Saterdag 10 Januarie 2015

God ken ons vir seker...


 


Ps 139:1-6: "U ken my gedagtes...U is met al my paaie goed bekend...Daar is nog nie 'n woord op my tong nie, of U, Here, weet wat dit gaan wees" (vs. 2,3,4).

“Treffend en vermanend,” was dr. Benjamin Jowette, sendeling en Hervormer, se antwoord toe 'n vrou vir hom vra: “Dr. Jowette, wat dink ú van God?” “Dít, liewe dame, dink ek is 'n onbelangrike vraag” het hy geantwoord. “Al wat tel, dink ék, is: Wát dink God van my?”

Dr. Jowette was gedeeltelik reg. Dit maak saak wat ons van God dink, want die mate van ontsag wat ons vir God het, bepaal hoe belangrik ons lewensgedrag vir ons is, omdat God dit sien en ons Hom wil tevrede stel. Wíl ons God behaag? Máák dit vir ons saak wat God van ons dink? As ons min ontsag vir God het, traak dit ons nie eintlik hoe ons voor Hom lewe nie.

Van 'n paar mense in die Bybel lees ons wat God se opinie oor hulle was. Vir die rykman, in Jesus se gelykenis van Lasarus en die Rykman, het God gesê: "Jou dwaas" (Luk. 12:20). Oor Dawid het God gesê: "'n Man na my hart" (Hand. 13:22). Vir Simon van Samaria het Petrus gesê: "Jou hart is nie reg voor God nie" (Hand. 8:22). Oor God se beoordeling van Jesus, skryf Petrus vir ons van sy ervaring op die berg van verheerliking: "...met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: 'Dit is my Seun oor wie Ek My verheug.'" (2 Pet. 1:17). Dit is hierdie behae wat God in Christus gehad het, wat in ons guns tel, want as ons in Jesus as Verlosser vertrou, word Sy verdienste op ons rekening geplaas.

GEBED: Here, vandag wil ek U plesier met my lewe.