurlik gaan die satan dit vir jou moeilik maak want, as jy eers vry is, is jy ‘n bedreiging vir sy koninkryk want jy gaan begin getuig, reg lewe en siele gaan gered word.
            God is ‘n waarmaker van sy Woord. In 1 Joh 1:9 sê Hy: “As jy jou sondes bely, ek is getrou en regverdig om jou, jou sonde te vergewe en jou van alle ongeregtigheid te reinig.”
            God reinig jou dus ook van alle ongeregtigheid!
            Ons denke, ons gemoed,  is ons groot probleem. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander (Hoe?) deur die vernuwing van julle gemoed (Hoekom?), sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:2
            Paulus kon sy verlede vergeet omdat hy besig was om te leer hoe om elke gedagte te verwerp sodat die Heilige Gees sy lewe kon oorneem en beheer.
            Lig verdryf duisternis.
            In Fil 4:8 sê Paulus waaraan ons moet dink: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
            Bemoedig jouself, maar ook ander, hierin.
            God sal ingryp sodra ek en jy Hom toestemming gee om dit te doen en ons dan letterlik ons hande en denke tuis te hou, sodat God die mense en situasie kan uitsorteer.               In Jes 43:18-19 sê die HERE: “Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.
            “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.”
            Die HERE wil iets nuut maak in jou lewe, maar Hy kan nie terwyl jy in die verlede ronddwaal en jouself bejammer of verbitterd is nie.
            Daar is ook ‘n waarskuwing in hierdie verband: “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
            “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
            “en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15
            Ons kan nie die heiligmaking najaag terwyl ons in die verlede leef nie. As ons in die verlede leef veragter ons in die genade van God.
            Komaan, vergeet die verlede, rig die slap hande en verlamde knieë weer op, en maak reguit paaie vir jou voete, sodat, wat kreupel is, nie uit lit uit raak, maar liewer gesond word.
            Deur in die verlede te leef, beroof jy jouself van blydskap en ryke seëninge uit die hand van die HERE. God wil ‘n nuwe ding in jou en my lewens doen.
            Is jy verbrysel deur lewensomstandighede, jou gees geknak, jou hart bedroef? Dit gaan nie soseer oor wie daarvoor verantwoordelik was nie, maar daaroor dat jy so gou moontlik uit daardie situasie moet uitkom.
            Die HERE staan gereed om jou te help. Dit wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper in jou lewe verslind het, wil die HERE vir jou teruggee. Joël 2:25
            Die HERE sê verder in Jes. 56:15 “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (waar nog?) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”
            As jy nie die verbryselde is nie, dan is dit jou taak, jou Godgegewe opdrag, om die verbryseldes op te help. Maar jy wat verbryseld is, hoe lank wil jy nog jouself bejammer, ‘n smartvraat wees – en dit terwyl die HERE jou genadiglik nuut wil maak?
            Nie net wil die HERE jou gees laat herlewe nie, maar Hy wil ook dit wat die sprinkaan verslind het aan jou teruggee. God is ‘n Waarmaker van sy Woord. Ook het Hy nog nooit sy Woord verbreek nie.
            Komaan, die grootste verassing van jou lewe wag op jou – jou Vader wil jou terug verwelkom en ‘n feesmaal met jou geniet.
            Daar is geen kortpaaie Hemel nie. Moenie ‘n nuwe Toring van Babel vir jouself bou nie. Dit sal nie werk nie. Maak eerder jou saak reg en kom vry!
            En aan die einde sal ons soos Paulus kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.
            “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” 2 Tim 4:7-8 – Sjibbolet

Die klein jakkalsies verniel die wingerd...




Die klein jakkalsies verniel die wingerd (Hoogl 2:15): Skinderstories waaraan ons, onsself so maklik skuldig maak. “Wie ‘n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ‘n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar.” Spr 17:9
            “Die verstandelose verag sy naaste, maar ‘n verstandige man bly stil.” Spr 11:12
            Iemand het gestruikel, ‘n ander het geval. En wat staan ons dan te doen wat nog staande is, voordat ons ook straks struikel of dalk val?
            “As iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” Gal. 6:1
            Doen ons dit, of kan ons nie wag om die struikelende en die vallende se saak te beskinder nie?
            Paulus bemoedig ons om die regte ding te doen: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.
            Paulus sê ook: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” Gal 6:9-10
            Die HERE sê: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9
            Die HERE sê ook dat hy die een wat gestruikel het of geval het, se sondes werp in die dieptes van die see. Miga 7:19
            Die HERE sê ook: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Ps 103:12
·       Die afstand tussen noord en suid is net-net meer as 20 000km, maar die afstand tussen oos en wes, is onberekenbaar. As twee vuurpyle langs mekaar afgeskiet word, die een oos en die ander wes sal hulle nooit by mekaar uitkom nie.

            As die HERE dan ons sonde wat ons bely en oor jammer is, so ver van ons af verwyder, hoe durf ander Christene dit by herhaling ophaal en teen ons inbring? As jy dit doen, dan sondig jy.
            As jy nie ‘n gevallene ophelp nie, dan sondig jy. As jy sy struikeling of gevallene beskinder dan doen jy ‘n nog erger sonde.
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (en waar nog?) en by die verbryselde en nederige van gees, (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
            Vraag is: Waar woon of beweeg jy?
            As jy in geselskap beland waar iemand beskinder word, neem standpunt in en gebruik hierdie Skrifte om die skindertonge te berispe. Een of ander tyd sal die nuus van jou tussenbeitreding die gevallene bereik en julle vriendskap met hom of haar versterk.
            Maar as jy saam skinder het jy die toets gedop! Dan het jy nie Bybelse beginsels voorop gestel nie.
            Maar wees reguit, altyd. “‘n Man wat sy naaste vlei, sprei ‘n net uit voor sy voetstappe.” Spr 29:5
            “Die regverdige laat sy pad vir hom wys deur ‘n vriend; die goddeloses verdwaal op die pad wat hulle self kies.” Spr 12:26
            “Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.” Spr 27:6
            “Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered.” Spr 11:9
            Vriende en ander wat jou op hierdie wyse leer ken, sal jou met eerbied behandel. Hulle sal graag jou raad wil vra, graag op jou vertrou. Dit beteken egter dat ons na ander se raad ook sal luister.
            Christenskap is nie soseer om vir almal te vertel jy is ‘n Christen nie, maar om vir ander te wys jy is ‘n Christen, ‘n kind van GOD.
            In Israel en in ander lande durf sendelinge dit nie waag om die Evangelie te verkondig nie. Dit word verbied. Maar die sendelinge verkondig die Woord deur hul lewenswandel. Dit geld ook vir ons. – Sjibbolet