Wys tans plasings met die etiket Wedergeborenes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Wedergeborenes. Wys alle plasings

Saterdag 09 Mei 2015

God voorsien altyd...


Image result for olie kruik


1 Kon 17:8-16: "Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het" (vs. 14).

Anna Elizabeth Retief (Ouma Hamman), die derde van agt kinders, is op 4 Julie 1874 op Graaff-Reinet  gebore. Sy het onderwyseres geword en haar studies voltooi deur by  maanlig en kerslig te studeer. Soms het sy selfs vuurhoutjies getrek om by dié lig te studeer. Sy was vooruitstrewend en het baie goed op skool sowel as die kollege presteer. Mej. Helen Murray, ‘n suster van dr. Andrew Murray, was destyds hoof van die seminarie.

Dit was in hierdie tyd dat sy die Wedergeboorte deelagtig geword het. Die HERE het die Heilsleër en die South African General Mission, waarvan Dr. Murray ‘n stigterslid was, gebruik om haar tot die Lig te bring.

Anna, beter bekend as Ouma Hamman, is reeds 'n paar dekades gelede op hoë ouderdom oorlede. Sy was 'n merkwaardige vrou van gebed. Tydens die Boereoorlog was sy in 'n konsentrasiekamp, wat bestaan het uit ontruimde huise in Barberton. Haar suster met haar twee kinders was saam met Ouma Hamman in die huis. Weens die hitte van daardie streek het die suster siek geword. Die goedige kampkommandant het besluit om haar na Graaff-Reinet, na haar ouerhuis, toe te stuur.

Sy moes net vir haar eie padkos sorg. Ouma Hamman en sy het besluit dit gaan die beste uitwerk as sy 'n groot baksel beskuit kan saamneem. Met versigtige sorgsaamheid het hulle die bestanddele vir die beskuit bymekaar gekry. Die vet wat hulle nodig gehad het, was egter onbekombaar – van botter nie eens te praat nie! Hulle het, soos altyd, hulle toevlug tot die Here geneem. Maar om vet vir 'n baksel beskuit, in die oorlog, in die konsentrasiekamp, te bekom, was 'n moeilike een. Ouma Hamman vertel dit so:

"Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek nog kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my op 'n tafeltjie. Ek bid met 'n swaar hart: 'My Vader, het U my dan hierdie keer vergeet?' Op daardie oomblik kom muilwaens met die troepe se kosvoorraad met groot geraas verbygejaag. 'n Harde klop hamer op die voordeur. Ek gaan maak haastig oop. Voor die deur staan 'n hygende soldaat met 'n yslike blik vet in sy hande. 'Dit het van die wa afgeval. Wil jy dit hê?' Sonder om vir 'n antwoord te wag, rol hy die blik in die gang in en laat vat agter die wa aan.

Jesus self het gesê: “Alle dinge is moontlik vir die een wat glo" (Mar 9:23). "Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie" (Ps 55:23)

Woensdag 04 Maart 2015

Die Wederkoms van Christus — ‘n Kragtige Motivering!


