Donderdag 15 Januarie 2015

Kyk wat met lofprysinge vermag kan word.





Verstommend hoe geseënd ons werklik is!

Ons beleef almal van tyd tot tyd hopelose situasies, of, dis hoe dit lyk. Ons word depressief omdat ons vergeet dat die kragte van die Hemel in ons is om enige situasie om te keer.

Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, ons is beslis geseënd. Let op die volgende:

Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op Lofprysinge want ons is reeds geseën.

Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32. Weer berus ons triomf op Lofprysinge want Hy skenk ons alles genadiglik.

Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste ontvanger. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.

Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.

Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge want ons is reeds genees.

Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe.

“Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.

Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.

Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13

God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6

Mens moet jouself met Lofprysinge beklee. Jubel altyd(!) in die HERE.

Habakuk wys ons hoe dit gedoen moet word: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17



Halleluja!
Sing tot eer van die Here ‘n nuwe lied,
          Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
          Laat Israel (dit is ons)hom verheug in sy Maker;
          Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
         Laat hulle Sy naam loof in koordans,
          Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
          (Hoekom?)
          Want die Here het ‘n welbehae in Sy volk;
          Hy versier die ootmoediges met heil.
          Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
(Hoekom?)
om wraak te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
(Hoekom?)
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja! —Ps 149