Donderdag 15 Januarie 2015

Ons, die Wedergeborenes, is die Nuwe Tempel



God leef nie langer in ‘n tabernakel, sinagoge of geboue wat met menslike hande gebou is nie. God se glorieryke manifesterende teenwoordigheid vind ons nie meer in tempels van graniet, goud en halfedelgesteentes nie, maar liewer in Jesus Christus.
          Die tempel van die Ou Verbond was ‘n tipe voorskou van die komende glorie van Christus. In die tempel van ouds was die Wet van Moses bewaar. Jesus is nou die vervulling daarvan. Nou hoor en sien en ontmoet ons God in Jesus Christus.
          Israel van ouds het God in die tempel aanbid waar God met Sy mense gepraat het. Ons aanbid God in Gees en in Waarheid ongeag die geografiese opset.
          “Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.” Joh 4:20-21
          Ons, die liggaam van Christus, is die nuwe Tempel. Ons aanbid God enige plek, enige tyd, alleen, in paartjies of in groepe. Die heerlikheid van God is nou permanent en kragtiglik inwonend in ons. Paulus praat met die Efesiërs oor die hoeksteen van hierdie nuwe Tempel. Hy stel dit so:
          “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” Efes 2:19-22
          Dis hoe eenvoudig dit is. God woon nie meer in ‘n tempel in Jerusalem nie, ook nie net in die Hemel nie, maar in sy liggaam, ek en jy, op aarde. Die liggaam (kerk) van Christus is nie ‘n organisasie nie, maar ‘n organisme.
          Ons, ek en jy, is die lewende boustene van hierdie nuwe Tempel. “En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” 1 Pet 2:5
          Die bou van die nuwe Tempel is ‘n voortdurende proses waar “die Here  daagliks by die gemeente voeg die wat gered is.” Hand 2:47
          Jesus sê hy gaan die aardse tempel afbreek en in drie dae opbou, en die Jode reageer so: “En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.
          “En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.” Joh 2:20-22
          En toe kom Pinsterdag waar Jesus sy dissipels doop met die Heilige Gees en so Sy liggaam bekragtig om voort te gaan en die nuwe Tempel te bou.
          En ons as lewende boustene word met liefde (as bindmiddel) in die Tempel ingemessel: “Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saam verbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” Efes 4:15-16
          ‘n Tempel moet ‘n fondament hê: “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.” 1 Kor 3:11
          Christus is die fondament en ook die hoeksteen: “Terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” Efes 2:20.
          Paulus beskryf die nuwe Tempel verder in 1 Kor 3:16-17 “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”
          Ons, ek en jy wat gered is, behoort geheel en al aan Christus: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 1 Kor 6:19-20
          Waar is die Koninkryk van God? “En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” Luk 17:21.
          As kind van God verkeer ons in ‘n baie belangrike posisie: Sy Gees in ons, ons elk ‘n bousteen, deel van Sy koninkryk… dit beteken ons is prinse en prinsesse in die Koninkryk.
          Hierdie nuwe Tempel is reeds in Eseg 11:17; 20:34, 41 en Sam 7:14 voorspel. Eseg 37:26-27 lees: “En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle vir my ‘n volk wees.”
          Al die gepraat en beplanning van ‘n Derde tempel wat in Jerusalem gebou gaan word, het niks met die gelowiges, ek en jy, te doen nie. Ons is lewende boustene in die lewende Nuwe Tempel, Christus Jesus.
          Maar wat dan van die nuwe fisiese derde tempel wat in Jerusalem gebou gaan word? Die antwoord is in Matt 23-24.
          God het die aardse tempel verlaat. “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” Matt 23:38
          Toe Jesus sterf skeur die voorhangsel en die tempel was nie meer God se huis nie. “En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur.” Matt 27:51
          God sou nooit weer in ‘n tempel woon wat met fisiese materiale en hande gebou is nie. Wat die aardse gebou betref was dit Ikabod, die Glorie het vertrek.
          Die tempel is vernietig, geen steen het opmekaar gebly nie. Drie dae later staan Hy op en Hy is die nuwe fondament van die nuwe Geestelike Tempel waarvan ons die geestelike boustene is.
          Natuurlik is dit moontlike dat iemand eendag ‘n nuwe aardse tempel in Jerusalem kan bou, maar dit raak nie die Wedegeborenes nie. Die enigste plek op aarde waar God nou woon is in die liggaam van Jesus Christus, ons, ek en jy.
          Die fisiese bou van ‘n tempel in Jerusalem gaan geweldige politieke en militaristiese konflik tot gevolg hê.
          Dis wat Paulus oor die betrokke tempel sê: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf (die Antichris) die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
          “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou (die Heilige Gees), sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.” 2: Thes 2 3-6
          In 1980 het die Israelse regering Jerusalem tot hoofstad van Israel,verklaar. Dit het skokgolwe deur die wêreld gestuur en dertien lande het dadelik hul ambassades in Jerusalem gesluit en na Tel Aviv verskuif.
          Geen land erken Jerusalem as hoofstad van Israel nie. Die enigste wat dit wel as hoofstad erken is die gelowiges wat in dieselfde jaar ‘n internasionale Christen ambassade daar gevestig het. Die ambassade floreer.
          As dit gebou gaan word, dan sal dit vir ons as Liggaam van Christus, as Tempel van Christus, geen eskatologiese of Skriftuurlike betekenis hê nie.
          “Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
          “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” 2 Kor 6:16-18    
          Ons lewens moet deurentyd ons geheiligde en glorieryke identiteit weerspieël. – Sjibbolet