Image result for 2nd coming of jesus


Die Wederkoms van Christus en die Eindtye is nie onderwerpe vir nuuskierigheid nie. Die hoop (toekomsfeit) van Sy terugkeer is ook nie ‘n ontvlugting vir die Christene nie.
            Dit is ook nie ‘n verskoning vir selfvoldaanheid nie, ook nie ‘n alibi vir onbetrokkenheid nie.
            Inteendeel, dit moet ons aanspoor tot heiligmaking, tot evangelisasie en gehoorsaamheid!
            Dit is ‘n motivering om God se werk op aarde ons eie te maak, want Christus het gesê: “Dryf handel daarmee totdat Ek kom.” Luk. 19:13.
            Dit is ook ‘n motivering vir ons om gereed te wees: “Daarom moet julle ook gereed wees omdat die Seun van die mens kan kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie!” Matt. 24:44.
            Verder moet dit ons aanspoor tot heiligmaking: “En nou my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggestuur word by Sy wederkoms nie. 1 Joh. 2:28.
            Baie wil altyd hoe alles met die Wederkoms gaan verloop. Feit is, die Wederkoms is nie in ons hande nie. Kom ons bepaal ons liewer by dit wat van ons verwag word vir die Wederkoms: Die redding van siele en dat ons sonder vlek of rimpel moet wees .
            Martin Luther het gesê: “Ons is veronderstel om te glo en te lewe asof Christus gister gesterf het, vandag opgestaan het en more gaan kom.”
            Evangelis W.C. Moore haal op sy beurt Efes. 5:14 aan: “Daarom sê Hy :  Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”
            Moore gaan voort: “Mense sê, maar die Kerk is aktief, daar is beweging onder die gelowige Bybel-Christene.”
            Dit is so, daar is ‘n roering in die vallei van doodsbeendere (Eseg. 37) en daar is ‘n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse (2 Sam. 5:24), maar saam daarmee is daar onmiddellik die opdrag: Jy moet gou maak, want dan het die HERE het voor jou uitgetrek.
            Ons werke is allig dooie werke (Heb. 9:14), daardie dinge waarvan ons juis ontslae moet raak. Elkeen van ons het die magtige lewegewende krag van die Heilige Gees nodig om diensbaar vir God te wees.
            Die opdrag is: Word vervul met die Heilige Gees. (Efes. 5:18). Laat die kinders eerste versadig word. (Mark. 7:27).
            Ons, jy en ek, is gered om die Koninkryk te help bou: Ons is medewerkers saam met God. (1 Kor. 3:9).  Ons bou die Koninkryk saam met Hom.
            Ons herinner onsself gereeld daaraan dat die Christene vir ‘n magtige herlewing moet bid. Baie dankie vir diegene wat dit so getrou doen. Die bid en die werke gaan egter saam. Ons nooi jou, kom raak betrokke. Ons smag na strome van seën van bowe.
            Christus wou Lasarus opwek, maar die familie en die vriende moes die steen voor die graf wegneem. Ook hulle moes help sodat ‘n wonderwerk kon plaasvind.
            In strofe 44, nadat Lasarus opgewek was, vra Christus weer die omstanders moet help: Maak hom los en laat hom gaan.
            Die oes is inderdaad groot en die arbeiders inderdaad min. Hier is vir jou ‘n gulde geleentheid om betrokke te raak. Bid en versprei die Evangelie.
            Jes. 56:1: So sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want My heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word.
            Jes. 57: Vul op, vul op, berei die weg, verwyder die struikelblokke uit die weg van My volk. (hoekom?)
            Want so sê die Hoë en die Verhewene wat in ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (maar Hy woon ook) by die verbryselde en nederige van gees. (hoekom?)
            Om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.
            Inderdaad heel Jesus die gebroke harte en mense herleef.
            Christus sê in Efes. 5:23: Die nag kom, wanneer geen mens meer kan werk nie. – Sjibbolet

Donderdag 15 Januarie 2015

Ons, die Wedergeborenes, is die Nuwe Tempel



God leef nie langer in ‘n tabernakel, sinagoge of geboue wat met menslike hande gebou is nie. God se glorieryke manifesterende teenwoordigheid vind ons nie meer in tempels van graniet, goud en halfedelgesteentes nie, maar liewer in Jesus Christus.
          Die tempel van die Ou Verbond was ‘n tipe voorskou van die komende glorie van Christus. In die tempel van ouds was die Wet van Moses bewaar. Jesus is nou die vervulling daarvan. Nou hoor en sien en ontmoet ons God in Jesus Christus.
          Israel van ouds het God in die tempel aanbid waar God met Sy mense gepraat het. Ons aanbid God in Gees en in Waarheid ongeag die geografiese opset.
          “Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.” Joh 4:20-21
          Ons, die liggaam van Christus, is die nuwe Tempel. Ons aanbid God enige plek, enige tyd, alleen, in paartjies of in groepe. Die heerlikheid van God is nou permanent en kragtiglik inwonend in ons. Paulus praat met die Efesiërs oor die hoeksteen van hierdie nuwe Tempel. Hy stel dit so:
          “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” Efes 2:19-22
          Dis hoe eenvoudig dit is. God woon nie meer in ‘n tempel in Jerusalem nie, ook nie net in die Hemel nie, maar in sy liggaam, ek en jy, op aarde. Die liggaam (kerk) van Christus is nie ‘n organisasie nie, maar ‘n organisme.
          Ons, ek en jy, is die lewende boustene van hierdie nuwe Tempel. “En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” 1 Pet 2:5
          Die bou van die nuwe Tempel is ‘n voortdurende proses waar “die Here  daagliks by die gemeente voeg die wat gered is.” Hand 2:47
          Jesus sê hy gaan die aardse tempel afbreek en in drie dae opbou, en die Jode reageer so: “En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.
          “En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.” Joh 2:20-22
          En toe kom Pinsterdag waar Jesus sy dissipels doop met die Heilige Gees en so Sy liggaam bekragtig om voort te gaan en die nuwe Tempel te bou.
          En ons as lewende boustene word met liefde (as bindmiddel) in die Tempel ingemessel: “Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saam verbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” Efes 4:15-16
          ‘n Tempel moet ‘n fondament hê: “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.” 1 Kor 3:11
          Christus is die fondament en ook die hoeksteen: “Terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” Efes 2:20.
          Paulus beskryf die nuwe Tempel verder in 1 Kor 3:16-17 “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”
          Ons, ek en jy wat gered is, behoort geheel en al aan Christus: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 1 Kor 6:19-20
          Waar is die Koninkryk van God? “En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” Luk 17:21.
          As kind van God verkeer ons in ‘n baie belangrike posisie: Sy Gees in ons, ons elk ‘n bousteen, deel van Sy koninkryk… dit beteken ons is prinse en prinsesse in die Koninkryk.
          Hierdie nuwe Tempel is reeds in Eseg 11:17; 20:34, 41 en Sam 7:14 voorspel. Eseg 37:26-27 lees: “En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle vir my ‘n volk wees.”
          Al die gepraat en beplanning van ‘n Derde tempel wat in Jerusalem gebou gaan word, het niks met die gelowiges, ek en jy, te doen nie. Ons is lewende boustene in die lewende Nuwe Tempel, Christus Jesus.
          Maar wat dan van die nuwe fisiese derde tempel wat in Jerusalem gebou gaan word? Die antwoord is in Matt 23-24.
          God het die aardse tempel verlaat. “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” Matt 23:38
          Toe Jesus sterf skeur die voorhangsel en die tempel was nie meer God se huis nie. “En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur.” Matt 27:51
          God sou nooit weer in ‘n tempel woon wat met fisiese materiale en hande gebou is nie. Wat die aardse gebou betref was dit Ikabod, die Glorie het vertrek.
          Die tempel is vernietig, geen steen het opmekaar gebly nie. Drie dae later staan Hy op en Hy is die nuwe fondament van die nuwe Geestelike Tempel waarvan ons die geestelike boustene is.
          Natuurlik is dit moontlike dat iemand eendag ‘n nuwe aardse tempel in Jerusalem kan bou, maar dit raak nie die Wedegeborenes nie. Die enigste plek op aarde waar God nou woon is in die liggaam van Jesus Christus, ons, ek en jy.
          Die fisiese bou van ‘n tempel in Jerusalem gaan geweldige politieke en militaristiese konflik tot gevolg hê.
          Dis wat Paulus oor die betrokke tempel sê: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf (die Antichris) die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
          “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou (die Heilige Gees), sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.” 2: Thes 2 3-6
          In 1980 het die Israelse regering Jerusalem tot hoofstad van Israel,verklaar. Dit het skokgolwe deur die wêreld gestuur en dertien lande het dadelik hul ambassades in Jerusalem gesluit en na Tel Aviv verskuif.
          Geen land erken Jerusalem as hoofstad van Israel nie. Die enigste wat dit wel as hoofstad erken is die gelowiges wat in dieselfde jaar ‘n internasionale Christen ambassade daar gevestig het. Die ambassade floreer.
          As dit gebou gaan word, dan sal dit vir ons as Liggaam van Christus, as Tempel van Christus, geen eskatologiese of Skriftuurlike betekenis hê nie.
          “Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
          “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” 2 Kor 6:16-18    
          Ons lewens moet deurentyd ons geheiligde en glorieryke identiteit weerspieël. – Sjibbolet